Hy het in Julie laasjaar China toe gekom om daar as onderwyser by 'n internasionale pre-primêre skool te werk, vertel Johann uit die Chinese stad wat vyf maande later die episentrum van COVID-19 sou word.

Die nuwe lewe in Wuhan was aanvanklik 'n groot aanpassing. "Die taalverskille was 'n probleem. Maar dit het mettertyd makliker geraak en ek en my leerlinge, 3 tot 5 jaar oud, het 'n hegte band ontwikkel."

In Januarie het hy en sy Filippynse vrou, Jidda, tydens die Chinese wintervakansie in die antieke stad Xi’an gaan uitspan. "Met ons terugkeer na Wuhan het ons bewus geraak van die nuwe virus wat skielik daar uitgebreek het. Aanvanklik kon ons nog vrylik rondbeweeg, maar ons moes wel chirurgiese maskers dra wanneer ons uitgegaan het. Toe, op 23 Januarie, hoor ons die owerheid het besluit om die lughawe te sluit. Buiten die opgeskorte vlugte, is alle openbare vervoer soos die busdiens en treine ook gestaak."

Aanvanklik kon Johann-hulle nog uitgaan om kruiden
Aanvanklik kon Johann-hulle nog uitgaan om kruideniersware te koop, maar spoedig was daar "skaars 'n siel in sig by 'n supermark". Foto: Verskaf

Die hele Wuhan is wesenlik onder kwarantyn geplaas. "Oral, byvoorbeeld by winkels en supermarkte, was mense in beskermende uitrustings wat almal se temperatuur meet as jy 'n plek binnegaan. Ook wanneer ons na ons woonstelkompleks teruggekeer het, is ons temperatuur by die ingang gemeet. Wuhan met sy 11 miljoen inwoners het oornag in 'n spookstad verander.

"Die strate was verlate, baie winkels het toegemaak, ook restaurante en kitskosplekke. Die plekke wat wel oop was, het hul sake-ure verkort.

"Mense het paniekerig begin raak en ekstra kosvoorraade aangekoop. Supermark-rakke en -yskaste het leeg geraak . . ." Tensy jy vroeg soggens inkopies doen, kon jy vergeet van produkte soos hoender, eend en eiers, beduie Johann.

Só is voorsorg getref toe mense nog wel vir inkopi
Só is voorsorg getref toe mense nog wel vir inkopies kon uitgaan. Foto: Verskaf

Daaglikse SMS-kennisgewings het hulle vermaan om sover moontlik binneshuis te bly en slegs wanneer dit regtig nodig was uit te gaan. "My baas het my ook gebel en gevra om binneshuis te bly, wanneer ek móet uitgaan 'n masker te dra en altyd genoeg kosvoorraad vir minstens twee weke in die huis te hê, asook ekstra maskers. 

"Kort daarna kry ons ook 'n boodskap van ons verhuurder dat ons slegs elke derde dag die kompleks mag verlaat en 'n spesiale permit moet hê sodat ons bewegings gemonitor kan word."

Intussen het skole onderrig verder en verder uitgestel. "Ons skool se personeel moes ook daagliks deur WeChat laat weet of ons 'n koors het, of enige simptome toon."

'EK HOOR MY VROU IN HAAR SLAAP HOES, EN EK WORD YSKOUD . . .'

"Ons kry weer 'n kennisgewing, dié keer dat ons glad nie ons kompleks mag verlaat nie. En ons skool laat weet die tweede semester is onbepaald uitgestel . . . en dat ons vir die duur van die kwarantyn slegs die minimumloon betaal word."

Die stres en onsekerheid het behoorlik aan hom begin vreet, erken Johann: "Volgens my werkkontrak kry ek 'n behuisingstoelaag – sou dít ten minste nog betaal word? Saans lê ek en somme maak: Hoeveel geld het ons oor, hoe lank kan dit hou? Waarsonder kan ons alles klaarkom? Sal ons van ons spaargeld moet gebruik? 

"Saans bid ek en my vrou dat die kwarantyn gelig sal word en ons weer normaalweg kan begin werk. Ek hoor my vrou in haar slaap hoes, en ek word yskoud: Is dit die begin van virussimptome? 

"Ek kry 'n gewone verkoue en begin wonder: Sê nou ek moet hospitaal toe, wat van my vrou? Hoe gaan sy alleen regkom? Sy stres klaar . . ." 

LEË KOSKASTE & NAASTELIEFDE: 'ONS BRING WAT JULLE NODIG HET . . .'

Met dié dat hulle nie meer self kon uitgaan om kruideniersware te koop nie, moes hulle deur 'n gemeenskapgroep hul kos bestel. Dit sou dan die daaropvolgende dag afgelewer word. Elke gemeenskap is in sones opgedeel, en elke sone kon al om die derde dag voorraad bestel. Maar die verskaffers het gou net omtrent eiers, groente, vark en olie gehad en alles het baie duurder geraak.

Foto: Verskaf
Foto: Verskaf

"Ons kry nie goed soos tee, koffie en  melk nie. Ons woonstelgebou se inwoners vorm 'n kletsgroep en meer as een mens bied hulp aan. 

"Iemand op die vloer net bo ons vra wat ons kort, en ek antwoord hom. Hy laat weet terug hy bring wat ons nodig het. Ons kommunikeer met WeChat Translate. 

"En die volgende dag bring iemand anders rys, groente, vark . . . verniet."

Terwyl Amerika, Brittanje en ander lande reëlings getref het om hul burgers uit Wuhan te ontruim, het die Suid-Afrikaners daar aanvanklik nie veel daadwerklike hulp gekry nadat hulle die SA ambassade in China genader het nie, sê Johann. "Waarop 'n WeChat-groep toe ook gestig word vir almal in Wuhan wat wil teruggaan na SA."

Hy sonder twee Suid-Afrikaners uit – Prenisha Naicker en Nadia Meintjies – wat uiteindelik baie gehelp het met kommunikasie en koördinering om die SA ontruiming-bal aan die rol te kry, "en almal raad gegee en moed ingepraat het.

"Te midde van ons desperate situasie is daar groot solidariteit. Ons ondersteun mekaar, maak grappe . . . vriendskappe word gesmee. Soggens teks ons mekaar:  'Is jy OK, jy is stil?'

HATIGHEID UIT SA: 'ONS SOEK JULLE NIE HIER NIE'

"Intussen sien ons op Facebook en Twitter mense in SA se reaksie teenoor ons in China. Hulle wil ons nie terughê nie . . . Ons het glo weggehardloop uit SA, maar noudat ons in die nood is, is SA goed genoeg. 'n Suid-Afrikaner hier se familie laat hom selfs prontuit weet: 'Bly daar, ons soek julle nie hier nie!'

"Lelike kommentaar op Facebook spreek van weersin en haat. Ons is geskok, ons sien mede-Suid-Afrikaners se ware kleure.

"Die mense hier [in China] staan egter saam. Elke dag bel my baas my: 'Is jy en jou vrou OK? Kry julle kos, maskers . . . kan ons help? Laat weet asseblief. Onthou, ons is 'n familie!'

Gepantser: Een van Johann se mede-Suid-Afrikaners
Gepantser: Een van Johann se mede-Suid-Afrikaners in Wuhan glo aan veilig speel. Foto: Verskaf

"My leerlinge stuur vir my boodskappe: die vyfjarige Bubu laat weet: Teacher Johann, we miss you! Ek doen aanlyn onderrig, maak vir hulle elke dag video's."

'ONS BESLUIT OM TE BLY'

"En skielik is daar hoop toe die SA regering aankondig hulle gaan ons wat wil huis toe kom, ontruim. Ons hoor 'n area word gereed gemaak vir 'n verpligte kwarantyntydperk in Suid-Afrika.

"Maar skielik is daar ook weer vrae: Wat van dié wat Chinese vroue het . . . kinders? My vrou is Filippyns - sal sy ook kan gaan? Wat van visums? Sal hulle visums by aankoms kan kry?

"En ek besef ook: Al gaan ons terug, sal ons weer moet terugkom. Ek het nie nou geld vir twee vliegkaartjies terug China toe nie.

"Ons bespreek alles onder mekaar, en ek en my vrou weeg die voor- en nadele op. Dis 'n baie moeilike besluit. Maar ons besluit om te bly, en vra Prenisha om ons van die ontruimingslys af te haal. Tog wonder ek: Maak ek 'n fout? Dis ons enigste kans om SA toe te gaan. Hoe lank gaan die kwarantyn duur – ek's bang ons sit sonder 'n inkomste in China.

"Ek en my vrou praat weer, maar ons staan by ons besluit."

Streng maatreëls teen COVID-19 word nog in Wuhan gevolg, maar dit lyk vir hom asof dinge elders in China stadigaan na normaal begin terugkeer, reken Johann.

Foto: Verskaf
Foto: Verskaf

"Ons begin wel al 'n groter verskeidenheid kos kry. Ons bure in die gebou help daarmee – ek stuur 'n lys vir 'n vrou wat Engels kan praat, waarna dit afgelewer word.

"Dis nie maklik om dag in en dag uit in 'n woonstel vasgekluister te sit nie. Maar ons probeer so normaal moontlik met ons daaglikse lewe voortgaan. Soos hulle sê: Wat kan 'n mens anders doen?"