Charlene en haar dogtertjie het onlangs ernstige brandwonde opgedoen. Dit is nog onbekend wat die inhoud van die drom was wat tot die ontploffing gelei het nie.

Dit het na hulle kant toe geskiet, en albei is erg gebrand. 

Johan Fourie (26) het sy dogtertjie gegryp en in die water gedruk terwyl sy op die grond gerol het om die vlamme dood te kry. 

Charlene onthou nie veel wat daai dag gebeur het nie. 

“Ek onthou hoe ek weggedraai het om my dogtertjie te beskerm, maar alles is verder ’n blank. Alles kom weer terug waar ek op die grond rol om die vlamme te probeer dood kry,” vertel sy. 

Sy kan vandag al baie op haar eie doen, maar haar ma en skoonma sit ook hand by. “Dit is maar moeilik met een hand.”

Charlene het tweedegraadse brandwonde aan haar gesig, linker boarm, bors en regterhand opgedoen, terwyl Miandrie aan haar gesig en hand gebrand het. “Elke keer ná die wondsorg brand my hand,” sê sy. 

Ma en dogter het Maandagmiddag die plastiese chirurg by die Life Rosepark-hospitaal in Bloemfontein gesien. 

“Dit het goed verloop en omtrent al my wonde is amper gesond. Ek is bly Miandrie se herstelpad is korter as myne, veral omdat sy nie verder getraumatiseer word deur vasgedruk te word wanneer nuwe verbande aangesit moet word nie.” 

Charlene moet ook Donderdag ’n operasie aan haar hand ondergaan. 

“Hulle gaan haar hand skraap en ’n veloorplanting doen. Die vel aan haar oor is ook heeltemal afgebrand. Hulle het dit behandel en toegemaak en gaan dit weer in die teater oopmaak om te kyk of dit al beter lyk, anders gaan daar 'n veloorplanting wees aan haar oor ook,” vertel Nastassja Blignaut, ’n familielid van die gesin. 

Al is sy nog nie seker vir hoe lank sy nog behandel gaan word nie, is Charlene bly Miandrie se herstelpad is amper aan verby.

“Dit is nog net die rooiheid wat moet weg, en ons mag nou room gebruik om merke te voorkom,” sê sy. 

Nastassja en die res van die familie het ’n fondsinsameling vir die gesin begin omdat hulle nie 'n mediese fonds het nie. Sy is reël ook al die doktersafsprake vir die ma en dogter. 

Charlene is op haar beurt veral dankbaar teenoor vreemdelinge van reg oor die land wat ook gehelp het om hul behandeling moontlik te maak. 

“Dit laat 'n mens besef dat daar nog steeds soveel mense is daar buite wat omgee oor ander en goeie harte het,” sê sy.

“Ons is juis dankbaar dat mense in die moeilike finansiële tyd met covid-19 steeds bereid is om by te dra. Ons het al pakkies van mense ontvang met salf en verbande,” sê Nastassja. 

“Ons sal vir ewig dankbaar wees vir almal,” voeg Charlene by.