Brig. Leonard Hlathi, ’n polisiewoordvoerder, sê dit gaan goed met die tienerseun.

“Dit gaan goed met die seun en hy is nie seergemaak nie,” het hy gesê.

Kathlego Marite het op Sondagmiddag 20 Mei vermis geraak terwyl hy saam met twee vriende in Tasbetpark in Witbank gespeel het. 

’n Losprysbrief is later by die huis gelos wat eis dat die familie 15 bitcoin (R1,5 miljoen) betaal om Kathlego se vrylating te verseker. 

Die brief het ook vereis dat die familie nie die polisie betrek nie.

Hlathi kon nie besonderhede verskaf oor hoe hy gevind is nie.

Familielede het Donderdagmiddag by Kathlego se huis vergader nadat die nuus versprei het dat hy gevind is. 

Sy ooms en tannies wat hom nog nie gesien het nie, sê die nuus het baie vreugde gebring.

Hlathi kon nie besonderhede verskaf oor hoe hy gevind is nie. Foto: Gabisile Ngcobo

Bure stroom ook na die huis om die goeie nuus te bevestig.

Kathlego se vriende, wat saam met hom was toe hy Sondag ontvoer is, was in die wolke toe hulle hoor hul vriend lewe.

“Ja, God is goed,” het een seun verheug gesê.

Sy ouers is glo nog saam met hom by die polisiekantoor. Hy het blykbaar nie seergekry nie, maar is ’n bietjie geskok.