Volgens die polisie het die onbekende verdagtes die polisiekantoor Woensdag in die vroë oggendure binnegegaan en sonder waarskuwing lukraak op die lede aan diens begin skiet. 

“Drie lede is op slag in die gemeenskapsdienssentrum dood. ’n Soldaat, wat van diens af was. is ook doodgeskiet terwyl die verdagtes gevlug het,” sê brig. Vishnu Naidoo.

“Die verdagtes het met ’n polisiewa gevlug en twee ander lede saamgeneem. Die lyke van albei lede is later met skietwonde ses kilometer van die polisiekantoor af langs die pad gevind.

“Volgens voorlopige ondersoeke blyk dit die lede is in die styl van ’n teregstelling doodgeskiet.” 

Intussen het die minister van polisie, Mbalula Fikile, sy skok oor die voorval uitgespreek.

"Dit is 'n kriminele daad om op wetstoepassers te skiet. Wat hulle by Engcobo gedoen het, is 'n nasionale tragedie. Hulle moet gevang word en tot verantwoording geroep word," het hy op Twitter gesê.

Die SAUK berig die skieters het glo ook die stasie van wapens gestroop.