Volgens 'n studie gedoen deur die dierebeskermingsvereniging van Brittanje, ervaar 45 persent van alle honde vrees wanneer hulle harde geluide hoor.

Voeg daarby gemiddeld 65 persent van hul mense-eienaars wat angstig raak namens hul diere wanneer die vuurwerke ontplof en jy het 'n moeilike en ontstigtelike aand wat voorlê.

Meer troeteldiere hardloop weg wanneer klappers geskiet word as enige ander tyd van die jaar. As jou diere ook die hasepad kies, sal naamplaatjies of mikroskyfies hulle help uitken sodat hulle gou weer tuis kan wees.

Prof. Neil Evans van die Glasgow-instituut vir biodiversiteit en dieregesondheid, beweer honde het nes hul mense, ook bepaalde musiekvoorkeure.

"Reggae en sagte rock-musiek het die meeste positiewe reaksies in gedrag uitgelok," het hy aan die Manchester Evening News gesê.

Die Skotse dierebeskermingsvereniging het volgens The Mirror bevind honde se stresvlakke het aansienlik gedaal nadat daar musiek vir hulle in hul hokke gespeel is.

Dus, as jy Bob Marley, Foreigner en Fleetwood Mac vanaand byderhand het, is dit 'n goeie idee om saam met jou vierpotige vriende daarna te luister.

Wenke sal help om jou diere ontspanne en veilig te hou

Neem jou hond vir 'n stewige oefensessie deur die loop van die dag.?

As dit moontlik is, bly saam met jou diere tuis as jy dink vuurwerk gaan in jou buurt afgeskiet word.

Maak hulle in die huis toe wanneer jy nie daar kan wees nie.

Maak seker jou troeteldiere het toegang tot hul geliefde “veilige plek” of tot ’n stil, gemaklike, toe vertrek waarin hulle kan, sou hulle wou.

Maak seker hulle kan nie by ’n deur of venster uitkom nie.

Probeer die lawaai verbloem deur die gordyne toe te trek en rustige musiek teen ’n aanvaarbare volume te speel.

Plaas bekende en gerusstellende items by hulle, soos speelgoed en mandjies.

Gee hulle iets om te doen, soos ’n gunsteling kouding vir jou hond of ’n kattekruid-speelding vir katte.

Moenie met jou troeteldier raas nie, dit sal die angstigheid net verhoog.

Maak seker daar's voldoende water binne bereik van jou troeteldier. Angstigheid laat hulle vinniger asemhaal en dit verhoog die behoefte aan water.

As jou troeteldiere sleg op klappers reageer, kry betyds raad by jou veearts.

Speellys vir jou beste vriend



Bykomende bron: positively.com, wikihow.pet