“Ons is diep geskok. Hulle was baie vriendelike mense. Almal het van hulle gehou,” sê ’n inwoner van Bethal wat nie sy naam wil noem nie. 

Marita (60) en André du Randt (61) is op 19 Julie dood in hul huis aangetref. Hulle het albei skietwonde gehad.  

Volgens Jaap Pretorius, voorsitter van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum, dui alles daarop dat dit ’n "gesinsmoord" was. 

“Die oggend kon hul huiswerker nie een van hulle in die hande kry nie. Die huis was gesluit en hulle het nie hul foon beantwoord nie,” sê Jaap. 

Marita is saam met haar man André dood in hulle hu
Marita is saam met haar man, André, dood in hul huis gevind. Foto: Facebook

Die huiswerker het toe besluit om die polisie te bel. Albei hul motors was in die motorhuis.

“Die huiswerker het glo die voordeur oopgesluit en agtergekom die kamerdeur is gesluit,” sê Jaap. 

Die polisie het daar aangekom en nadat die huiswerker en een van die bure hulle probeer bel het, het hulle besluit om die kamerdeur oop te breek. 

Marita en André is op die bed gevind. Albei het skietwonde gehad.

’n Vuurwapen is langs die bed gekry. Daar was ook ’n testament op die toneel. 

André het as streekbestuurder by Panar Seed gewerk en Marita was afgetree. 

“Hulle was gesiene mense in die gemeenskap. Dit is vir ons ’n groot skok dat hulle so iets kon doen. Ons het nooit gedink daar was probleme nie. Hulle het na ’n gelukkige paartjie gelyk,” sê die inwoner. 

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.