In die boeregemeenskap in die Swartland het hulle hom van kindsbeen geken. Hy was hoofseun van sy hoërskool, ’n “voorbeeldige seun” uit “ ’n Christelike huis”.

Op sy twee plase by Hopefield, 120 km van Kaapstad, het hy met graan en skape geboer en “ ’n rojale lewe” gelei, word oor die gesiene boer Dirk Rust vertel. Maar toe gebeur die ondenkbare.

Die einste Dirk (61) is as ’n wolf in skaapsklere ontmasker toe hy skuldig bevind word aan die diefstal van byna 400 skape. Boonop is hulle gesteel van die plase van ou bekendes – bure, jeugvriende en selfs ’n neef van hom.

G’n wonder dit gons in die klein boeregemeenskap nie nadat Dirk onlangs in die landdroshof op Malmesbury tot ses jaar tronkstraf gevonnis is. “Hoe kon hy dink hy sou daarmee wegkom?” vra iemand wat hom goed ken kopskuddend.

“Ek was so teleurgesteld toe ek besef dit is hy, my eie buurman,” sê Dirkie Bester (57), van wie se plaas, Glen Peter, 131 skape gesteel is. Ander boere in die omgewing het dieselfde skokontdekking gedoen.

Dirkie wys een van die alarms wat om sy skape se nek hang om hom te verwittig as daar probleme by sy skape is. Foto: Misha Jordaan

Al die skape het darem nie spoorloos verdwyn nie, want hul “misspoor” het een boer die hele pad na Dirk se plase gelei. “Ons was kleintyd vriende en het saam gespeel en perdgery. Hy was ’n voorbeeldige seun uit ’n Christelike huis,” vertel Dirkie verder.

Hy sit gemaklik in sy sokkies op ’n leerbank in sy sitkamer waar twee keramiekskape ’n mens lê en beloer, een langs ’n Bybel op ’n houttafel. In hul jong dae het hy en Dirk dikwels saam gekuier.

“Dirk was die laaste man wat ek gedink het so iets sou doen,” sê Dirkie. “Ek dink hy het gulsig geword.” VIR vier van Hopefield se skaapboere het 2015 op ’n slegte noot begin toe hulle in die nuwe jaar begin skape tel en besef ’n veedief het in die feestyd toegeslaan.

Dirkie was nog daardie Januarie saam met sy gesin op die kusdorpie Franskraal met vakansie toe sy selfoon skielik meer as 20 keer lui. Aan die ander kant was sy skape.

“Hulle het alarms om hul nek wat ’n sein na my foon stuur sodra die skape te vinnig beweeg. Dit beteken hulle word miskien aangejaag,” verduidelik Dirkie.

“Wanneer hulle te lank stilstaan, lui dit ook, want dit beteken hulle is dood,” vertel hy by sy plaasopstal halfpad tussen Moorreesburg en Hopefield. Hy was nie dadelik bekommerd oor die seine nie.Hy het gedink sy merinoskape soek dalk skuiling teen die hitte by die waterkrippe. ’n Familielid het nog gespot sy skape word “gesteel”, onthou Dirkie. 

Toe hy ’n paar dae later by die huis kom, het hy sy skaaptroppe begin tel. Met die eerste trop het dit gelyk asof alles in orde is. In die moordende somerhitte het hy besluit om die tweede trop eers die volgende dag te tel.

Die skape is hier oor die R45-pad van Dirkie se plaas na Dirk s’n gejaag. Die misstreep is oor die pad gevind. Foto: Misha Jordaan

Eers op die derde dag het hy ontdek 131 van sy 1 200 skape is skoonveld. Die pa van twee het in sy bakkie gespring en begin soek. “Maar ek kon hulle nêrens vind nie.” Hy het toe vir Gerhard de Kock, nog ’n skaapboer, gevra of hy nie dalk sy skape op die buurplaas gewaar het nie.

“Dis toe dat Gerhard sy skape loop tel en sien 115 van hulle is weg,” vertel Dirkie. “Toe bel ek Dirk se neef André Rust, en hy tel syne. Toe is daar 133 skape weg.”

En op die plaas Enkelvlei was 241 skape van Olivier Slabbert ook skoonveld. Die bekommerde boere het saam met die polisie se veediefstaleenheid ’n soektog op tou gesit. Gerhard het op ’n misstreep afgekom wat oor die R45-pad tot op Dirk se twee aangrensende plase, Uitkyk en Springfontein, loop, vertel Dirkie.

Gerhard wou nie self kommentaar lewer nie. “Hy ry toe tot op Dirk se grond en sien my ooi met die alarm om haar nek daar staan,” vertel Dirkie. “Hy sien toe ook sy skape daar en bel onmiddellik die veediefstaleenheid.”

’n Dag later het Dirkie, die ander drie boere en die veediefstaleenheid op Dirk se plaas toegeslaan en die meeste van hul skape teruggekry. Die boere kon hul skape uitken deur identifikasieplaatjies of tatoeëermerke eie aan hul troppe.

Dirk het later in die hof erken hy het 22 van die gesteelde skape op ’n veiling verkoop. Landdros Michelle Adams het hom vrygespreek op die klag van diefstal van Olivier se 241 skape omdat sy skape gereeld deur ’n stukkende heining na Dirk se plaas geloop het. Hy is wel skuldig bevind aan die diefstal van 379 skape wat saam R568 500 werd is.

‘Dirk was die laaste man wat ek gedink het so iets sou doen’

Dirk het ook ’n opgeskorte vonnis gekry vir die onwettige besit van ammunisie en is tot vyf jaar tronkstraf gevonnis vir die onwettige besit van vuurwapens. Hy kan dié vonnis samelopend met sy ses jaar tronkstraf vir veediefstal uitdien.

Hy weet steeds nie hoe Dirk dit reggekry het om sy skape te steel nie, sê Dirkie. Terwyl hy met vakansie was, het hy ’n kennis gevra om elke dag op sy plaas te gaan inloer om te kyk of alles nog in orde is. Die vier werkers op sy plaas het ook niks verdags opgemerk nie.

Dirkie vermoed Dirk het van die gesteelde skape moontlik oor die R45-pad na sy plase aangejaag. Hy kan steeds nie glo iemand wat hy so goed ken, het hom besteel nie. “My pa . . . ” is al wat hy kan uitkry voor emosie hom oorweldig en hy sy kop laat sak.

Dan vertel hy sy 81-jarige pa, Dirk, is vir twee dae vir waarneming in die hospitaal op Somerset-Wes opgeneem nadat dit geblyk het Dirk Rust is die veedief.

“Hy het ’n ineenstorting gehad toe hy uitvind dis Dirk wat die skape gesteel het.Hy was goeie huisvriende met Dirk se ouers. Hy kon dit nie hanteer nie. Hy was so ontsteld,” sê Dirkie met sy hand voor sy mond en oë vol trane.

Marijke Rust kom saam met haar man, Dirk, en seun, Dirk jr. (agter), by die Mal­mes­bury-­hof aan. Foto: Getty Images/ Gallo Images

Sy pa is in Maart vanjaar ná ’n “slegte val” oorlede. Dirkie se eie vriendskap met Dirk, sy jeugvriend en latere buurman, het ná sy inhegtenisneming verbrokkel. “Ek het hom en sy vrou soms op die dorp gesien, maar het glad nie weer met hulle gepraat nie. Ons laaste kontak was die dag toe ek my skape op sy plaas moes uitken.” Hy meen finansiële redes het Dirk tot dié uiterste gedryf.

“Hy was ’n graanboer, maar sy plaas was nie eintlik vir graan bedoel nie. Sy grond is later swak bewerk en hy kon die boerdery seker nie weer opbou nie.”

Dirk het reeds begin om sy vonnis in Malmesbury se gevangenis uit te dien. Sy grond word nou verhuur, maar sy vrou woon steeds op die plaas, vertel Dirkie. Huisgenoot het twee keer ’n draai op albei plase gemaak, maar geen mens was in sig nie.

Die plase lyk droog en verwaarloos, met ’n paar skape wat plek-plek wei. By een van die plaasopstalle groet ’n swart hond jou sonder ’n blaf of ’n stert wat waai.

Dirk se prokureur, Lionel Frank, het aan Huisgenoot gesê nie hy, Dirk of sy vrou wil kommentaar lewer nie. Lionel het intussen by die streekhof op Malmesbury aansoek gedoen om teen Dirk se vonnis te appelleer.

Tog meen Dirkie ’n vonnis van ses jaar vir veediefstal is te lig. “Dit stuur die verkeerde boodskap uit,” verduidelik hy. Nie al die skaapboere stem met hom saam nie. André sê hy “berus” by die straf wat sy neef gekry het vir ’n veediefstal wat die gemeenskap geruk het soos selde tevore. S