Byna ’n maand het verstryk sedert die motorongeluk wat hom byna sy lewe gekos en daartoe gelei het dat albei sy bene afgesit moes word. Maar vir Taufiq Carr (26) is die herinnerings steeds helder.

“Al wat ek sien, is dat ek ry, die motor begin slinger, tref die versperring, en daarna ’n plofgeluid,” vertel Taufiq toe ons hom in die Life Vincent Pallotti-hospitaal in Kaapstad besoek waar hy sedert die ongeluk aansterk. 

Die 26-jarige sakeman van Mitchells Plain het verlede maand die koerantopskrifte gehaal nadat hy tydens 'n onwettige straatren met sy BMW ’n versperring in die middel van Sabelweg, die afrit van die N1 by Century City, getref het.

Terwyl Taufiq van baan verwissel het, het hy beheer oor die voertuig verloor. Die motor het verskeie kere gerol.

’n Video wat vanaf ’n brug oor die snelweg van die botsing geneem is, is in die sosiale media wyd versprei. 

’n Tweede video, wat binne-in die motor geneem is, het later na vore gekom. Dit wys Taufiq het ’n passasier saam met hom in die motor gehad.

’n Mens kan die man agter die opname hoor sê: “En weer, en weer, en weer.”

Toe die tweede motor nader kom en die video begin bewe, sê dieselfde stem: “Haai!”

In die opname kan 'n mens tydens die botsing vonke sien spat.

Taufiq vertel die man wat langs hom gesit het, was sy vriend Imraan Ebrahim.

Imraan het ná die botsing net ’n skraap aan sy vinger gehad. 

Dit was aanvanklik vir Taufiq moeilik om te verstaan waarom sy beserings so erg was terwyl sy vriend so lig daarvan afgekom het, maar hy het vrede gemaak daarmee.

“Ek het vrede gemaak met die feit dat ek so lyk. Ek het vrede gemaak met die feit dat dit met my gebeur het,” sê Taufiq. 

“Dit is waarom ek so goed herstel.”

Hy sou daardie verskriklike Sondagaand wou oorhê as hy kon, sê hy. Hy en sy vriende van sy straatrenklub, Race Wars, het kort ná elfuur daardie aand bymekaargekom.

karongeluk
Taufiq en Ameerah Carr. Foto: Verskaf

Die klub is oop vir enigiemand met ’n motor, en jy het nie ’n rybewys nodig nie.

“Die een wat wen, kry nie ’n prys nie. Ons doen dit vir die pret, vir die passie daarvan,” sê hy.

Taufiq het sy eerste ren gewen; ’n kort afstand om die aand aan die gang te kry. Maar dit was tydens sy tweede ren, ’n langer afstand wat uit die stad op die snelweg strek, waar hy beheer verloor het.

“Ek het gevoel die motor skud, toe verminder ek spoed en toe vermeerder ek dit weer. Toe beland ek teen die versperring.

“Ek het in ’n poel bloed afgekyk. Bloed het uit my bene gespuit, soos ’n kraan wat oopgedraai is. Ek het my bene gevat en uit die motor gelig. Ek het nog probeer om uit te kom, om myself op te lig, maar my sleutelbeen was gebreek en dit was seer.”

Taufiq het tydens die botsing sy BMW se stemaktiveringsfunksie gebruik om die ambulans te laat kom. “Ek het vir die motor gesê die ambulans moet onmiddellik kom.” 

Volgens Taufiq het hy gesukkel om van die sitplekgordel ontslae te raak. Imraan het hom gehelp. Hy onthou ook dat hy vir die omstanders water gevra het.

Sy liggaam was in so ’n kwaai skoktoestand dat hy geen pyn in sy onderlyf kon voel nie.

“Toe die paramedici opdaag, het hulle my klere van my lyf afgesny en ek sê toe vir hulle ek begin blou sien," sê Taufiq. 

"Ek was paniekbevange en het gesê: 'Ek kan nie sien nie, ek kan nie sien nie.’  Ek het eindelik my bewussyn verloor."

Sy vrou, Ameerah (26), wat ses maande swanger is, het by die huis geslaap toe die ongeluk gebeur. “Iemand het my gebel, maar my foon was op stil gestel.”

Een van haar familielede het haar wakker gemaak en haar vertel wat gebeur het. Ameerah sê dit het eers nie tot haar deurgedring nie.

“Ek was geskok. Wanneer ek geskok raak, raak ek stil,” sê sy. “Dit was moeilik aan die begin, maar sy positiwiteit maak ons sterker.”

Die paartjie het twee kinders, Qiraam (4) en Maryam (2), wat klaarblyklik hul pa se positiewe ingesteldheid geërf het. “Die kinders kom besoek hom elke dag,” sê Ameerah. 

"Ek laat hulle nooit toe om hom met al die pype aan sy liggaam te sien nie, maar nou lê hulle by hom.”

Taufiq se bene is die Maandag ná die ongeluk geamputeer en die dokters het hom vier dae lank in ’n geïnduseerde koma gehou.

“Ek het eenvoudig vrede gemaak met die feit dat ek so lyk. Ek het vrede gemaak met die feit dat dit met my gebeur het,”

Hoewel Taufiq baie kritiek gekry het ná die ongeluk, steur hy hom nie daaraan nie.

“Ek het begrip vir hoe hulle voel - ek het alles gelees - maar ek het niks van die negatiwiteit ingeneem nie. Ek het positief gebly. Hulle weet nie wat werklik gebeur het nie; ek weet wat gebeur het.”

Sal hy ooit weer agter 'n stuurwiel inskuif om aan 'n wedren deel te neem? “Ja,” antwoord hy sonder om te huiwer.

“Ek sal weer bestuur. Ek wil weer bestuur. En as ek resies jaag, sal dit nie weer ’n onwettige resies wees nie. Dit sal wettig wees, op ’n renbaan.”

Hy het albei video’s gesien en dit pla hom nie.

“Dit voel net soos heng, ek is daar deur,” sê hy.

“Ek was nog altyd ’n positiewe mens. Wat met my gebeur het, moes gebeur het; dit was so bestem.”