Die dag toe sy gebore is, het haar toekoms soos ’n glinsterende juweel voor haar uitgestrek gelê. In 1996 was Jennifer Gates se pa, Bill, die rykste man op aarde, met ’n fortuin van R55 miljard. Praat van met ’n silwerlepel in die mond gebore word . . .

Maar vandag, 24 jaar later, is sy allesbehalwe ’n gepamperlangde prima donna. Met haar blakende voorkoms straal sy jeugdigheid uit, maar sy het ook ’n goeie kop op haar skouers.

Jennifer het boonop die deursettingsvermoë om ’n verskil in die wêreld te maak by haar ouers geërf. “Ek is bevoorreg gebore,” het sy onlangs aan die perdetydskrif Sidelines vertel in ’n onderhoud wat nuwe insig in die lewe van die Gates-kroos bied.

“Dit gaan daaroor om die geleenthede te benut, daaruit te leer en om dinge te ontdek waaroor ek passievol is, en om hopelik die wêreld ’n beter plek te maak.” En sy beplan om dit met haar loopbaan te doen.

Jennifer, tans ’n mediese student aan die Icahn School of Medicine at Mount Sinai in New York, hoop om óf ’n pediater óf ’n algemene praktisyn te word en haar aan ander se welstand toe te wy.

Tog bly sy die dogter van die Microsoft-stigter, en dit kom met baie voordele.

Volgens die New York Post het haar pa en ma, Melinda, vir hul oudste ’n blyplek van R72 miljoen in Manhattan se spoggerige Fifth Avenue gekoop sodat sy naby die kampus kan wees. Maar die studentelewe was steeds aan die begin vir haar oorweldigend, vertel Jennifer.

“Die eerste week was ek so verstom deur die volume werk dat ek vergeet het om na myself te kyk, iets wat vir my baie belangrik geword het.

“Ek het sedertdien geleer om weer balans te kry en te sorg dat ek tyd het vir slaap, verhoudings, oefening, stiltetyd – al dié dinge wat met my studie hellp en in die toekoms met pasiënte sal help.”

Jennifer Gates
Jennifer in aksie. Sy sê om haar passie vir perde met Nayel te kan deel is “ongelooflik”. Foto: Gallo Images/Getty Images

Toe Jennifer ’n kind was, het haar ma eendag op haar afgekom waar sy plegtig een van haar poppe inlig hulle is MIV-positief. “Dis toe dat my ouers besluit het hulle praat dalk saans om die etenstafel te veel oor globale gesondheidskwessies,” sê Jennifer.

Om ernstige sake te bespreek was standaardpraktyk in hul huis nadat haar ouers die Bill & Melinda Gates-stigting – wat die gesondheid van mense wêreldwyd wil verbeter – begin het.

“Ek het grootgeword met stories oor kindersterftes, polio en die MIV-/vigs-epidemie.”

Maar ondanks hul rykdom en maatskaplike bewustheid het Bill en Melinda alles in hul vermoë gedoen om vir hul kinders grootwordjare te gee wat so normaal moontlik is.

Klein Jennifer het in Bellevue in Washington grootgeword en gesien hoe haar ma en pa elke aand die skottelgoed was, iets wat hulle vandag nog doen. En van uitspattige geskenke was daar g’n sprake nie.

Jennifer en haar broer, Rory (21), en suster, Phoebe (17), is nie toegelaat om ’n selfoon te besit tot op 14 nie.

melinda gates
Die ­Gates-gesin. Van links is Bill, Jennifer, Rory, Phoebe en Melinda. Foto: Instagram/@melindafrenchgates

Hulle het sakgeld gekry, en as hulle iets groots wou hê, is dit op hul Kersfees- of verjaardaglysie neergeskryf eerder as wat dit met die veeg van ’n kredietkaart in hul skoot beland het.

“Hulle sou dit dalk by ons of ’n familielid kry of glad nie, maar op daardie manier het hulle verantwoordelikheid oor geld begin leer,” het Melinda (nou 55) eenkeer aan Oprah Winfrey vertel.

‘Jy bewys jou kinders g’n guns om hulle rykdom te laat erf nie’

“Ons droom is dat hulle grootword en ongelooflike potensiaal het en dit gebruik ten goede van die wêreld.”

Die Gates-egpaar het ook hul kinders aan verskillende wêrelddele blootgestel. Hulle is nie net met luukse gesinsvakansies geneem nie; hulle is ook op filantropiese sendings wat die kinders van hul bevoorregte bestaan help bewus maak het.

Bill (64) – nou die rykste man op aarde naas Jeff Bezos van Amazon met ’n netto waarde van sowat $178 miljard (R3 biljoen) – het dit altyd duidelik gemaak hy beplan om ’n “klein” bedrag van sy verstommende fortuin aan sy kinders agter te laat.

Hulle sal sowat $10 miljoen elk ontvang. “Jy bewys jou kinders g’n guns om hulle groot hoeveelhede rykdom te laat erf nie, want dit verwring enigiets wat hulle dalk doen om hul eie pad oop te kerf,” het hy al in die Britse televisieprogram This Morning gesê.

“Die Gates-geld is daar om die armstes te help, en die kinders weet dit en is trots daarop.”

Die Gates-kroos het inderdaad hul eie paadjies uitgekerf. Phoebe, die jongste, wat nog op hoërskool is, is ’n uitsonderlike balletdanser.

Hul middelkind, Rory, het ’n graad in sagteware-ingenieurswese en het sy M.B.A. voltooi. Benewens Jennifer se mediese studie is sy ook ’n kranige ruiter.

Sy ry vandat sy op ses jaar oud haar hart op perde verloor het. “Ek was omtrent meegevoer deur die verhouding wat ek met die dier kon hê en die band wat jy smee,” sê sy.

Sy het ná skool aan die Stanford-universiteit in Kalifornië studeer, en nadat sy ’n graad in menslike biologie behaal het, het haar ouers vir haar ’n perdeplaas van R198 miljoen buite New York as geskenk gegee.

Die plaas is haar ontvlugting as mediese student. “Dis lekker om naweke iets te hê om na uit te sien, om ná skool te gaan ry en oefen. Dis ’n prettige stokperdjie,” sê sy.

Jennifer het in 2019 ’n oorbruggingsjaar geneem om mededingend perd te ry. In dié tyd het sy onder andere teen die Apple-stigter Steve Jobs se dogter Eve meegeding.

Sy het ook die liefde van haar lewe so ontmoet. Sy het in Februarie haar verlowing aan die Egiptiese ruiter Nayel Nassar (29) bekendgemaak. Dié het haar op ’n skivakansie die jawoord gevra.

Jennifer Gates
Jennifer het in Februarie haar verlowing aan die perde­ruiter Nayel Nassar bekendgemaak. Foto: Gallo Images/Getty Images

Nayel is in Chicago, Amerika, gebore en het die grootste deel van sy kinderjare deurgebring in Koeweit, waar sy welgestelde ouers ’n argitektuur-en-ontwerpmaatskappy bestuur het.

Hy praat vlot Engels, Arabies en Frans.

“Ek is baie gelukkig om hom as ’n maat te hê,” sê Jennifer.

“Hy is ongelooflik ondersteunend, nederig en lojaal, en ek sien daarna uit om ’n lewe saam met hom te bou.” Perde is ’n groot deel van hul lewe.

“Hy is ’n beroepsruiter, en ek doen dit as ’n amateur. Om ons liefde en passie vir perde met mekaar te kan deel is ongelooflik.”

Jennifer is versot op haar pa. Sy het hom op Vadersdag op Instagram bedank dat hy TikTok-video’s saam met haar maak. Sy het groot respek vir albei haar ouers en beskryf hulle as “ongelooflik hardwerkende mense”.

“Hulle het my nog altyd ondersteun,” het sy aan Sidelines gesê. “Toe ek jonger was, het hulle vir my gesê ek moet najaag waarin ek belangstel, of dit wiskunde, wetenskap, lees of skryf is.

Ek het altyd ’n baie goeie fondament gehad met hulle wat in my glo en bereid is om my in enige van my belangstellings te ondersteun.

“Hulle is uiteraard baie bevoorreg, maar hulle hou aan leer en is passievol daaroor om die wêreld ’n beter plek te maak.”

Die egpaar se stigting het al meer as R50 miljard vir wêreldgesondheid en ontwikkeling, opvoeding en ander kwessies geskenk – insluitend R335 miljoen om die covid-19-pandemie te help bekamp.

“Ek dink dis regtig cool,” sê Jennifer. “En dit het beslis ’n invloed op my terwyl ek my eie passies nastreef.”

BRONNE: SIDELINESMAGAZINE.COM, BUSINESSINSIDER.COM, CNBC.CO-M, YOUTUBE.COM, NYPOST.COM