Dit was ’n lang en uitmergelende week. Konsultasies met kliënte, hofverskynings, die eindelose druk. Maar eindelik kan hy die deur van sy prokureursaak op Wellington agter hom toetrek en uitsien na ’n ontspannende naweek saam met sy gesin.

Eers gaan Ivan de Villiers soos gewoonlik sy dogter en haar kêrel by ’n tehuis vir gestremdes hier op die Bolandse dorpie oplaai. Hy onthou daar is beurtkrag geskeduleer vir daardie Vrydagaand, 31 Januarie, maar het reeds planne beraam. Soos dikwels tevore gaan hy en sy gesin gesellig tuis potjiekos maak.

Die volgende dag, Saterdag, sou hy en sy “skoonseun”, Dean Rabie (34), saam na die Superrugbywedstryd op sy groot tele­visiestel kyk. En hy sou sy dogter, Adri-­Marie (37), leer wals vir hul tehuis se Valentynsdans oor twee weke.

Die laaste foto van Adri-Marie en haar kêrel, Dean
Die laaste foto van Adri-Marie en haar kêrel, Dean Rabie, op die potjiekos-aand. Dit is net voor die ongeluk geneem. Foto verskaf

“Sy kon nie lekker beweeg nie, maar het altyd op my voete gestaan en so het ons gedans,” onthou Ivan (61).

Dan skiet sy oë skielik vol trane, want die beurtkrag van daardie gesellige potjie­kosaand is gevolg deur ’n meer blywende donkerte – die ondenkbare seer van traumatiese verlies.

Toe hy tuiskom, het sy vrou, Sarie (64), al die bestanddele gereed gehad. Daar was ses kwartgrootte-potte, want hul tradisie was dat elkeen sy eie potjie op die vuur het. Dié keer sou dit skaappotjies met groente wees vir die egpaar, hul dogter en haar kêrel en twee ander gaste.

Die buurt se kragonderbreking was reeds verby toe die groepie om die potte gaan sit het. Dit sou so ’n uur geneem het om gaar te word.

Soos altyd het Ivan vuuraanstekerjel in ’n houertjie onder elke pot geplaas.

“Dit brand gewoonlik so 40 minute voor dit weer opgevul moet word,” sê hy.

Die jel was soortgelyk aan dié wat Pippie Kruger einde 2011 ernstig gebrand het toe dit tydens ’n gesinsbraai “ontplof” en oor haar gespat het toe haar pa die braaivuur aangesteek het.

Ek het die jel ingegooi – en toe is daar ’n groot whoef-geluid en ’n vuurbal.

“Ons het lekker sit en gesels, maar die potjies se vlamme het begin doodgaan. Adri-Marie het gevra dat haar houer hervul word sodat haar potjie aanhou prut, en ek het haar jel ingegooi,” onthou Ivan.

En toe wil hy dieselfde vir Dean doen wat oorkant sy dogter gesit het.

“Ek het die jel ingegooi – en toe is daar ’n groot whoef-geluid en ’n vuurbal. Daar het seker ’n spark uit sy houertjie geskiet tot in die bottel jel.”

En dis toe dat die jel in die bottel vlam vat.

Johan Smit en sy pa, Ivan de Villiers, met die jel
Johan Smit en sy pa, Ivan de Villiers, met die jel wat die brand veroorsaak het. Foto: Corrie Hansen

Niemand om die kuiertafel het ontkom aan die brandende jel wat uit die bottel gespat en aan hul vel gekleef het nie.

Adri het die ergste deurgeloop. Vir ’n oomblik kry Ivan eers sy emosies onder beheer voor hy sê: “My dogter was direk in die spervuur.”

Met brandwonde aan sy hande het Ivan die nooddienste gebel en kort-kort in die straat gaan staan om te sien of die ambulans al kom.

Die volgende dag, Saterdag, was die huis doodstil. Geen Superrugby op die televisie nie; geen walsmusiek terwyl Ivan met sy dogter op sy voete dans nie. Die buitemuur, waar Adri-Marie die vorige aand met haar ma langs haar gesit het, was swart gebrand.

Almal is in die hospitaal behandel – en sy lieflingdogter, Adri-Marie, het nooit weer lewend daar uitgekom nie.

Mamma, bid vir Liewe Jesus dat Hy die pyn wegvat.

Waar haar ma, Sarie, vandag in haar bed tuis aansterk, is daar steeds verbande om haar ­gebrande arms en nek. Sy het ook reeds vel­oorplantings gehad.

Maar haar eie beserings is nie wat die swaarste op haar gemoed druk nie.

“Ek mis my dogter,” sê sy.

Pa, moenie worry nie. Dis nie Pa se skuld nie. Ek is nie kwaad vir Pa nie.

Adri-Marie se brandwonde aan haar gesig, nek, borste, arms en been was so erg dat haar liggaam 10 dae ná die ver­skriklike ongeluk in skok gegaan het. Sy is in die hospitaal oorlede.

“ ’n Dag voor haar dood het sy my gevra: ‘Mamma, bid vir Liewe Jesus dat Hy die pyn wegvat,’ ” vertel Sarie.

Ivan, wat pienk letsels aan sy hande het waar die jel dit gebrand het, worstel met sy skuldgevoelens oor sy dogter se beserings en dood.

“Sy het heeltyd gesê: ‘Pa, moenie worry nie. Dis nie Pa se skuld nie. Ek is nie kwaad vir Pa nie.’ ”

Dit is die tweede keer in sy lewe dat Ivan ’n geliefde wreed verloor.

Adri-Marie was immers haar pa se klein wonderwerk, die kind wat hy amper verloor het toe sy nog ’n baba was.

Vorige tragedie

“Ek is dankbaar teenoor God dat ek haar daarna nog 37 jaar kon hê,” ver­tel hy.

In 1981 was Ivan en sy eerste vrou, Leatetia Briedehann, in hul motor op die N1 naby Parow. Hul dogtertjie van ses maande, Adri-Marie, het op haar ma se skoot gesit.

“Iemand het ons van agter af gestamp. My vrou is op slag dood. Ek het twee platgedrukte nekwerwels gehad en Adri het byna elke been in haar liggaampie gebreek.”

Sy het ’n spastiese kwadrupleeg geword wat altyd moeilik geloop het, maar sy kon ’n normale gesprek voer.

Dit was dié ongeluk wat Adri-Marie gestremd gelaat het.

“Dit was ’n wonderwerk dat sy daardie ongeluk oorleef het. Weens kwaai kop­beserings het sy blywende intellektuele uitdagings gehad. Sy het ’n spastiese kwadrupleeg geword wat altyd moeilik geloop het, maar sy kon ’n normale gesprek voer,” vertel Ivan.

“Die feit dat Adri my nodig gehad het, het my deur die seer van haar ma se dood aan die gang gehou. Skielik was ek ’n enkelouer wat doeke moes omruil; álles moes doen.”

’n Jaar ná die ongeluk het hy na die Paarl verhuis, waar sy ouma, intussen ook oorlede, hom kon help om Adri-?Marie groot te maak. Sy dogter was vyf jaar oud toe Ivan en Sarie mekaar ontmoet en hy met haar getrou het.

Voor ek Adri in die hospitaal verlaat het, het sy my gevra: ‘Boetie, vat my saam.

“Adri het Sarie van dag een af ‘Ma’ genoem. En haar drie seuns (uit haar vorige huwelik) het my ‘Pa’ genoem. Daar was nooit eens sprake van stiefouers en stiefkinders nie,” sê hy.

Ivan en Sarie se seun, Johan Smit, vertel hy was uiters geskok toe hy sy ma en suster ná die brandongeluk in die hospitaal sien.

“My ma se gesig was vol blase en Adri se oë was toegeswel. Voor ek Adri in die hospitaal verlaat het, het sy my gevra: ‘Boetie, vat my saam.’

“Sy wou ’n drukkie hê voor ek geloop het, maar sy was in soveel pyn, ek het net aan haar voet gevat. Die dag voor haar dood het ek haar weer besoek, maar sy het geslaap. Ek kon nie vir haar tot siens sê nie,” sê hy in trane.

Ivan se emosies kry die oorhand.

“Sy is op 10 Februarie oorlede, net ná vier die middag. Sarie was by haar. Sy het vir haar uit die Bybel gelees en mooi gesange gesing tot sy weg was.”

Ivan en sy vrou, Sarie, by hul dogter, Adri-Marie,
Ivan en sy vrou, Sarie, by hul dogter, Adri-Marie, wat onlangs oorlede is. Foto verskaf

“Pa moenie dink dit was Pa se skuld nie,” laat Johan hoor.

“Ek probeer om dit nie te doen nie, maar tog. Sy was my kind,” sê Ivan.

’n Week ná die Valentysdans by die tehuis waar Adri-Marie en Dean mekaar ontmoet en gewoon het, is haar liggaam veras. Die roudiens moes nog ’n week wag omdat Sarie toe nog in die hospitaal behandel is.

Soos Ivan het hul twee gesinsvriende net geringe brandwonde aan hul hande opgedoen en is hulle dieselfde aand van die ongeluk ontslaan.

Een van Ivan se hartseer take was intussen om sy dogter se besittings te gaan inpak in die kamer in die tehuis waar sy weekdae deurgebring het. Dit het hom getref hoe netjies alles was.

“Ek het gedink, sjoe, my dogter was gestremd, maar haar kas was so netjies reggepak.”

Dean, wat ses jaar met Adri-Marie uitgegaan het, is ná drie dae uit die hospitaal ontslaan nadat hy vir brandwonde aan sy gesig behandel is.

Hy probeer nou aanpas by die lewe in die tehuis sonder haar.

Dean het Ivan gevra of hy steeds na­weke na hul huis kan kom, en Ivan vertel hy sou dit nie anders wou hê nie.

“Hy is deel van ons familie.”

Want veel donkerder as die beurtkrag van daardie laaste kuieraand was die hartseer en verlies wat gevolg het. En nou is die lig wat die gebroke groepie dra die herinnerings en liefde wat bly.

Meer oor vuurjel

Vuurjel is hoogs ontvlambaar, waar­sku dr. Marietjie Lutz van die departement chemie en polimeerwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch.

“Baie soorte brandstofjel skep nie ’n sigbare vlam nie. Dit kan veroorsaak dat die gebruiker glo dit brand nie meer nie en dan meer daarvan by die reeds brandende jel byvoeg.”

Dit kan ’n ontploffing of brand veroorsaak.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.