As jy nie geweet het dis twee afsonderlike ma-dogter-pare hier voor jou in die sitkamer van die huis in Brakpan nie, sou jy kon glo hulle is almal bloedfamilie van mekaar.

En jy sou nie te ver verkeerd wees nie, besef jy namate hul verhaal ontvou. Want die amper tasbare band tussen hulle is meer as net die vriendskap tussen twee ma’s en hul twee dogters.

Dit is die verhaal van ’n besonderse liefdesdaad – ’n daad wat ’n lewe gered het . . .

Aan die hart van die groepie, so asof die ander haar wil beskerm, is die 17-jarige Marinique Rossouw – op die oog af net nog ’n matriekmeisie wat soms bekommerd is oor die eindeksamen wat voorlê en of sy mooi sal lyk in haar matriekafskeidrok.

Jy sou nooit kon raai sy het tot onlangs nog daagliks pyn en ongemak weens nierversaking verduur nie.

Selfs destyds het net haar naastes dit besef, want sy het haar lyding moedig en meestal stilweg verduur. Iemand wat wel geweet het, was haar vriendin Nadine Stieler (nou 18), ’n skoolmaat aan die Hoërskool Stoffberg op Brakpan.

Dis nou al 15 jaar sedert Marinique se ma, Miranda Rossouw (nou 48), en Nadine s’n, Erika Stieler (nou 55), mekaar in 2003 op ’n verjaardagpartytjie op Brakpan ontmoet het.

Marinique voel vir haar soos ’n dogter na alles waardeur hulle is, vertel Erika. Foto: Rowyn Lombard

Dié twee vroue het daarna boesemvriendinne geword. Marinique en Nadine, toe net twee en drie jaar oud, het ook onafskeidbaar geword. Maar vandag weet Marinique dit was g’n toeval dat Erika in haar ma se lewe gekom het nie.

Want op ’n winterdag in Junie verlede jaar is Marinique en haar ma se beste vriendin saam in die Jakarandahospitaal in Pretoria opgeneem sodat Erika vir haar vriendin se dogter een van haar gesonde niere kon skenk.

Vandag kan Marinique soos ’n gewone jong meisie leef omdat die nier van haar boesemvriendin se ma ’n nuwe tuiste in haar liggaam gevind het.

En wanneer die twee meisies later vandeesmaand hul matriekafskeid bywoon, sal hulle hul skooljare amper soos bloedsusters afsluit.

Marinique se gedurige hoofpyn het begin vier jaar voor nierversaking in 2012 by haar gediagnoseer is. “Ons het gedink dis maar groeipyne en stres,” verduidelik ma Marinda.

Jare lank het die skoolmeisie moedig daarmee saamgeleef. “Ek het bly hoop ek sal hierdie vreemde pyne ontgroei wat my sedert kleintyd teister,” vertel die blondekop met die groot bril en die fyn postuur.

Sy vleg haar bewerige hande inmekaar. Op ’n dag in Junie 2012 het die pyn onuithoudbaar geword. “Dit was skielik,” onthou Marinique.

“Ek het een oggend wakker geword en geweet iets is nie reg nie.”

Sy het naar gevoel, opgebring en geen energie gehad nie. Sy is in die Life Dalview-hospitaal op Brakpan opgeneem, waar dokters eers vermoed het sy het ’n maagseer, maar bekommerd was oor haar hoë bloeddruk.

Ses weke lank is sy deur ’n rits dokters ondersoek voor nierversaking eindelik by haar gediagnoseer is. Wat dit veroorsaak het, weet sy tot vandag toe nie.

“Die nuus was vir ons verpletterend,” sê Marinda. Marinique voeg moedig by: “Maar ná die aanvanklike skok was daar ook die vrede dat ons nou ’n diagnose het. Ons kon ten minste met die regte behandeling begin.”

Die dokters het verduidelik Marinique sal nie dadelik ’n nieroorplanting benodig nie omdat die medikasie dié operasie kan uitstel, maar dat dit waarskynlik later haar voorland sal wees.

Marinique voel vir haar soos ’n dogter na alles waardeur hulle is, vertel Erika. Foto: Verskaf

Toe Erika hoor haar vriendin se dogter sal eindelik ’n nieroorplanting nodig hê, het dit haar aan die hart geruk.

“Ek het gedink hoe ek sou voel as dit my dogter was en die angs waardeur ons sou gaan terwyl ons op ’n skenker wag.”

Dae later, in Junie 2012, het Erika vir Marinda gesê: “Ek is in dieselfde bloedgroep as jou dogter en wil vir haar ’n nier gee as dit nodig is.”

Erika vertel: “Ek dink Marinda het daardie tyd gewonder hoekom ek so iets vir haar sou sê as ’n oorplanting nie dadelik op die tafel was nie. Maar in my hart het ek geweet ek wil dié ding vir haar doen.”

Omdat Marinique nog net 12 jaar oud was, was die risiko groot dat haar ontwikkelende liggaam Erika se nier sou verwerp. Dus het hulle eers gewag voor die oorplanting.

Marinique het haar lewe solank soos handomkeer verander.

Sy het weggedoen met die vetterige lekkernye en ’n gesonde dieet begin volg. Boonop moes sy daagliks sterk medikasie drink om onder meer haar bloeddruk te reguleer en te verhoed dat haar nierfunksie nog versleg.

“Dit was vir my belangrik om positief te bly,” vertel Marinique. “Ek het so normaal moontlik probeer lewe.”

En toe, een oggend in Desember 2016, het sy wakker geword met dieselfde simptome as in 2012.

“Dit was asof ons dieselfde verhaal ’n tweede keer gelees het: konstante braking, hoofpyne wat nie wil weggaan nie, die ongelooflikste moegheid,” onthou Marinique.

Teen Januarie 2017 moes sy ’n paar keer per week dialise ondergaan. Erika het toetse ondergaan wat bevestig het dat sy ’n geskikte skenker sal wees. In Junie verlede jaar was dit tyd.

Die aand voor die prosedure het Erika en Marinique langs mekaar in hul beddens in die Jakarandahospitaal in Pretoria gelê.

“Ek het kalm gevoel en probeer om Marinique se vrese te stil. Ons het gepraat oor hoe great haar lewe met ’n nuwe nier sal wees,” onthou Erika.

Erika is die volgende oggend eerste na die teater geneem.

Marinda het haar gedruk, gesoen en gefluister: “Dankie vir wat jy vir my kind doen.”

Ure later het sy haar dogter gesoengroet voor sy by die teater ingestoot is: “Ek is lief vir jou. Wanneer jy wakker word, het jy ’n nuwe lewe.”

‘Sy is my nierma, die onbaatsugtigste vrou’

Daarna het die beangste Marinda op en af in die hospitaalgange gestap. “Ek was bang Erika kom iets op die operasietafel oor. Ek het myself heeltyd gevra wat ek vir Nadine sou sê as haar ma nie wakker word nie omdat sy my dogter se lewe wou red.”

Maar toe Erika later uit die newels van die narkose ontwaak, het sy gesê: “Dit was alles die moeite werd.” Nou vertel Marinda emosioneel: “Net daar het ek besef hier het vandag iets gebeur wat ons onafskeidbaar maak.”

Toe Marinique ná die suksesvolle oorplanting wakker word met Erika se nier veilig in haar liggaam, het haar boesemvriendin saam met hul ma’s van verligting gelag en gehuil.

Marinique en Marinda deel ’n dag ná die operasie ’n selfie-oomblik. Foto: Verskaf

“Ek is bly ons het besluit om dit te doen,” het Erika vir Marinique gesê toe sy die eerste keer weer met haar kon praat. “Nou wag ’n heel nuwe avontuur op jou.”

Marinique was vasbeslote om vir Erika te wys haar onbaatsugtige daad was nie verniet nie.

Weens haar gereelde dialise, die oorplanting en hersteltyd was sy verlede jaar net twee weke op skool. Nogtans het sy haar gr. 11-eindeksamen aangepak en geslaag. Sy volg steeds ’n spesiale dieet en vermy sout.

Sy gebruik ook medikasie om te verhoed dat haar lyf die nuwe nier verwerp. Nadine kyk met trots na haar ma, en dan na haar vriendin. “Ons is regtig soos susters,” sê sy.

Ook Erika vertel ’n band sal altyd tussen haar en haar vriendin se dogter wees.

“Ek voel ongelooflik na aan Marinique omdat ’n deel van my nou binne haar is.”

Marinique wil volgende jaar sielkunde studeer en het baie drome vir haar toekoms.

“Ek is met dankbaarheid gevul. Ek kon vandag nog in ’n hospitaalkamer lê en bid het vir ’n skenker as dit nie vir tannie Erika was nie.

Sy is my nierma, die onbaatsugtigste vrou en die rede waarom ek vandag hier sit,” sê Marinique.

“Elke dag vir die res van my lewe sal ek met ’n deel van haar binne my leef. En elke dag sal ek onthou dat iemand ’n deel van haarself gegee het sodat ek vandag steeds hier kan wees.”

  • Marinique en Nadine se matriekafskeid vind op 27 Oktober aan die Oos-Rand plaas. Dit sal verfilm word vir die werklikheidsreeks My Matriekafskeid, wat op Maandae om 20:30 op VIA (kanaal 147 op DStv) uitgesaai word, met heruitsendings Saterdae om 17:30.
  • Die episode oor Marinique en Nadine word op Maandag 7 Januarie 2019 uitgesaai.