Pike en sy ouer broer, Gage, van Colorado in Amerika, het buite hul huis gespeel. Pike het teen ’n helling straataf na die bure se huis gestap toe ’n bergleeu hom aanval.

“Ek het net aanhou slaan en na enigiets gegryp wat ek kon. Ek kry toe ’n stok en probeer sy oog uitsteek, maar die stok het gebreek,” vertel Pike.

Die bergleeu van sowat 30 kg het Pike na ’n nabygeleë boom begin sleep. Sy broer het intussen huis toe gehardloop en hul pa, Ron, gaan roep.

Pike se kop was in die bergleeu se bek; ek kon sien hoe hy aan Pike se kop kou.

Ron het ’n mes gegryp. Toe hy by die groot kat kom, sien hy Pike is teen die grond gedruk met sy kop in die dier se bek.

“Ek kon sien hoe die bergleeu aan sy kop kou. Ek dink dit is toe dat ek heeltemal geknak het,” het Ron aan ’n TV-stasie gesê.

Ron het verbete geveg en kon eindelik daarin slaag om die bergleeu te laat los. Dié het op die vlug geslaan.

“Die hele een kant van my seun se gesig was oop en daar was bloed oral oor hom,” onthou Ron.

Pike het intussen al drie operasies ondergaan, maar hy sterk tans by die huis aan.

Die bergleeu wat Pike aangeval het, was ’n eenjarige mannetjie. Hy en ’n ander mannetjie is kort ná die voorval van kant gemaak toe hulle by die karkas van ’n bok betrap is.

Bronne: usatoday.com, coloradoan.com