“Hy het gesê: ‘Jinne, ma, dit sal nou só lekker wees.’

Maar Julie (59), kon nooit vir haar seun vertel hoe dit gesmaak het nie, want die volgende oggend, kort ná agt, moes sy hoor haar seun is die vorige aand tragies in ’n motorongeluk oorlede. 

Wyle Hennie Willemse. Foto: Verskaf
Wyle Hennie Willemse. Foto: Verskaf

Ook sy verloofde, Jacqueline Smith (39), wat in Pretoria woon, en vir hom gewag het om weer in Desember te kom kuier sodat hulle kon begin trouplanne maak, is verpletter gelaat. Sy het nie kans gesien om met Huisgenoot te gesels nie, maar het in ’n boodskap geskryf: “Al wat ek nou kan sê, is dat hy my happily ever after was . . . Ek sou graag meer wou sê, maar woorde is daar nie nou nie . . .”

Hennie het reeds drie jaar gelede in Alapaha in die staat Georgia begin boer, maar hy sou Maandag met ’n nuwe werk, meer as 1 300 km noord van daar, in Springfield in die staat Illinois begin. 

“Maar dit het nooit gebeur nie,”  het sy Donderdagoggend emosioneel aan Huisgenoot vertel. “Ek sê altyd die Here het ’n doel met als op aarde, maar dié ding sal die Here vir my moet wys . . .”

‘Ek sê altyd die Here het ’n doel met als op aarde, maar dié ding sal die Here vir my moet wys…’

Die laaste gesprek was kort nadat hy daar in Springfield aangekom het. Die ongeluk het ure later, kort voor middernag, skaars 1,6 kilometer van die plaas gebeur, toe Hennie vermoedelik by die nabye vulstasie gaan sigarette koop het. Hy was reeds op pad terug plaas toe toe hy verongeluk.

“Dit is vir ons nog baie onverklaarbaar, maar ek glo nie hy was moeg nie. Toe hy die middag daar aankom, het hy ons nog die nuwe plaas gewys waar hy gaan werk, die voertuig wat hy gaan ry, en vertel hoe nice die mense is saam met wie hy nou gaan werk.”

Volgens die plaaslike koerant The State Journal-Register het die ongeluk in Watts-straat gebeur en was Hennie alleen in die ongeluk betrokke. Sy voertuig het teen ’n kragkabel gebots. Dit het bo oor die motor gelê toe die polisie daar aankom. Die oorsaak van die ongeluk is nie bekend nie.

Julie vertel die lykskouingsverslag sal tussen vier en ses weke neem, maar hulle vermoed dat Hennie dalk op die pad ’n hartaanval of bloedklont gehad het, wat tot die ongeluk kon gelei het.

Die ma vertel sy het destyds vir haar seun die R25 000 geleen wat dit sou kos om hom in Amerika te kry, maar hulle moes hoor dit sal meer as R180 000 kos om sy oorskot terug te bring. 

Die Willemse-gesin van links, Hennie se oudste bro
Die Willemse-gesin van links, Hennie se oudste broer, Seun, Hennie se ma, Julie, sy suster, Bianca, pa, Martin en Hennie. Foto: Verskaf

Sy vertel sy goeie Suid-Afrikaanse vriend, Willie Steenkamp, en ander vriende in die VSA het intussen begin fondse insamel en gelukkig het die Dixon-familie waar hy voorheen gewerk het, ook aangebied om te help. 

“Dit lyk asof hulle (die Dixons) my kind vir my gaan huis toe stuur,” vertel sy. “Ek dink die nuwe werk wat hy sou begin, was net ’n nuwe uitdaging vir hom, want hy was baie lief vir hulle en hulle vir hom. So dis ’n baie sad storie vir hulle ook.

“Hennie was maar ’n kind vir nuwe uitdagings. Hy is oor om geld te maak sodat hy ’n beter lewe kon hê.”

Sy vertel Hennie was nog getroud toe hy in 2018 oorgegaan het, maar is in die tweede jaar terwyl hy daar gewerk het van sy vrou geskei. Hy en sy eksvrou het saam ’n seuntjie aangeneem, oor wie hy baie erg was. 

“Dit het hom met ’n gebroke hart gelaat,” vertel Julie. “Want hulle is die rede hoekom hy oorgegaan het.”

Wyle Hennie Willemse. Foto: Verskaf
Wyle Hennie Willemse. Foto: Verskaf

Julie vertel Hennie het wel intussen weer nuwe liefde gevind by Jacqueline, die suster van ’n skoolvriend, en sy het hom ná sy egskeiding getroos.

“Hulle was verloof en sy was baie lief vir Hennie, en ek glo hy ook vir haar. Ek dink as hy nou 13 Desember huis toe gekom het sou hulle maar trouplanne begin maak het. Sy was goed vir Hennie en het hom deur baie bygestaan.”

Sy vertel ondanks alles het hy ook ’n goeie tyd in die VSA gehad.

“Die kind het dit baie geniet daar. Hulle het gaan uiteet, see toe gegaan . . . Maar hulle het ook baie, baie hard gewerk. Ek en Hennie het drie, vier, vyf maal per dag gepraat. As hy in die oggend opstaan, dan bel hy en sê: ‘Môre, my Moeder . . . Ek het nog al die boodskappies . . .’

Wyle Hennie Willemse was passievol oor sy werk as
Wyle Hennie Willemse was passievol oor sy werk as boer in Amerika. Foto: Verskaf

“Hennie was ’n baie goeie mens, ’n wonderlike man. Ek glo nie daar was ’n beter man of pa op aarde gewees nie, nie omdat dit my seun is nie, maar omdat ek dit weet.”

Julie vertel haar jonger dogter, Bianca, en oudste seun, Seun, trek nes hul pa, Martin, ook baie swaar.

“Dit gaan baie sleg met sy pa, hulle was baie erg oormekaar. Ons was ’n baie hegte familie.”

Nou is dit net ’n kwessie om hul seun weer by die huis te kry.

“Ons wil hom ordentlik begrawe dié kant, ordentlik baai sê. Die Dixons het aangebied om my soontoe te vlieg om hom te gaan haal. Hulle is bitter goed vir my. Ons wil ons kind hier begrawe. Jy kan nie daar afskeid neem nie.”

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.