Christopher Robinson, ’n digter en skrywer, het Amanda (31) ontmoet toe sy ’n resensie van sy boek vir ’n plaaslike tydskrif moes skryf. Die liefde het geblom en die afgelope naweek het hy haar op sy eiesoortige manier gevra om met hom te trou.

Hy het spookagtige beligting, die klankbaan van die fliek E.T. the Extra-Terrestrial en ’n smeulende vals meteoriet-rots ingespan om die oomblik onvergeetlik te maak.

“Ek het nie ’n ring nie,” het hy gebieg. Maar daar is ’n goeie rede daarvoor, het hy verduidelik: “Amanda dra nie ringe nie.” So eenvoudig soos dit.

“Ek het wel ’n groot rots,” het hy na die vals meteoriet-rots verwys voor hy haar gevra het om saam met hom te wees “tot die laaste ster in die sterrehemel uitgedoof is. En selfs daarna?”

Amanda het van geen sout of water geweet toe hy haar na buite nooi om die groot vraag te vra nie. Sy was glo in haar Harry Potter-pajamas, maar dit het nie gelyk of Christopher enigsins daaroor gepla was nie.

Amanda Knox, Meredith Kercher en Raffaele Sollecito

Amanda en Raffaele was in ’n verhouding betrokke terwyl die drietal in 2007 in Perugia, Italië, studeer het. Die paartjie is skuldig bevind aan die moord op Meredith (21) en in 2009 is hulle tronk toe gestuur.

Meredith, van Coulsdon in die suide van Londen, is doodgesteek in die woonstel wat sy saam met Amanda gedeel het.

Ná vier jaar in Italiaanse tronke is hul straf tersyde gestel nadat ’n appèlhof bevind het daar was ’n gebrek aan getuienis teen hulle. Hulle is vrygelaat. In 2015 is Amanda finaal deur die Italiaanse hooggeregshof kwytgeskeld van enige aandeel in Meredith se moord.

Vroeër vanjaar het Amanda, wat reeds in 2011 na Amerika teruggekeer het, gesê sy wil baie graag na Italië gaan om een mens te sien voor hy sterf: die gevangenis-kapelaan. Volgens haar wou sy haar eie lewe neem terwyl sy agter tralies was, maar eerw. Saulo Scarabattoli het haar deur daardie moeilike tyd gehelp.

Amanda het behoorlik stoom afgeblaas teenoor die polisie en staatsaanklaer wat haar tydens die verhoor as ’n vrou van losse sedes uitgebeeld het om ’n skuldigbevinding te bewerkstellig en sy is in die media as Foxy Knoxy gebrandmerk. Die polisie het beweer Meredith het gesterf toe ’n seks-speletjie skeefloop.

“Dit maak nie saak hoe onskuldig ek was nie, dit het ’n seksstorie geword waar die ‘slet van Seattle’ die reine vrou van Engeland vermoor het.”

Sy het sedertdien 'n boek Waiting To Be Heard: A Memoir geskryf waarvan die opbrengs aan haar Italiaanse regspan oorbetaal is. Amanda was ook 'n joernalis by die West Seattle Herald en vanaf 2017 wy sy haar toe as aktivis vir mense wat verkeerdelik beskuldig word.

Een van die mense vir wie sy tydens die hoogtepunt van die #MeToo-veldtog in die bres getree het, was Monica Lewinsky (wat by die voormalige Amerikaanse president Bill Clinton betrokke was).

"Dit was voor die internet en Monica Lewinsky was op die 24-uur nuussiklus gebrandmerk as DAARDIE vrou."

Onlangs het Stormy Daniels, die pornoster wat die huidige Amerikaanse president, Donald Trump, warm onder die boordjie gelaat het op Amanda se ontmoetlysie beland.

Amanda dink dis verkeerd om Stormy as die "slegte vrou" uit te maak terwyl die president self glo sy onderskeie vroue verkul het.

Raffaelo sê sy lewe is vernietig vanweë die moord op Meredith. Hy is, nes Amanda, twee keer skuldig bevind voor die Italiaanse hooggeregshof hom onskuldig bevind het.

Volgens hom was Meredith die eerste slagoffer, maar daar was talle meer waaronder al die betrokkenes se families en nog meer slagoffers vanweë foute wat deur die staatsaanklaer begaan is.

Sover bekend bly hy steeds in Italië en praat hy en Amanda so nou en dan met mekaar, maar “nooit oor die saak nie”.

Die man van die Ivoorkus

Rudy Guede van die Ivoorkus het glo talle inbrake gepleeg voor die moord. Rudy (toe 20) se bloederige vingerafdrukke is op die toneel gevind waar Meredith vermoor is.

Hy is van die seksuele aanranding en moord van Meredith aangekla en is aanvanklik 30 jaar tronk toe gestuur. Hy is nie saam met Amanda en Raffaelo verhoor nie. Ná ’n appèlaansoek is Rudy se vonnis tot 16 jaar verminder.

In Februarie vanjaar het Rudy weer appèl teen sy vonnis aangeteken, tot groot verontwaardiging van Meredith se familie omdat hulle meen ou wonde word weer oopgekrap. Hulle is ook ontsteld omdat Rudy vroeër as die vasgestelde datum in 2022 vrygelaat kan word.

Regter Paolo Micheli het tydens Rudy se verhoor bevind hy het nie die moordwapen hanteer nie, dat die inbraak (waarskynlik deur Rudy) ná die moord plaasgevind het, dat die moord seksueel gemotiveerd was en dat daar meer as een aanvaller was.

Bronne: uk.blastingnews.com, mirror.co.uk, cnn.com, today.com, independent.co.uk, usatoday.com