So het kapt. Marius Joubert, 'n kundige op die gebied van bloedspatsels en patrone van die Suid-Afrikaanse Polisiediens, Maandag in die Kaapstadse hooggeregshof getuig.

Bloeddruppels afkomstig van Henri se pa, Martin, sy broer, Rudi, en sy ma, Teresa is ook bo en aan die kant van Henri se wit sokkies gevind. 

Henri staan tereg op drie aanklagte van moord – op sy ouers, Martin en Teresa van Breda, asook sy ouer broer, Rudi (22) – en poging tot moord op sy jonger suster, Marli, op die luukse landgoed De Zalze buite Stellenbosch. Hy ontken skuld op al klagtes.

Dag 36

Maandag het die staat Joubert na die getuiebank geroep. Hy is die laaste van 27 getuies wat deur die staat geroep is. Joubert het ook in die opspraakwekkende Griekwastad-moordsaak oor bloedspatesels getuig.   

Meer as 120 monsters van bloedspatsels is ná die moorde in die De Zalze-huis versamel. Deur bloedpatrone en -spatsels, asook die vorm daarvan, te bestudeer kan Joubert 'n prentjie skets oor wat die dag van die moorde gebeur het. 

Joubert het getuig verskeie spatsels is op die huis se mure, teëls, by die voordeur, in die badkamer, by die trappe en in die kamers gevind.  

Bloedspatsels afkomstig van Martin is in Henri se kamer gevind. Die meeste bloed afkomstig van Marli is in die gang, teen ‘n kabinet en op teëls in die huis gevind. 

Bloed is ook aan die mure in Rudi en Henri se kamer gevind. Daar was ook bloed teen hul bure se muur.   

Die impak waarmee Rudi getref is, was so intens dat sy bloed deur die venster tot teen die bure se muur gespat het. Die bloedspatsels het verder aangedui dat Rudi vanaf sy bed gesleep of getrek is, waarna hy oor 'n mat en voor Henri se bed neergelê is. 

Joubert het getuig hy het bloed in die stort gevind nadat hy sekere chemikalië aangewend het. Volgens sy getuienis lyk dit asof iemand die bloed probeer afwas het. Die bloed het bestaan uit 'n mengsel van dié van Martin, Rudi en Teresa.

Daar was ook bloed op die badkamer se muur en vloer, die stort en die stortkraan.

Soos sy gebruik vandat die hofsaak 'n aanvang geneem het, is Henri se oom, André du Toit (Teresa se broer), gereeld in die hof.

Die verhoor duur Dinsdag voort.