’n Egpaar van Vanderbijlpark, Gauteng, is nog verslae nadat hul kleuter in ’n bad vol kokende warm water beland het.

Johnny Pienaar het ernstige brandwonde aan 75% van sy lyf opgedoen.

Johnny se ma, Dernica (22), het Woensdag aan Huisgenoot vertel die ongeluk het binne ’n oogwink gebeur.

“Ek wens dit geen ouer toe nie. Soos hy daar gelê het ná die ongeluk het hy geruk en opgehou asemhaal. Hy het op sy tande gekners. Dit het tyd geneem vir die verdowing om te werk,” sê sy oor die oomblik toe hulle die kind by die hospitaal besorg het.

Maandagaand was net ’n gewone aand by die huis, vertel sy.

“Ek was sesuur die aand besig om kos te maak. Johnny het nog by my voete met ’n geel karretjie gespeel. Johnny se ouma en oupa, my man se broer en sy vrou en my oudste seuntjie, Hannes (5) was almal daar.

“My man het geloop om solank badwater vir die kinders te gaan intap. Ons het so twee maande gelede 'n nuwe geyser geïnstalleer. Die water was nog bitter warm, want dit was op sy warmste gestel en ons moes dit nog uitsorteer.

“Daar was nog net ’n bietjie water in die bad toe ek my man roep om my met iets te kom help. Ek weet nie, maar binne daardie paar sekondes het Johnny weggeglip...”

Sy vertel al wat sy volgende onthou was Johnny se bloedstollende gille.

Klein Johnny het erge brandwonde oor 75% van sy ly
Klein Johnny het erge brandwonde oor 75% van sy lyfie opgedoen. Foto verskaf

“Johnny kon nog nie eens sy voetjie oor die bad se rand kry nie, maar dié aand het hy... Hy het regop gekom en my man het hom daar met ’n spoed uitgetel en met hom na die ander badkamer gehardloop om hom onder die koue water te kry.

“Hy het nog al sy warm kleertjies aangehad.

“Soos my man sy broek uitgetrek het, het die velle afgekom. Dit was afgryslik.”

Dernica vertel Johnny was in baie pyn ná die ongeluk.

Sy vertel hulle het self met hom na die naburige Midvaal-hospitaal in Vereeniging gehaas.

“Ek dink nie dit was sewe minute nie toe is ons daar. Drieuur Dinsdagoggend is hy met ’n helikopter na dié hospitaal in Witbank oorgeplaas.”

Sy vertel die hospitaal het die beste fasiliteite gehad om Johnny se erge brandwonde te kan behandel.

Dit is net ’n deel van sy gesig, een oor en regterarm wat nie gebrand het nie.


“Dit is eerste- en tweedegraadse wonde, maar ons hoop nie dit vererger soos hulle die wonde skoonmaak nie. Ons grootste vrees is vir infeksie.”

Sy sê hulle het die Dinsdag reeds sintetiese vel op die wonde geplaas om infeksie te vermy en dit vinniger te help gesond word.

“Ons mediese fonds betaal sy behandeling. Ons kan net vra vir gebed. Gebed dat Johnny volkome sal herstel en dat die Here by hom sal wees en dra deur die pyn.”

 

    •    Enigiemand wat die familie wil ondersteun kan die blad "Johnny Se Terugvoering" op Facebook volg.