Oudpresident Jacob Zuma is in die vroeë oggendure
Oudpresident Jacob Zuma het in die vroeë oggendure van 8 Julie by die Estcourt-gevangenis aangekom. Foto: Getty Images/Gallo Images/Mlungisi Louw

Die deure van die allemintige R387 miljoen fasiliteit in Macfarelane-straat in die KwaZulu-Natalse dorp is in 2019 oopgemaak en kan tot 512 gevangenes huisves. 

Dit is al beskryf as “een van die voorste” tronke in die land en een van die bestes waar Zuma sou kon opeindig. 

Zuma het Donderdagoggend in die vroeë oggendure by die tronk opgedaag nadat hy deur die konstitusionele hof skuldig bevind is aan minagting van die hof.

Die minister van justisie en korrektiewe dienste, Ronald Lamola, het tydens 'n persverklaring gesê Zuma lyk goed. Hy het op sy eerste oggend in die tronk ontbyt geëet en sy medikasie geneem. 

Die vorige Estcourt-tronk kon slegs 203 mense huisves en is in 2012 gesloop om vir die nuwe gebou plek te maak. Die nuwe fasiliteit het twee eenhede en is spesifiek ontwerp vir die rehabilitasie van medium-sekuriteit manlike oortreders.

Dit huisves nie verhoorafwagtende gevangenes nie.

Die tronk het onder meer ’n onderrig- en beroepsopleidingsentrum, sentrale kombuis, hospitaal-afdeling, oefensentrum en werkswinkel. 

Dit het ook akkommodasie-eenhede vir amptenare.

Die Estcourt-gevangenis.
Die Estcourt-gevangenis. REUTERS/Siyabonga Sishi

In 2020 is die moderne tronk ook ingespan as ’n fasiliteit waar gevangenes wat potensieel covid-19 opgedoen het, gehou is. 

Dit is hiervoor gekies oor sy grootte en vermoë om ’n groot aantal mense te akkommodeer terwyl hulle steeds sosiale distansiëring kan toepas.

Die voormalige minister van geregtigheid en korrektiewe dienste, Michael Masutha, het ten tyde van die opening van die fasiliteit gesê die opleidingsentrum is ingerig om oortreders op te lei met die nodige vaardighede om burgers te word wat in diens geneem kan word. 

“Die fasiliteit voldoen aan nasionale en internasionale standaarde. Dit sal ons in staat stel om gevangenes van ander oorbevolkte fasiliteite hierheen te bring. Hier is genoeg fasiliteite om rehabilitasie en gesondheidsdienste te verskaf. Ons het ook ’n mini-hospitaal met die nodige toerusting.”

Bronne: Iol.co.za, Northernnatalnews.co.za, Sabcnews.com, Netwerk24.com

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe