Maar die Grammy-wenner (47) het nooit reguit erken dat hy sy pragtige vrou verneuk het nie – tot nou toe.

Die Amerikaanse rapper het uiteindelik in ’n openhartige onderhoud met Dean Baquet van The New York Times erken hy het Beyoncé (36) verneuk.

Die pa van drie het gesê hy het nie die pyn van sy verlede verwerk nie, en dit het hom emosioneel onbeskikbaar gemaak, wat uiteindelik tot die verneukery gelei het.

“Jy moet oorleef. Jy gaan dus in oorlewingsmodus, en as jy in oorlewingsmodus gaan, wat gebeur? Jy skakel al jou emosies af,” sê hy.

“Selfs met vroue gaan jy dus emosioneel afgeskakel wees, en jy kan nie ’n band vorm nie. In my geval was dit diepgaande. En dan gebeur dinge vandaar, soos die ontrouheid.”

A post shared by Beyoncé (@beyonce) on

Beyoncé het ook in haar visuele album, Lemonade, na sy affair verwys. En hoewel haar man nie die vrou se naam bekend gemaak het met wie hy haar verneuk het nie, het Beyoncé haar “Becky with the good hair” genoem.

Die magtige hiphop-paartjie was op die randjie van ’n egskeiding, maar terapie het hul huwelik van nege jaar gered, berig The Sun. Jay-Z en Bey het drie kinders – Blue Ivy (5)en die vyf maande oue tweeling, Rumi en Sir.

Die rapper het bygevoeg dat dit nie so beplan was om oor hul verhouding te skryf nie, maar dit was op die ou end ’n terapeutiese ervaring vir hulle albei.

“Ons het ons kuns amper soos ’n terapiesessie gebruik. Ons het saam musiek begin maak. In daardie stadium was die musiek waaraan sy gewerk het verder gevorder. Dus is haar album uitgereik in plaas van die gesamentlike album waaraan ons gewerk het. 

“Ons het nog baie van daardie musiek. Daar was nooit ’n punt waar ek gedink het: ‘Ek maak hierdie album’ nie. Ek was die hele tyd daar.”

Hy het bygevoeg die ervaring om saam te skryf, was “baie ongemaklik”.

“Die beste plek is in die middel van die pyn. En dis waar ons ons bevind het. En dit was ongemaklik. En ons het baie gesprekke gehad.

“Ek was werklik trots op die musiek wat sy gemaak het, en sy was werklik trots op die kuns wat ek uitgereik het.

“Aan die einde van die dag het ons ’n gesonde respek vir mekaar se kuns. Ek dink sy is ongelooflik.”

Bronne: The New York Times, The Sun, Daily Mail