Dit was ’n yskoue winteroggend op die groot bees- en saaiboerdery Lindskov Ranch in die sneeubedekte Suid-Dakota, Amerika. MC Weldon van Bethal, Mpumalanga, onthou nog goed hoe hy, toe nog fris en 33 jaar oud, daardie Desemberoggend aan die kombuistafel gaan sit het.

Sy broer Johan (toe 26) en boesemvriend sedert hul laerskooldae op Bethal, Werner “Shoepie” Swart (33), was reeds daar met stomende bekers koffie.

Dit is al nagenoeg vyf jaar later, maar hy onthou soos gister hoe Shoepie oudergewoonte sy “sewende” koppie koffie afgesluk en ’n paar sigarette gerook het voor hulle in die pad geval het vir ’n harde dag se werk by die voerkraal.

‘Dit pla my nou nog. Dit breek my soms. Dat ek hom nie kon help nie’ Foto: Fani Mahuntsi

Shoepie het weke tevore by MC, Johan en hul jonger halfbroer, Dan-Dré Schambriel (toe 21), in Amerika aangesluit. Dit het vir MC gevoel asof sy familie in die vreemde voltallig is.

Nooit sou hy kon voorsien ’n fratsongeluk skaars twee uur later sou sy hele wêreld op sy kop keer nie. Later dié oggend, op 26 Desember 2014, het hy en Johan op ’n blinde hoogte op die plaas met hul onderskeie bakkies reg van voor teen mekaar gebots.

Shoepie, wat langs MC gesit het, is op slag dood. MC en Johan het maande lank in die hospitaal vir hul lewe geveg. Toe MC (nou 38) ná vier maande in die hospitaal na Suid-Afrika terugkeer, het hy lank ’n kluisenaarsbestaan gevoer.

Hy was te swak, te geskend om te werk, maar meer as enigiets het hy met die skuldgevoelens van sy boesemvriend se dood geworstel. “Ek het al baie gevra hoekom. Ek het lank gevra: ‘Kon ek nie maar net saam met Shoepie doodgegaan het nie? Eerder ek as hy.’ Maar dit was die Here se wil. Shoepie was dalk op die regte plek in sy lewe dat hy moes gaan, en ek nie.”

Ongeluk broers
Die broers MC (LINKS) en Johan (REGS) is albei kritiek beseer in die ongeluk op die plaaspad. Foto's: Verskaf

Sy lewe was sedert die ongeluk nie maklik nie, vertel MC waar ons in sy huurhuis op ’n hoewe buite Bethal sit. “Ek het mense probeer vermy. Ek was skaam oor hoe ek lyk. Ek’s nou maar ’n skaduwee van die man wat ek was. Ek was groot, 127 kg. Nou weeg ek 97 kg.”

Die man voor ons lyk veel skraler as op foto’s van voor die ongeluk. Oor die regterkant van sy gesig lê die letsels van die ongeluk nog duidelik, en sy linkerhand trek krom waar dit op sy skoot lê. Dit is eers nou, vyf jaar later, dat hy voel hy kan die wêreld weer in die oë kyk, vertel hy.

“Ek het net gewonder wat Shoepie vir my sou gesê het: ‘Wat nou, ou grote? Hoe nou? Is jy slapgat?’ ”

Toe hulle dié dag by die werk kom, het MC en Shoepie besluit om gou in MC se donkerblou Dodge Ram-bakkie dorp toe te ry om iets te ete te kry. Intussen het Johan opgemerk daar is nie meer suiker of koffie by die voerkraal nie, en hy is in sy wit Nissan Titan vort – huis toe, sowat 3 km van die voerkraal af – om dit te gaan haal.

Op pad terug van die dorp af het MC besef sy selfoon lê nog by die huis; hulle is soontoe, min wetend Johan is weer op pad terug voerkraal toe van daar af.

Op daardie stil plaaspad in die middel van nêrens het die noodlot toegeslaan. “Ek onthou net die slag,” vertel MC.

Die ongelukstoneel op die Lindskov Ranch in Suid-Dakota, Amerika. Foto: Verskaf

“Ek het nie geweet wat ons getref het nie. Toe ek bykom, was ek buite op die grond. Ek het teruggekyk en gesien die voorruit raak swart. Ek kon hoor dit brand.” Vir die eerste keer wel die trane in sy oë op. “Toe besef ek: ‘Shoepie? Waar is Shoepie?’ ”

Maar MC kon nie beweeg nie en het weer sy bewussyn verloor. Intussen het Dan-Dré en Johan se beste vriend, Marthinus “Mielie” Volschenk (toe 29), onraad vermoed toe Johan so lank wegbly.

Mielie is van Ventersdorp, Noordwes, en het op dieselfde plaas gewerk. Hulle het swart rookwolke in die rigting van die huis gesien en dadelik ondersoek gaan instel.

“Toe ek bykom, staan Dan-Dré bo-oor my en sê: ‘Lê net stil. Lê net stil,’ ” sê MC.

C se boesemvriend, Werner “Shoepie” Swart (links), is op slag dood in die ongeluk in Desember 2014. Foto: Verskaf

Die broers is eers per ambulans saam na ’n nabye dorp gebring van waar hulle na twee afsonderlike hospitale in Bismarck, Noord-Dakota, vervoer is – MC per lugambulans na die Sanford-hospitaal en Johan per ambulans na die St. Alexius-hospitaal.

Shoepie se verkoolde lyk is voor in die bakkie aangetref. Albei broers se toestand was kritiek. Benewens ’n gebreekte regtervoet, bekken, ribbes en bobeen, het Johan ’n ernstige kopbesering opgedoen en was hy drie weke lank in ’n koma.

MC was vyf weke lank in ’n geïnduseerde koma. Hy het amper te veel bene gebreek om op te noem: wangbeen, kakebeen, oogbank en neus. Die regterkant van sy gesig was vergruis, maar dokters kon sy regteroog red.

Sy bekken was gebreek, en sy regterbeen op vier plekke. Sy linkerelmboog is vergruis, en hy hou vandag nog skade van dié besering oor. Sy hartseer hieroor is tasbaar; dit is die arm waarmee hy voorheen gewerk en geboer het, maar vandag kan hy dit nie gebruik nie.

In die lugambulans hospitaal toe het hy ’n beroerte gehad, en die linkerkant van sy lyf is vandag nog soms lam. Ten spyte daarvan is dit Shoepie aan wie hy dink. Ná sy terugkeer het hy Shoepie se ouers besoek.

“Ek het na oom Nico (Shoepie se pa) gekyk soos ’n seun na sy pa en gesê: ‘Ek is jammer.’ Maar hy het gesê: ‘Seun, dit was ’n ongeluk.’ Ek het toe rustig gevoel. Ek moes net leer om myself te vergewe.

Die broers Johan (links) en MC in die sorgelose dae voor die ongeluk. Foto: Verskaf

“Dit pla my nou nog. Dit breek my soms. Dat ek hom nie kon help nie. Daai man het geglo ek was die beste bestuurder ter wêreld.” DIE ongeluk was nie die eerste trauma wat die Weldon-broers en Dan-Dré moes deurmaak nie.

MC en Johan se biologiese pa, Johan sr., ’n boer, het in 1989 verongeluk. Nadat hul apteker-ma, Daleen, in 1991 met hul stiefpa, Andries Schambriel, getrou het, is Dan-Dré (nou 26) uit dié huwelik gebore. In 2009 het Daleen haar eie lewe geneem.

“My kleinboetie,” sê MC. “Dan-Dré het so vinnig grootgeword. Hy was nog ’n klein snotneus voor die ongeluk, maar het nét so gedraai en ’n man geword. Ek weet nie hoe cope hy nie.”

Maar dit gaan goed met hom, sê Dan-Dré uit Suid-Dakota, waar hy nou op ’n ander plaas werk. Hy is intussen met sy meisie getroud en het ’n driejarige dogtertjie.

Ook Johan en Mielie is intussen getroud – met Suid-Afrikaanse vroue – en elkeen het ’n kind. Hulle werk steeds op Lindskov Ranch. Johan het min fisieke letsels oorgehou, maar sê hy sal weens die kopbesering nooit weer dieselfde wees as voorheen nie.

Vir MC lê ’n lang pad voor. Hy het sedert sy terugkeer na Suid-Afrika nooit geld gehad om ’n dokter of fisioterapeut te besoek nie; sy broers het hom finansieel onderhou terwyl hy by sy stiefpa gebly het.

Hy moet nog rekonstruktiewe chirurgie aan sy gesig ondergaan om die regterwangbeen op te bou. En sy linkerelmboog moet dringend vervang word sodat hy die arm weer kan gebruik.

Maar geld vir die operasies is daar nie. Tog is hy dankbaar vir wat hy al bereik het. Hy het verlede jaar ’n werk as voerbestuurder op ’n melkplaas gekry en het die “liefde van sy lewe” ontmoet.

“Ek was kwaad wanneer mense sê: ‘Wees dankbaar; jy kan bly wees jy leef.’ Nou weet ek ek is tóg bly ek leef. Al sukkel ek en is ek soos ek nou is, is ek dankbaar. Ek sal nooit weer kla nie.”