Sy weet nie hoe sy moet voel nie. Jeanette Jonker (26) van Bloemfontein is aan die een kant bly die man, wat vir haar ’n ongekende hel veroorsaak het deur haar foto en persoonlike selfoonnommer op ’n seksgroep te laai, is nou in die hof skuldig bevind.

Maar aan die ander kant is sy steeds onseker oor wat die toekoms inhou.

“Ek is bang vir die dag wanneer hy uit die tronk kom . . . Dit is ás hy tronk toe gaan. Ek het steeds in die hof gevoel hy intimideer my, want hy het vir my gelag toe hy so in die gange van die hof geloop het.”

Jeanette, die ma van twee jong kinders, het in Mei vanjaar haar rieme met Nardus styfgeloop.

Foto’s: Facebook, Verskaf
Jeanette het Nardus op Facebook verkla nadat hy glo met haar geld verdwyn het nadat sy sigarette wou koop. Foto: Facebook

Jeanette het in dié tyd, terwyl sigaretverkope in die eerste paar maande van die inperking weens die covid-19-pandemie nog verban was, uit desperaatheid op Facebook gevra of enigiemand vir haar “stokkies” het.

Nardus Bezuidenhout (28) het op die navraag reageer en afgespreek om haar verloofde, Charl Willemse (29), in die stad te ontmoet.

Foto’s: Facebook, Verskaf
Jeanette en haar verloofde, Charl Willemse, het twee kinders saam. Foto: Verskaf

Dié onwettige transaksie het egter lelik skeefgeloop.

Die paartjie het Nardus daarvan beskuldig dat hy die R600 gesteel en gevlug het sonder om die sigarette te oorhandig. Jeanette was woedend en het Nardus op Facebook ontbloot. Nardus het Jeanette toe met die dood gedreig as sy nie dié inskrywing verwyder nie, en uit wraak haar foto’s en kontakbesonderhede op ’n sosialemediagroep vir seksmaats geplaas.

Netwerk24 het Dinsdag berig die landdros het beslis Nardus het homself inderdaad aan crimen injuria en intimidasie skuldig gemaak. Hy is egter onskuldig bevind op aanklagte van diefstal en bedrog, asook nog drie aanklagte van intimidasie.

nardus
Nardus Bezuidenhout in die beskuldigdebank van die Bloemfonteinse landdroshof. Foto: Mike van Rooyen

“Ek het verneem Nardus het die diefstal (van die R600) op advies van sy regsverteenwoordiger ontken omdat die transaksie in lockdown gebeur het. Volgens sy prokureur het ons self nie vir Cyril Ramaphosa geluister nie. Ons kan dus nie vir Nardus wil aankla van diefstal as ons self nie vir die president geluister het nie, en probeer sigarette koop het in lockdown. Ek verstaan dit nie, want diefstal bly diefstal,” sê Jeanette.

Pleit skuldig op sommige aanklagte

Nardus het volgens Netwerk24 wel beken dat hy Jeanette te na gekom het deur haar besonderhede aanlyn te laai, en dat sy weens sy dreigemente vir haar lewe kon vrees.

“Ek is dankbaar dat hy wel skuldig bevind is aan die intimidasie en teistering, maar ek het en sal altyd ’n vrees hê dat hy wel gaan kom wraak neem,” was Jeanette se reaksie.

“Hy’t daai tyd gesê hy kom vir my, en ek is steeds baie bang daarvoor.”

Huisgenoot het in Junie oor Jeanette se trauma berig kort nadat Nardus haar besonderhede op Facebook gelaai en sy honderde “vieslike” boodskappe begin ontvang het.

Jeanette het toe vertel sy was "histeries". Sy moes oplaas weens angs en depressie  in ’n kliniek opgeneem word. Dit was vir Jeanette veral ’n moeilike situasie omdat sy haar eie onderneming van haar selfoon bestuur, en nie haar kontakte wou verloor nie.

Foto: Verskaf
Jeanette Jonker is geteister nadat haar pad met dié van Nardus Bezuidenhout gekruis het. Foto: Verskaf

In die hof moes sy hom egter in die oë kyk toe sy teen hom getuig.

“Dit was vir my baie traumaties om hom te sien. Die feit bly staan, hy sal nooit kan terugvat wat hy gedoen het nie, en tienduisende mans daar buite het nou my nommer en gesig. Ek gaan my nommer binnekort moet verander. Ek kry steeds boodskappe van mans; so ek kan nie so aangaan nie.”

Jeanette glo nie Nardus het enige berou oor wat hy aan haar en haar gesin gedoen het nie.

“Nee, vir hom is dit ’n moerse grap.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe