’n Amerikaanse vrou is op pad na haar troue vir dronkbestuur in hegtenis geneem. 

Volgens People is Amber Young (32), van Arizona, aangekeer nadat beamptes ontbied is na ’n ongeluk in Marana, ’n dorpie in die suidwestelike Amerikaanse deelstaat, ná ’n kettingbotsing waarby drie motors betrokke was. 

Een persoon het geringe beserings opgedoen en is hospitaal toe geneem. 

People berig Young was net ’n rukkie in aanhouding en KVOA.com bevestig sy is vrygelaat toe haar verloofde daar aangekom het en ’n dagvaarding onderteken is. 

Volgens Fox News het ’n beampte op die toneel, sers. Chriswell Scott, ’n foto op Twitter gedeel van waar die bruid in haar trourok geboei word. 

“Moenie onder die invloed bestuur nie. ‘Tot die dood ons skei’ moenie verhaas word nie.” 

Die twiet is sedertdien uitgewis. 

Dit is onduidelik of die troue voortgegaan het. 

Bronne: Fox News, People, KVOA.com