Marius Csampar (45), wat in 1997 skuldig bevind is aan die moord op ses mense, waarvan een onthoof is, het ’n YouTube-kanaal begin waarop hy vrae van nuuskieriges beantwoord en raad verskaf.

In ’n video sê die voormalige gevangene: “Ek kan niemand oordeel nie en mense moet my nie oordeel nie. Ek glo in God en julle moet ook.

 Marius Csampar
Marius by sy ma se graf. Foto: CEN/Magazinefeatures.co.za

“Baie van julle weet van my, verstaan die foute wat ek in my jeug gemaak het, maar baie van julle veroordeel my ook. My raad aan julle is dat julle ten minste die man moet ken voor julle hom oordeel. Hom beter ken.” 

Luidens berigte het die reeksmoordenaar ook ’n bankrekening geopen waar kykers skenkings vir sy video’s kan maak.

Volgens sy YouTube-kanaal het hy reeds vyf video’s in twee weke geplaas wat meestal tussen 10 000 en 30 000 keer gekyk is en het hy nou al meer as 5 000 intekenare. 

Sy video’s lok ook advertensies wat inkomste sal beteken as hy die regte getal ondersteuners en kykslae kry.

Marius is in 1997 tot 99 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy ses moorde gepleeg het. Onder sy slagoffers was ’n 84-jarige vrou en ’n hawelose man wat onthoof is voor sy lyk in ’n dam gegooi is. 

 Marius Csampar
Luidens berigte het die reeksmoordenaar ook ’n bankrekening geopen waar kykers donasies vir sy video’s kan maak. Foto: CEN/Magazinefeatures.co.za

Marius is uit die Drobeta Turnu Severin-tronk in die Roemeense distrik Mehedinti vrygelaat nadat hy 22 jaar van sy tronkstraf uitgedien het.

’n Hofverklaring lui: “Die hof meen die vonnistydperk wat op 17 April 1997 begin het, is nou voldoende om vir die gevangene parool te gee om met sy verbetering en herintegrasie tot die samelewing te help.”