Wat veronderstel was om nét vriendelike geselskap tussen die weduwee en die 29-jarige man te wees, het blitsvinnig in ’n ongewone romanse ontwikkel. 

Toe Fransie de Bruin in Augustus vanjaar die busrit van Pretoria na Bloemfontein onderneem om vir haar jong liefde te gaan kuier, was die koeël byna onmiddellik deur die kerk.

Want jy sien, wat op aarde staan tog in die pad van ’n pensionaris met nét ’n fiets om honderde kilometers vêr tot in die arms van haar jong minnaar te vlug van die bekende én die ellendes wat aan die meeste van haar portuurgroep bekend is?

Niks nie, vertel Fransie met ’n huppel (of so sê sy!) en ’n giggel aan Huisgenoot. 

As jy sý is, pak jy maar ’n handjie vol jare ná jou man se dood jou koffers en verruil die bekende vir die Rosestad – daar waar die jong knaap wat jou hart gesteel het sy lewe lank nog nooit belangstelling in sy eie portuurgroep getoon het nie en knus voel in die arms van ’n veel ouer vrou.

As jy boonop die groen lig van jou twee volwasse seuns (onderskeidelik 41 en 39 jaar oud) kry, pak jy selfs vinniger.

Daarom is Fransie juis besig om haar huis op te pak toe sy telefonies aan Huisgenoot vertel van haar opgewondenheid om eindelik later vanjaar in dieselfde dorp as haar Christiaan Niewenhuizen te woon.

Maar hokaai – saam intrek is buite die kwessie; dís nou natuurlik tot die dag wanneer hulle voor die kansel staan.

“Ons is albei baie gelowige mense,” vertel Fransie.

“Daarom het ek sommer met my eerste besoek aan hom geweet hy is die man vir my; basta met die ouderdom. Hy het daardie aand so mooi my hand sit en vashou toe hy vir ons gebid het. Ek het net geweet niks anders maak saak nie . . .”

Die twee duifies het in Junie vanjaar op Facebook aan’t klets geraak nadat Christiaan vir Fransie “sommer net” ’n vriendskapversoek op dié platform gestuur het. Kort daarna het hulle nommers uitgeruil, en nóg enkele dae later het sy besluit om Christiaan in Bloemfontein te besoek, vertel sy.

“Hy kon dit nie glo toe ek wel daar opdaag nie,” vertel sy. 

“Hy was ongelooflik bly om my te sien en ek het onmiddellik sy voete onder hom uitgeslaan.”

Dit is so, erken Christiaan. Hy het ’n geskiedenis met vroue wat hom in die steek laat; daarom was Fransie se eerlikheid vir hom soos ’n vars bries.
“Ek het sommer dadelik vir haar begin omgee. Sy was so anders; so warm teenoor my,” vertel hy.

Met Fransie se besoek aan Bloemfontein het sy sommer in ’n gastehuis in die omgewing tuisgegaan. 

Met sy blonde hare en sterk arms en innemende oë wou sy haarself darem nie in die versoeking stel nie. A-nee-a! Daarvoor sal hy ’n ring aan haar vinger moet steek – en daarvoor is dit darem nog heeltemal te vroeg.

“Oe, hy is vir my darem maar ongelooflik mooi,” swymel sy.

“Ons aangetrokkenheid tot mekaar gaan eintlik daaroor dat ons albei kinders van God is. Ons het boonop albei sagte geaardhede en ons albei het vroeër in ons lewe baie seergekry; nou kan ons mekaar help heelmaak.

“Ag,” sê sy dan en sug, “en hy laat my so lag.”

En dan koer Christiaan ewe hard uit Bloemfontein: “Ek is reeds lief vir haar, al het ons in totaal nog net ’n maand saam deurgebring. Sy is anders as enigiemand wat ek al vantevore ontmoet het en ek kan net hoop en bid dat God ons verhouding sal seën; dat ons altyd vir mekaar die respek sal hê wat ons nou het.”

Ja, daar is struikelblokke, bieg Fransie. Maar meeste van dié struikelblokke is ander se reaksie op hulle verhouding.

“Ek verstaan dit glad nie. Daar is geen skrif in die Bybel wat sê ’n ouer vrou mag nie in ’n verhouding met ’n jonger man wees nie. Wanneer ’n ouer man ’n jonger meisie het, word geen woord gerep nie. Maar wanneer dit omgeruil is, o, dan het almal iets te sê.”

Boonop, voeg sy by, voel sy nie naastenby 64 jaar oud nie.

“Ek is nog altyd jonk van gees,” sê sy.

“In die jare voor my man aan kanker oorlede is, moes ek hom lank versorg. Ek het nie weer ’n ouer man gesoek nie – ek kon nie weer deur daardie trauma gaan om iemand te verloor of om iemand te versorg nie. 

“Mense dink altyd ek is jonger as wat ek is – veral as ek nou regtig mooi aangetrek is, dán skat mense my so op 35 jaar oud.”

Christiaan stem saam. “Maar selfs al was dit ook nie so nie, sou dit nie saak maak nie. Dis tog haar goeie hart wat my vir haar lief gemaak het.”

Fransie vertel sy het vrede oor haar verhouding met ’n jonger man omdat haar ontslape man voor sy dood aan haar gesê het sy moenie alleen oud word nie.

“Ek is nie ’n mens wat werklik op my eie kan funksioneer nie. Ek glo God het hom vir my gestuur; en dat ons ’n lank en gelukkige pad saam sal loop.”

Christiaan het glo nog geen planne om ’n ring aan haar vinger te kry nie, giggel Fransie.

Maar as jy op 64 jaar oud steeds daarin slaag om die koppe soos ’n 35-jarige te laat draai, is tyd mos die minste van jou bekommernisse . . .