Hulle kan sien wanneer hy hartseer is, sê sy ma, Katinka Roodt, telefonies vanuit Stilbaai in die Wes-Kaap waar hulle deesdae woon. Die Roodt-gesin het onlangs vanuit Heidelberg in Gauteng hierheen verhuis. Net ’n paar dae gelede nog het Ruben na ’n foto van sy kleinboet, Ruan, gekyk.

Hy was maar amper twee jaar oud toe hy in Mei 2018 weens ’n immuungebrek sterf. “Mamma, ons moet bid dat boetie kan terugkom,” het klein Ruben sag gesê en omgedraai, vertel Katinka.

Min het sy en haar man, Pieter, kon raai watter draaie die lewe nog met hulle sou loop nadat die immuungebrek in Desember 2016 by Ruben sowel as Ruan gediagnoseer is . . . 

Pa Pieter saam met sy twee seuns, Ruben (links) en Ruan (regs).

Kort ná klein Ruben se geboorte op 8 Februarie 2015 het dokters besef iets groots is verkeerd. Op 22 Junie 2016 het Ruben ouboet geword en ook met klein Ruan was die prognose hartseer: Hy is met sy ingewande buite sy lyfie (gastroskise) gebore.

Nie lank daarna nie is die immuungebrek by albei Roodt-boeties gediagnoseer. Dié toestand word deur ’n genetiese mutasie veroorsaak en kom by net een in 50 000-100 000 geboortes voor.

Ná ’n lang gesukkel om geskikte skenkers te kry, kon albei boeties op 28 September 2017 beenmurgoorplantings ontvang. Vir Ruben het die skenking van ’n Suid-Afrikaner gekom. En vir Ruan van sy ma.

"Dit opsig self was ’n wonderwerk," vertel Katinka. “Waar daar aanvanklik geen moontlike skenkers vir Ruben was nie, was daar nou een uit die Kaap en waar daar vir Ruan 50 moontlikhede was, was nie een geskik nie.” 

Dis toe dat dokters besluit het om te kyk of Katinka nie ’n gepaste skenker kan wees nie. Sy vertel dat sy daardie oggend nog te min beenmurgselle gehad het, maar nadat sy gebid het, het dit vermenigvuldig.

“Die dokters kon dit nie glo nie. Teen die middag was daar byna genoeg om vir 50 mense te skenk.”

Die seuntjies het op Katinka en Pieter se huweliksherdenking, 28 September 2017, ’n nuwe lewe met nuwe beenmurg begin aanpak. ’n Week ná die operasie by die Netcare Unitas-hospitaal in Centurion was Ruben so sterk dat dokters vir die Roodt-egpaar gesê het hulle het nog nooit vantevore ’n pasiënt ’n week ná ’n beenmurgoorplanting ontslaan nie.

Maar met kleinboet Ruan het dit nie so goed gegaan nie.

“Dit was asof my beenmurg en Ruan s'n teen mekaar baklei,” vertel Katinka. “Dit was heeltyd op en af met sy gesondheid, hy het so maer geword. En kort daarna is transplantaat-versus-gasheer-siekte (TVGS) ook nog by hom gediagnoseer.”

Katinka vertel dat hul gesin byna by die hel omgedraai het. Ruan het ’n rooi uitslag oor sy lyfie ontwikkel en daar was niks wat sy ma of dokters vir hom kon doen nie.

En toe verander die Roodt-gesin se lewe binne ’n week.

Ná drie jaar dat die gesin nie ’n normale lewe kon lei nie, wou Pieter en Katinka hul seuns die geleentheid gee om soos ander kinders in die sand te kan speel en hul voetjies in die see te kan sit.

“Ons het een Vrydag agtergekom Ruben raak verkouerig, maar dit was nie ernstig nie,” vertel Katinka. “Die Maandag was Ruben weer gesond en ek en my man het toe gedink ons sou die Woensdagoggend Richardsbaai toe ry . . .”

Sy raak ’n oomblik lank stil.

“Daardie Woensdagoggend, net ná middernag, was Ruan so erg gedehidreer dat ons Pretoria toe moes jaag. Hy het koors gehad, maar sy handjies en voetjies was yskoud. Sy bloeddruk was so laag dat masjiene dit nie eens kon optel nie,” vertel Katinka deur haar trane.

Ruan het septisemie opgedoen en dit het veroorsaak dat sy een voet heeltemal swart raak. Die dokters se raad aan Katinka en Pieter was dat hulle almal moet kry om te bid.


“Dit was so ’n klein lyfie met so baie pype . . .”

Katinka vertel dat klein Ruan se niere in die stadium so opgeswel soos ’n volwasse man s’n was.

Klein Ruan Roodt kort voor sy dood.

Gee net my kind vir my terug, is al wat Katinka die Here gevra het . . . en Ruan se lewer en niere het weer begin werk, vertel sy.

’n Paramedikus het toe aan Katinka gesê dat dit een van 21 wonderwerke was wat met Ruan gebeur het in die kort tydjie wat hy in die hoësorgeenheid gelê het.

Maar dinge het weer skeefgeloop. Kort nadat Ruan van die septisemie herstel het, het hy ’n swam opgedoen. “Hy het seerplekke so groot soos R5-muntstukke ontwikkel,” vertel Katinka verder. “En toe kom dokters agter hy het moontlik ook bloeding op die brein.”

’n MR-skandering het bewys die bloeding op klein Ruan se brein is so groot soos ’n vuis en dit het veroorsaak dat sy brein gekrimp en na regs beweeg het. “Ek en my man het mekaar se hande gevat en gesê ons vat dit na die Koning toe. Ons het dit by die Here se voete neergelê en ons het hom gevra om ons kind se lewe te spaar, maar dat Sy wil sal geskied.”

Vir ’n oomblik het dinge beter gelyk toe klein Ruan sy bene en arms kon optel, gehuil het wanneer sy ouers die kamer verlaat en selfs die dokters verkeerd bewys het toe hy weer kon sluk.

Maar ’n paar dae later het almal geweet: Hul seuntjie gaan dit nie maak nie.

Katinka vertel hoe klein Ruben langs sy boetie op die hospitaalbed gelê het en sy handjie op Ruan se hart gesit het.

“Jy kon die Here in die kamer voel. Ons kind was nie in pyn nie,” sê Katinka. “Ek het weer gevra: Here, laat U wil geskied . . . en toe blaas hy sy laaste asempie uit.”

Hoewel dit vir die Roodt-gesin ’n groot verlies is, vertel Katinka dat die Here tog haar kind teruggegee het.

By klein Ruan se gedenkdiens het hy volgens sy ma nes ’n engel in sy klein wit kis gelyk. Ruan is veras met sy gunstelingkussingsloop, sy teddiebeer in een hand en ’n roos in die ander.

“Die Here het my kind vir my teruggegee, my mens . . . ” sê sy deur haar trane. “Hy het perfek gelyk . . . soos ’n engel.”

Benewens die mooi gedagte om aan vas te klou, het Katinka en Pieter op die dag van sy dood ook ’n klein stukkie van Ruan se hare in sy Kinderbybel geplak.

“Die Here het ons in Stilbaai met ’n doel kom neersit,” vertel Katinka. “Ouers wie se kinders siek is of ouers wat hul kinders aan die dood moet afstaan, kom skep by ons moed.”

Klein Ruben kan vir die eerste keer in jare soos ’n normale seuntjie visvang.

Op Ruben is sy en Pieter ook baie trots. “Hy weeg al 16 kg en sy juffrou sê hy is op emosionele vlak verskriklik sterk,” spog Katinka. “Hy praat en hy kan al tel. Hy is ontsaglik slim en verskriklik bekkig – ons geniet hom regtig en lag so baie vir die goed wat hy kwytraak.”

En nou kan klein Ruben, wat jare lank nie soos gewone kinders die see kon geniet nie, elke dag vissies in die poele vang . . .