Bruce McArthur (66) het ’n dekade gelede landskapwerk vir Karen Fraser en haar lewensmaat Ron Smith in Leaside, Toronto, begin doen in ruil vir stoorplek vir sy toerusting. Min het hulle geweet hy sou meer as net sy toerusting op die eiendom stoor.

McArthur is op 18 Januarie in hegtenis geneem op twee aanklagte van moord, dié van Seliim Esen (44) en Andrew Kinsman (49).

Vrydag het daar nog name bygekom, dié van Majeed Kayhan (58), Soroush Marmudi (50) en Dean Lisowick (47).

Asof die aantal moorde nie reeds genoeg is om inwoners van Toronto tot in hul wortels te skud nie, is die manier waarop McArthur na bewering van sy slagoffers ontslae geraak het iets wat aan ’n Stephen King-riller herinner.

Die slagoffers se geraamtes en liggaamsdele is in 12 groot planthouers op die eiendom gevind waar hy sy toerusting gestoor het. Maar nou gooi die polisie hul net verder. 

Intussen is daar sedert Vrydag op nog 15 planthouers beslag gelê. Die polisie sê die ontdekkings tot nou toe kan reeds die slagoffertal tot minstens 10 laat styg.

Hy was daar met planthouers . . . groot en donker swart plastiek-planthouers.

Bisson sê die skokkende nuus het hom herinner aan ’n voorval in 2008 toe McArthur werk by hul woonstelkompleks verrig het. McArthur het gras geplant in ’n gedeelte wat deur ’n vloed beskadig is.

“Hy was daar met planthouers . . . groot en donker swart plastiek-planthouers. En dit is alles langs die woonstelgebou geplaas,” het Bisson gesê. Hy wil ook nie aan die moontlikheid dink dat McArthur iets daar sou aanvang, oftewel “plant” nie.

Dertig eiendomme is nou ook onder die loep.

Die Toronto Sun beskryf McArthur as ’n hedendaagse Dr. Jekyll & Mr. Hyde.

In 1999 was hy ’n getroude reisende handelaar wat sokkies verkoop het. Hy het sy familie agtergelaat nadat hy hulle vertel het dat hy gay is en koers gekies na Toronto.

Maar wat is die kans dat hy eers op 60-jarige ouderdom as ’n moontlike reeksmoordenaar sou ontpop?

’n Kriminoloog verbonde aan die Western-universiteit in Ontario, prof. Michael Arntfield, glo dat sy slagofferlys oor dekades kan strek sou hy wel die moorde waarvan hy aangekla word, gepleeg het.

Hy het ook reeksmoorde as ’n “jong man se speletjie” beskryf.

“Toe hy ’n reisende handelaar was, was daar nie DNS of sosiale media nie. Boonop het die onderskeie polisiedepartemente nie baie inligting uitgeruil nie,” het Arntfield gesê. Hy het ook reeksmoorde as ’n “jong man se speletjie” beskryf.

’n Geroeste wrak

McArthur het baie laag onder die radar gevlieg. Maar dit sou ’n enkele oorsig aan sy kant wees wat die polisie aanvanklik op sy spoor sou bring. Teen die einde van September het hy sy Dodge Caravan-bakkie wat hy vir ’n skamele $125 (sowat R1 190) aan die skrootwerf verkoop.

Daar was bloedvlekke in die geroeste wrak gevind. Gerugte doen die ronde dat die polisie deur speurders gevang is toe hy ’n ander skrootwerf wou binnegaan. Daar is glo bloed in die bagasieruim van die voertuig waarmee hy gery het, gevind.

Dit het die polisie die nodige ammunisie gegee om ’n lasbrief vir sy woonstel in die hande te kry.

Die ‘gelukkiges’

’n Jong man, wie se naam nie bekend gemaak is nie, het op 18 Januarie saam met McArthur na sy woonstel gegaan. Polisie het in daardie stadium reeds vir McArthur in hul visier gehad ná die verdwyning van mense met wie hy kontak gehad het.

Hulle het besluit om sy woonstel te bestorm omdat hulle geglo het die jong man het in gevaar verkeer. En hulle was reg. Hy was reeds aan die bed vasgemaak.

Peter Sgromo het in April 2017 met McArthur kennis gemaak.

Wat aanvanklik ’n romantiese ervaring sou wees, het in ’n nagmerrie ontaard toe McArthur probeer het om sy nek te breek.

Gelukkig kon Sgromo terugveg — en byna ’n jaar later nog leef om sy storie aan die polisie te vertel nadat hy van McArthur se inhegtenisname gehoor het.

En die polisie hoop nog vele "Sgromo's" kom nou na vore . . .

Ontmoetings

Benewens McArthur se baie aktiewe Facebook-blad (nou gesluit) was hy gereeld te sien op verskeie aanlyn afspraakplatforms soos manjam en silverdaddies. Sy gunsteling skuilnaam was “silverfox”.

‘Ons is ook slagoffers’

Todd McArthur (37), McArthur se jongste van twee seuns, bevind homself ook aan die verkeerde kant van die reg.

Todd McArthur: "Ons is ook slagoffers". Foto: Gallo Images/Getty Images

Hy het Donderdag in die hof verskyn op aanklagtes van die verbreking van sy borgvoorwaardes, die maak van onsedelike oproepe en kriminele verpesting.

Hy wou egter nie met die media in gesprek tree nie en het gesê: “Ons is deur genoeg, ons is ook slagoffers.”

McArthur sal op 14 Februarie in die hof verskyn op vyf aanklagte van moord.

Bronne: nypost.com, cbc.ca, thestar.com, torontosun.com