Jaun Slabbert in die hospitaal nadat 'n swart mamb
Jaun Slabbert in die hospitaal nadat 'n swart mamba hom gepik het. Foto: Verskaf.

Boonop was Jaun Slabbert (24), ’n gif-ontrekkingsbestuurder, weer enkele dae ná die voorval by die werk – besig om slange te hanteer!

“Dit was ongelooflik seer en beslis nie iets wat ek weer wil beleef nie,” vertel Jaun aan Huisgenoot.

“Ek is nou baie versigtig. Dit was beslis ’n reuse wake-up call gewees,” sê hy.

15 uur ná die slang hom gepik het.
15 uur ná die slang hom gepik het. Foto: Verskaf.

'n Vriend van Jaun, wat ook ’n gekwalifiseerde slangvanger is, het op Donderdag 11 Maart vir hom 'n beseerde swart mamba na sy huis op Witrivier in Mpumalanga gebring. Die vriend het die slang van sowat 2,6 meter lank by 'n nabygeleë nedersetting gaan red. 

Jaun, wat by Lowveld Venom Suppliers werk, se vriend het die slang vir hom gebring omdat hy meer ervaring gehad het met onder meer om die slang se wonde te behandel. Jaun sou die volgende dag die slang na die laboratorium by sy werk neem.

“Daar was bloed op die vloer waar my vriend die slang gaan vang het, want die mense het dit met ’n pyp probeer doodslaan,” verduidelik Jaun.

Jaun werk nou al vir sowat twee jaar met slange.
Jaun werk nou al vir sowat twee jaar met slange. Foto: Verskaf.

Jaun was besig om die slang te hanteer toe dit hom skielik op sy maermerrie, net onder sy knie, pik.

“Ek het die slang uit die emmer gehaal en net soos ek hom agter die kop wou vat om dit veiliger te maak, toe glip hy uit die tang uit,” sê hy.

“Ek het aanvanklik nie eers die pik self gevoel nie. Ek was meer teleurgesteld dat dit eintlik gebeur het,” verduidelik Jaun.

Dit het eers gevoel of die beseerde slang net teen hom stamp sodat dit kon wegkom, maar al was dit die eerste keer wat Jaun deur ’n slang gepik is, het hy byna onmiddellik besef iets is fout toe sy been begin slaap.

Net 'n minuut of twee later het Jaun begin om “pins and needles” van die bytwond af na sy voet te voel. En binne tien minute het die gevoel na sy kop beweeg.

Jaun saam met 'n rinkhals.
Jaun saam met 'n rinkhals. Foto: Verskaf.

Gelukkig was sy pa, Jacques, ook by die huis gewees om met die slang te help en kon hulle dadelik die sowat 15 minute na die Kiaat- privaat hospitaal aandurf.

“Ek is ongelooflik gelukkig dat ons so naby aan die hospitaal is. As ek enigsins verder was kon dit baie erger gewees het, en sou ek moontlik nie vandag hier gewees het nie,” vertel Jaun.

Jaun is dadelik met hoofsaaklik teengif en adrenalien behandel en ’n paar uur later kon hy darem weer praat, sy arms beweeg en sy oë oopmaak.

Lowveld Venom Suppliers, waar hy werk, verkry gif van slange. Die gif word dan weggestuur sodat ’n teengif vervaardig kan word – nes  die teengif wat Jaun se eie lewe nou gered het.

Jaun hanteer 'n groen mamba op sy eerste dag terug
Jaun hanteer 'n groen mamba op sy eerste dag terug by die werk. Foto: Verskaf.

Die Dinsdag ná die voorval was Jaun weer op sy pos en het hy met groen mambas gewerk, en daardie Donderdag, presies ’n week ná die voorval, moes hy weer ’n swart mamba hanteer.

“Dis alles in jou kop. Ek dink as ek vir twee of drie weke by die huis gebly en nie met slange gewerk het nie, dan sou ek beslis ’n mental block beleef het,” verduidelik Jaun.

“Maar ek dink omdat ek weer so vinnig by die werk was, en mense om my gehad het wat my bygestaan het, het dit my baie gehelp om my selfvertroue terug te kry,” voeg hy by.

Hopelik kan Jaun voortaan praat van sy twee slangpikke op daardie dag in Maart – sy eerste én sy laaste. Want kyk, dis beslis ’n pyn wat hy nooit weer wil beleef nie!

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe