In die internasionale uitgewersbedryf kry ’n mens James Patterson en daarna kom “al die ander”, sê hulle. Hy het al meer as 375 miljoen eksemplare van sy romans verkoop en so ander trefferskrywers soos Dan Brown, John Grisham en Stephen King die loef afgesteek. Die kans is goed sy jongste projek sal nog verkooprekords laat spat.

Dié boek, wat in die Withuis afspeel, het hy immers saam met ’n voormalige Amerikaanse president geskryf.

Bill Clinton bars die woonvertrek van sy huis in New York soos ’n hittegeleide sjarmemissiel binne.

Ses mense wag op hom. Party is nuut; ander is personeellede wat hy ken. Die oudpresident draai die nuwelinge vinnig een-een om sy pinkie. Hy vra een van die vroue uit oor haar kinders en hoe hulle op skool vaar. Sy vermurwe. Hy maak my die hof met lang en gedetailleerde staaltjies oor al die aandenkings van bekende mense wat in die vertrek pryk. Ek is geboei. Dis die legende. The Comeback Kid. Gesellige Suidelike charisma, vurige intellek en ’n innemendheid wat nie verdof het in die byna 40 jaar dat hy in ’n magsborrel toegespin was nie.

Wanneer hy in politieke modus is, is hy amper volmaak, selfs nou. Hy trek my reguit na twee verslete ou vlae wat teen die muur geraam is: een Amerikaans; een Brits. Verheugde Parysenaars het dit glo gemaak om rond te waai terwyl die Geallieerdes hul stad in 1944 bevry het. Elders wys hy na geraamde sketse wat die musikant Bono vir Hillary (Bill se vrou) op haar verjaardag geteken het en ’n “fassinerende” biografie van Arthur Koestler, die Hongaars-Britse joernalis en skrywer, wat hy lees.

Ek is hier om met Bill te praat oor ’n riller wat hy pas saam met James Patterson geskryf het. Dié sluit by ons aan van sy naburige huis, ook in die voorstedelike New York. Hy lyk ’n bietjie soos die slegte spioenasiedienshoof wat Brian Cox in die Bourne-rolprente speel.

Hy vra een van die vroue uit oor haar kinders en hoe hulle op skool vaar. Sy vermurwe.

Terwyl die twee 71-jariges gesellig kuier, praat hulle oor settegnieke en Tiger Woods se terugkeer. James kla hy kan nie meer behoorlik slaap nie; nou bly hy laat op en kyk basketbal. Toe hulle vir ’n foto opstaan, betreur James die lengte wat hy met die jare verloor het. Bill sê hy is ’n raps meer as ’n sentimeter korter as die 1,87 m van sy fleur, maar toe ek langs hom staan, voel hy nader aan my 1,82 m.

Maar onder die gemoedelikheid knaag iets aan Bill. “Wat is dít?” vra ek en wys na ’n bronsgietstuk van twee hande wat mekaar groet. Dis Yitzhak Rabin en Yasser Arafat, vertel hy, wat hul beroemde “dapper waagstuk” tydens die Oslo-vredesverdrae van 1993, toe Bill president was, in die roostuin van die Withuis verseël.

Die dag voor ons onderhoud is talle Palestyne op die grens met Gaza doodgeskiet terwyl Benjamin Netanyahu, ’n aartsvyand van Bill, saam met die Trump-familie feesgevier het omdat die Amerikaanse ambassade in Israel na Jerusalem verskuif is. Daardie handdruk, ’n hoogtepunt van sy presidentskap, voel seker nou soos iets uit die verre verlede.

“Ja,” sê hy, “ek’t naar geraak toe ek sien wat hulle aan (die Palestyne) doen. Niemand gee meer om nie; nes ek vir Arafat gesê het sou gebeur as hulle nie die vredesooreenkoms aanvaar nie. Ek het hom gewaarsku.”

Later beskryf hy Arafat se besluit in 2000 om die vredesooreenkoms op die Camp David-spitsberaad saam met Ehud Barak te verwerp as die “grootste politieke fout van my leeftyd”.

Bill het die vredesooreenkoms tussen Israel se eerste minister Yitzhak Rabin en Palestina se president Yasser Arafat bewerkstellig.

Maar dis kwessies aan die tuisfront wat Bill eintlik pla. As in die land se kiesveldtog in 2016 ag geslaan is op sy raad om uit te reik na die “afgeskeepte” kiesers in die Rust Belt, kwynende nywerheidstreke, was hy dalk vandag presidentsman en kon hy ontsaglike mag agter die troon van nog ’n Clinton-administrasie uitgeoefen het.

Nou is hy buite die magskring, verwerp deur sy eie party en gebrandmerk deur die progressiewe beweging. Ná die opkoms van #MeToo het hy vir talle linkses ’n vervloekte geword.

Daar was ’n oomblik in die 1990’s, op die hoogtepunt van die skandaal oor sy affair met die Withuis-studentewerker Monica Lewinsky, dat party liberale feministe Bill verdedig het deur seksuele bevryding ter versagting van sy rokjagtery te verkondig. Maar die wêreld het verander en Bill het nie meer ’n greintjie mag om hom te beskerm nie.

Die Demokratiese aspirantpresidentskandidaat Kamala Harris het onlangs gesê hy moes weens die Lewinsky-affair bedank het.

Die riglyn om vroue te glo wat bewerings van seksuele aanranding maak, het die spoke van Bill se verlede laat herleef. Ook dié van Juanita Broaddrick, die verpleegster wat beweer hy het haar in 1978 verkrag. En berigte dat kandidate sy aanbiedings van steun in kongresveldtogte weier, bewys hoe giftig sy eens sterk politieke handelsmerk nou is.

Ons kuier aan die kombuistafel in sy woning in Chappaqua, sowat 50 km van New York af. James is informeel en ontspanne. Bill se hand bewe terwyl hy sy koffie sluk en verklap so ’n tikkie broosheid onder die blou kragpak. Hulle sê hulle het saam ’n boek geskryf, want hulle het dieselfde prokureur en dié het gedink hulle sou oor die weg kom.

Maar dis duidelik die twee het ook iets anders gemeen: ’n diepe besorgdheid oor die lot van hul land. Bill beskryf die boek as ’n “liefdesbrief aan Amerika”. James sê dit beklemtoon presidentwees is ’n “doodernstige werk”.

Nou is hy buite die magskring, verwerp deur sy eie party en gebrandmerk deur die progressiewe beweging.
Bill en James verlede jaar in die Glen Arbor-gholfklub aan die werk aan hul riller, The President Is Missing.

Die boek is Bill se eerste roman, maar nie sy eerste blitsverkoper nie; miljoene eksemplare van My Life, sy 2004-outobiografie, is verkoop. Wavragte van The President Is Missing sal verkoop word en die Amerikaanse kanaal Showtime het al miljoene bestee aan die TV-regte wat Hollywood verlede somer op hol gehad het. Almal soek ’n nuwe House of Cards.

Met die Clinton-stigting beleër ná die slae wat dit in die verkiesing van 2016 gekry het, lyk die boek na ’n slim kommersiële stap. Die Obamas maak immers reg om munt te slaan uit die presidentskap nadat hulle onlangs ’n reuse-veeljarige ooreenkoms onderteken het om programme saam met Netflix te maak.

Maar hoe het dit nou eintlik gewerk; wie het wat geskryf? “Ons het die werk afgewissel,” sê James. “Ons het net heen en weer gegaan met alles, van die titel tot die plan.” Hy sê die idee om saam met Bill te werk was vir hom “wonderlik”.

“Ek het hier (in die noorde van die staat New York) op ’n dorpie grootgeword en niemand het kleintyd ooit hierheen gekom nie. Maar eendag het pres. (Dwight) Eisenhower na die dorp gekom. Ek het nooit vergeet ek het Eisenhower gesien nie.”

Vir ’n rillerskrywer is die projek ’n geskenk van die uitgewersgode. Die presidentskap is die beste onderwerp en Bill die ideale gids. James hoop die boek sal onder “die beste rillers wees wat al oor ’n president geskryf is”.

Hy meen die egtheid verhef dit; details soos die geheime tonnels en kegelbane in die Withuis se kelder en Bill se insig in hoe dit voel om president te wees in die wete die wêreld se lot hang van jou af.

Die Withuis.

Albei skrywers beklemtoon dis nie ’n openlik politieke boek nie, maar ek laat my nie flous nie. Die president, Jonathan Lincoln Duncan, ’n oorlogsheld, gaan van die netwerk af om ’n ramp te probeer afweer.

Die uiteensetting is onberispelik. James is met rede die hoofrolspeler in die uitgewersbedryf. Die skryfwerk is knap, al wemel dit van geykthede. Maar die politiek is onmiskenbaar. Dit is ’n lofsang aan wat jy dalk die sekulêre godsdiens Amerikanisme kan noem, ’n postpartydige visie van waaroor die presidentskap behoort te gaan: bevoegdheid, opoffering, die breër voordeel vir almal.

Op langer termyn, sê Bill, beplan hy ’n tweede deel van sy outobiografie, oor sy lewe ná die presidentskap. Maar bewus van die openbare luim betree hy vir eers ’n onherbergsame openbare plein met ’n masker op en versluier sy menings oor Amerika vandag met fiksie.

Die boek begin met die president onder politieke beleg terwyl eensydige beskuldigingsverhore vergelykbaar met die “Salem-heksverhore” van die 17de eeu hom in die gesig staar. Klink bekend. Bill betreur dit dat die Amerikaanse politiek soos ’n “bloedsport” en die kiesers “soos mense in die Colosseum” lyk. Maar voel Bill ooit enige simpatie vir pres. Donald Trump?

Hy weet immers die beste hoe dit voel om sleggesê te word terwyl jy in die Ovaal Kantoor is. “Wel, ek weet hoe dit voel,” erken hy. “Maar aangesien ek nie eerste almal aangeval het nie, het ek dit nie soveel verdien nie. Baie van die goed is net ’n geval van boontjie kry sy loontjie.”

Iets wat hy Trump sal toegee, is dat hy ’n populêre aanslag het. “Of jy nou daarvan hou of nie, een van Trump se groot sterk punte is mense verstaan wat hy sê. Daar is byna geen regeringstaal nie.”

Maar dit maak hom hartseer dat dele van die Suide, sy ou tuiste, nou Trumpterrein genoem word? “Dis dalk nou deel van Trumpland, maar dis my kultuur; ek weet hoe mense dink,” voeg hy by, dalk nog bitter omdat sy vrou se veldtogbestuur hom geïgnoreer het toe hy sê hulle moet Michigan en Pennsilvanië se kiesers probeer omhaal.

Nog ’n groot kommer in die boek is stamgebondenheid. “Ons demokrasie kan nie sy huidige afwaartse stroming na stamgebondenheid, ekstremisme en gistende gegriefdheid oorleef nie,” sê die fiktiewe president in ’n stadium.

Dink Bill die Amerikaanse demokrasie is werklik in lewensgevaar? “Vra my oor drie jaar,” sê hy. “Dit is onder aanslag. Dis duidelik een van die doelwitte van pres. (Wladimir) Poetin (van Rusland): As hy verwoesting saai, wen hy.”

Bill se vrou, Hillary, moes in die presidentsverkiesing van 2016 die knie buig voor Donald Trump.

Bill hou nooit op optree en oorreed nie; verbreek nooit oogkontak nie. Hy herinner my “Roosevelt het eenkeer gesê die president moet Amerika se beste akteur wees”, en jy kry die gevoel hy kon nie nou die vertoning afsluit nie, al wou hy.

Ten spyte van al sy kommer oor die nasionale prikkelbaarheid glo Bill duidelik steeds in sy ou leuse: Daar skort niks met Amerika wat nie reggestel kan word deur wat reg is met Amerika nie.

“In dié land kry ons dit altyd op die een of ander manier reg om weer balans te handhaaf,” sê James. Bill knik instemmend. “Jy kan nog nie sê Amerika is in gevaar nie; ons het te veel in ons guns,” voeg hy by.

Maar die uitslag van die presidentsverkiesing het beslis ’n sterk boodskap oorgedra dat die luim verander het. Bill se Demokratiese Party het amper geen wetgewende mag nie. Geen beheer oor enige groot hefbome van die regering nie. Wat het skeefgeloop?

“(Demokrate) verloor oornag 30 goewerneurs en 30 wetgewers in ’n land waar hulle in elke denkbare meningspeiling die meerderheid het,” sê Bill. “Hulle sê: ‘O Vader, hoe het dit gebeur?’ Dit het gebeur omdat hulle nie kragdadig genoeg was nie en nie genoeg uitgereik het nie.”

Monica Lewinsky het hom amper sy amp gekos.

En wat van Amerikaanse seksisme? Wat van Hillary se mislukking om deur die glasplafon te breek en die #MeToo-beweging wat daarop gevolg het? In die boek word die president se stafhoof se eie politieke ambisies verydel toe sy betrap word dat sy haar teenstander ’n skeldnaam met ’n seksuele ondertoon noem.

As ’n man dit gesê het, antwoord sy, sou dit nie ’n probleem gewees het nie. Die sin klink soos iets wat Bill se vrou dalk sou gesê het. Was die behandeling wat Hillary in 2016 gekry het die inspirasie daarvoor?

“Sy het nooit met enigiets hiervan vorendag gekom nie,” antwoord Bill vinnig voor hy die gesprek probeer stuur na die boek se vroulike sluipmoordenaar, wat in die Balkan-oorloë “verkrag en misbruik is”.

Hy praat in die algemeen oor die behandeling van vroue, maar is blykbaar huiwerig om oor homself in dié verband uit te wei. ’n Mens moet eenvoudig Bill se vermoë bewonder om ten spyte van sy probleme veerkragtig te bly.

Aangesien die gesprek ’n bietjie saai was, probeer ek ’n ligter vraag. “Gegewe dat jou politieke loopbaan nou verby is, kan jy vir my sê, mnr. die president, het jy ingeasem?”

Bill grynslag. “Ek’s bly jy vra my. Nee!”

The President is missing deur Bill Clinton en James Patterson (Alfred A. Knopf en Little, Brown & Co.), R215 by takealot.com). Die prys was korrek teen druktyd en is onderhewig aan verandering sonder voorafkennisgewing.

Die verwysing na die klein herrie in 1992 toe hy beweer het hy het dagga beproef terwyl hy by Oxford was, maar nie ingeasem nie, laat hom blykbaar opflikker. Hy beklemtoom vrolik die hele saak was ’n “vals kwessie” wat die pers bekook het. En later tydens die gesprek keer hy terug na die onderwerp. “Ek sou as ek kon, maar ek het nie,” sê hy.

“Ek het bitter hard probeer, maar ek het nie.” Teen die einde van die boek lewer die fiktiewe president ’n lang, opruiende toespraak aan die land wat baie soos ’n alternatiewe Clinton-manifes klink.

“Dink hoe anders dit sou gewees het as ons verder as ons grondslag uitgereik het om ’n breër spektrum menings en belangstellings te verteenwoordig,” spoor hy sy land aan. “Ons sou na mekaar leer luister en mekaar minder beswadder.”

Dit, voel jy, is die sentiment onderliggend aan die boekprojek sowel as Bill se huidige frustrasie. Hy sien sy land verdeeld; die eenheid rafel uit. Uit diepe ontevredenheid wend mense hulle tot figure soos Trump. Die land het ’n stem en ’n visie nodig wat baie van sy klowe kan help oorbrug. Dit was eens dié van Bill, die man wat, ondanks al die skandale, sy tweede termyn met ’n goedkeuring van 65% geëindig het, die hoogste van enige president sedert Harry Truman.

Terwyl ek oppak, maak James aanstaltes na sy motor, maar Bill praat steeds: oor die meriete van verskeie rillers, hoe hy regtig nie ingeasem het nie, wat ’n wonderlike aktrise Jennifer Lawrence is. The Comeback Kid sal aanhou praat. Maar luister Amerika?

© Josh Glancy/The Sunday Times Magazine/News Licensing; FOTO'S: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, ©2017 DAVID BURNETT/AFGENEEM BY DIE GLEN ARBOR-gholfklub, BEDFORD HILLS, NY