Minstens vyf leerders is tussen 2013 en 1019 hierby betrek, lui ’n verklaring van die skool.

Die verklaring is uitgereik ná afloop van ’n onafhanklike ondersoek na die skandaal wat gewoed het toe Fiona Viotti, ’n voormalige onderwyseres en waterpolo-afrigter van seksuele wangedrag beskuldig is.

Die voormalige Mej. Suid-Afrika deelnemer het op 11 Oktober uit haar pos by Bishops in Rondebosch in die suidelike voorstede van Kaapstad bedank toe ’n skoolseun glo sy verhouding met haar verbreek het. 

Fiona was na bewering onsteld en het vir hom WhatsApp-boodskappe gestuur en hy het oopgemaak en sy ouers daarvan vertel.

Dit het ’n bom in die gemeenskap laat bars. 

Fiona is getroud met 'n sakeman van Kaapstad, Pavo Viotti, en die dogter van Dave Mallet, ’n gesiene onderwyser by die skool.

Fiona en Pavo in gelukkiger dae saam met hul hond,
Fiona en Pavo in gelukkiger dae saam met hul hond, Sophie.

Die skoolhoof, mnr. Guy Pearson, sê in die verklaring dat Fiona aanvanklik haar volle samewerking met die ondersoek gegee het, maar dat sy die ondersoekers later meegedeel het dat sy nie bereid was om deel te neem nie. 

Haar prokureur, William Booth, sê die rede waarom sy nie met die onafhanklike ondersoekers wou praat nie, was omdat sy onder mediese sorg was. “Die skool kon ook nie enige waarborg gee dat enigiets wat sy sê nié openbaar gemaak sal word nie.”

Verder sê hy is daar aan hom meegedeel dat daar ’n ondersoek aan die gang was deur die Suid-Afrikaanse raad vir opvoeders en dus wou hy nie hê sy kliënt moes kommentaar lewer terwyl die ondersoek hangend was nie.

Volgens hom is Fiona nie meer in ’n psigiatriese sentrum nie, maar ontvang sy steeds behandeling. “Sy word uiteraard op ’n emosionele vlak deur alles geraak en die situasie word gemonitor.”

Enkele van die bevindings wat in die ondersoek gemaak is, sluit in:

  • Ondersoekers kon nie vasstel vir wie sy die video en foto’s gestuur het wat in die sosiale media versprei is nie.
  • Geen inligting het daarop gedui dat die skool van die seksuele wangedrag bewus was nie. Die skoolhoof is op 10 Oktober daarvan ingelig en Fiona het die volgende dag bedank.
  • Geen dissiplinêre verhoor kon gehou word nie, aangesien sy bedank het.
  • Fiona het Bishops se gedragskode vir professionele gedrag oortree, asook die gedragskode vir professionele en etiese gedrag van die Suid-Afrikaanse raad vir opvoeders.
  • Ondersoekers het die skool ingelig na watter owerhede die saak aan gerapporteer moet word.

“Die ondersoek is afgehandel, maar ons is bewus daarvan dat meer inligting na vore kan kom,” sê Guy.

“Ons verwelkom dit en moedig enigiemand aan wat met die skoolhoof of die skool se prokureur Graeme Dorrington in kontak wil tree.”