Die skel geloei van ’n sirene laat die tenger donkerkopvrou verstar en vinnig straataf kyk. Sy lyk ontsenu deur die naderende polisie­motor met die flitsende blou daklig.

Dan draai die motor in ’n systraat af en sy ontspan merkbaar.

Ja, erken die 31-jarige Lianné Bekker: Al is sy op 4 Februarie vanjaar op parool vry­gelaat, ruk die geluid van sirenes haar telkens terug na die vaalgrys tronksel waar sy vier jaar moes slyt; “waar ek elke dag myself verwyt het oor elke fout wat my daar laat beland het . . .”

Die brand

Sy het in Julie 2013 as jong bruid die eerste keer opspraak gemaak.

Haar destydse verloofde, Jean Greyling (34), het die Emoya-landgoed buite Bloemfontein afgebrand omdat die eienaar hul droomtroue daar gekanselleer het toe die aanstaande egpaar nie die venuekoste betaal het nie.

Jean het ’n week ná die brand skuld beken. Hy is minder as ’n maand later vir agt maande tronk toe gestuur, maar nie voor hy en Lianné eers elders in ’n restaurant in die Rosestad getroud is nie. Die eerste maande van haar huwelik moes sy sonder haar nuwe man deurbring.

Maar net twee jaar nadat haar man tronk toe is, is Lianné in ­Augustus 2015 óók tronk toe gestuur weens bedrog van R5,5 miljoen. Haar drie jong kinders uit haar vorige ­huwelik moes sonder hul ma by hul pa, Gerald du Preez*, agterbly.

“Ek onthou daardie dag soos gister: hoe ek gewonder het wat van my minderjarige kinders gaan word; hoe woedend ek vir myself was. Hoe ek gewonder het of ek die tronk sal oorleef,” sê sy nou.

Vir die eerste keer sedert die brand praat sy vandag openhartig oor die moeilike jare voor en ná dié voorval. Hoe sy as ’n gekwelde jong vrou in drank- en dwelmmisbruik verval het; hoe sy ander se geld “net wou leen”.

'Ek onthou daardie dag soos gister: hoe ek gewonde
'Ek onthou daardie dag soos gister: hoe ek gewonder het wat van my minderjarige kinders gaan word; hoe woedend ek vir myself was. Hoe ek gewonder het of ek die tronk sal oorleef,' sê sy nou. Foto: Willem van den Berg

Oor die seer van haar egskeiding agter tralies; en haar eindelike “ommeswaai”.

Lianné bevestig aan Huisgenoot sy het liefde in die tronk gevind.

Haar voormalige selmaat, Thembi Nomganga, is ver­lede Mei op parool vrygelaat, en Lianné erken: “Thembi was die afgelope drie jaar my kamermaat, vertrooster en vertroueling.

“Sy het my van onvoorwaardelike liefde en aanvaarding geleer toe ek op die laagste punt van my lewe was, en sy het my geleer dat ek heel moet word voor ek liefde kan gee.”

Haar selmaat en die vrou aan haar sy, Thembi Nomga
Haar selmaat en die vrou aan haar sy, Thembi Nomganga, het haar van onvoorwaardelike liefde geleer. Foto: Gallo Images/Getty Images

Oor hul verhouding sê sy: “Ons het ’n baie ongewone en hegte band en ’n reuse­-invloed op mekaar se lewe, een wat deur ons families ondersteun word. Sy is die een wat my geleer het om vir myself lief te wees; die rede dat ek vorentoe kon beweeg.”

Sy het in die tronk verander, sê Lianné vandag hier by ’n Bloemfonteinse restaurant.

Onstuimige grootwordjare

“Voor my vonnis was ek ’n narsis. Ek wou altyd die goedkeuring van ander hê en in die kollig wees. Nou vermy ek dit.

“Ek besef baie mense sal sê ek soek nou sensasie. Dis die teendeel – ek is bereid om onder kritiek deur te loop en weerloos te staan juis sodat ander kan weet daar is hoop.

“Dis belangrik dat mense weet jy kan bo jou omstandighede, foute, reputasie en tekortkomings uitstyg en die beste weergawe van jouself word. Die lewe skuld jou niks, maar ek skuld my Skepper, en die mense wat my onvoorwaardelik liefhet, alles.”

Sy hoop haar storie sal ander keer om dieselfde foute te maak.

“Ek het nog nooit voorheen oor my onstuimige grootwordjare gepraat nie. Ek kom uit ’n gebroke gesin. Almal het hul eie demone gehad – niemand kon sien hoe vinnig ek op die afdraande pad beweeg nie.

“Ek was kwaad en bitter oor alles. Niks was ooit vir ons maklik nie. Daar was nie geld nie. Ek moes ná skool as ’n ontkleedanseres werk,” vertel sy.

Dit was in dié tyd dat sy kokaïen en ecstasy begin gebruik het.

“Dit het my gehelp om van die werklikheid te ontsnap. Drugs en drank was my tools om met die houe van die lewe te cope.”

Toe ontmoet sy in 2009 haar eerste man, Gerald, en als verander.

“Hy het my op die regte pad gekry. Hy het my bestaan ’n doel gegee. Ek was gelukkiger as ooit.”

Saam het hulle ’n boetiek en invoermaatskappy in Bloemfontein begin. Hulle het drie dogtertjies saam; al drie is jonger as 11.

Ek was kwaad en bitter oor alles. Niks was ooit vi
Ek was kwaad en bitter oor alles. Niks was ooit vir ons maklik nie. 'Daar was nie geld nie. Ek moes ná skool as ’n ontkleedanseres werk,' vertel sy. Foto: Willem van den Berg

Die nuwe dwelm

Maar toe begin Lianné weens “finan­siële uitdagings” hul kliënte besteel.

“Ek wou niemand skade berokken nie,” sê sy berouvol. Maar gou was dit haar nuwe dwelm.

“Die eerste keer dat ek gesteel het, was in 2010. Ek het geld nodig gehad en toe besluit om ’n bedrag van R2 000 van ’n kliënt te vat. Die kliënt het die geld vir aankope inbetaal; ek was van plan om als weer terug te sit.”

Maar sy het nie.

Die volgende bedrag wat sy gesteel het, was groter; die volgende nog groter – tot sy eindelik miljoene geroof het.

“Ek was in daardie tyd nie wie ek nou is nie. Ek het mense se liefde gekoop ongeag die prys. En hoe meer ek gegee het, hoe meer moes ek vat.”

Sy hou vol Gerald het van niks geweet tot die eerste kliënt in 2011 gedreig het om haar te dagvaar nie. Nog kliënte het die vinger begin wys.

“Nie een verjaardagpartytjie of Kersfees het verbygegaan dat ek nie vrees­bevange was dat dit my laaste een saam met my kinders sou wees nie. Ek het elke keer gewonder wanneer my dade my sal inhaal,” sê sy.

Teen 2013 het haar en Gerald se paadjies geskei. “Ons is goed uitmekaar, sonder enige wrokke. Ons huwelik het net nie meer gewerk nie.”

Jean

Tydens haar egskeiding vroeg in 2013 het sy ’n verhouding begin met Jean, ’n familievriend. Hy het volgens haar van die bedrogbewerings teen haar geweet.

“Ons het dit gereeld bespreek. Al wat vir hom belangrik was, was om my te ondersteun.”

Volgens Lianné het sy nie weer bedrog gepleeg nadat sy en Jean getroud is nie.

Die twee het in 2013 verloof geraak en hul droomtroue beplan. Maar daar was ’n geldtekort en hulle het “ ’n paar hoeke gesny”, erken Lianné. En ja, hulle het nooit die Emoya-landgoed betaal vir die troue wat daar beplan is nie.

“Jean was kwaad omdat ons troue gekanselleer is. Hy het destyds nog gesê dit het hom stukkend gelaat om my so daaroor te sien huil. Toe stig hy die brand.”

Meer as R3 miljoen se skade is aan­gerig, maar Lianné sê Jean “wou nie hê die hele plek moet afbrand nie”.

Lianné steun haar eksman Jean Greyling in 2013 in
Lianné steun haar eksman Jean Greyling in 2013 in die hof nadat hy skuld beken het op aanklag van die brandstigting van die Emoya-landgoed net buite Bloemfontein. Foto: Gallo Images/Getty Images

Teen die tyd dat Jean in Augustus 2013 sy vonnis vir die brandstigting begin uitdien het, was Lianné al self ’n paar keer in die hof weens die bedrogklagte teen haar. Teen die einde van daardie jaar was dit vir haar duidelik: “Ek gaan nie daarvan loskom nie. En ek wou ook nie.”

24 keer skuldig

In 2014 is die laaste aanklagte teen haar ingedien. Vier-en-twintig klaers was deel van haar bedrogverhoor, en sy het as deel van ’n pleitooreenkoms met die staat skuld op die aanklagte beken. Maar nie lank daarna nie het sy van die pleit­ooreenkoms onttrek en moes haar vervolging van voor af begin.

In Januarie 2015 is haar borgtog van ?R6 000 teruggetrek omdat daar vermoed is dat sy weer by bedrieglike transaksies betrokke was. Sy ontken dit tot vandag.

Haar tyd as verhoorafwagtende was ’n “erger hel” as die tronk.

“Jy sit en wag en wonder wat jou lot gaan wees. Jy is kwaad: vir jouself; vir almal. Ek wou boet sodat hierdie swaard nie meer oor my kop hang nie.”

In die weke voor haar vonnisoplegging in Augustus 2015 was dit ’n maatskaplike verslag – in opdrag van die hof – wat haar gebroke gelaat het.

“Ek onthou hoe ek gehuil het toe ek die voorvonnisverslag lees. Jy kan nie glo dis jy nie. Jy kan nie glo watter dinge van jou gesê word nie. Dis soos ’n spieël wat vir die eerste keer voor jou opgehou word. En jy hou niks van wat jy sien nie.”

Sy vonnis my omdat sy glo ek kan my lewe regruk sodat my kinders nie ook in hierdie siklus beland nie. Sy het my lewe gered.

Soos dat sy ’n narsis is . . .

Haar familie het nie haar vonnisoplegging bygewoon nie. Maar dis daardie vonnis wat haar lewe gered het, sê sy nou.

“Ek onthou hoe ek moes pleit: Ek is skuldig . . . Ek is skuldig. Vier-en-twintig keer. Die magistraat het nog vir my gesê sy weet ek’s ook ’n slagoffer; van my omstandighede. Sy vonnis my omdat sy glo ek kan my lewe regruk sodat my kinders nie ook in hierdie siklus beland nie. Sy het my lewe gered.

“Buite die hof, ná die vonnisoplegging, het ’n joernalis my nog gevra hoe ek voel. Ek het gesê: ‘God se genade is vir my genoeg.’ Maar ek het nie werklik besef presies hoeveel genade ek sou nodig hê nie.”

In Kimberley se vrouegevangenis was sy ’n formidabele diva en ’n kil narsis, sê Lianné.

“My hart was stukkend oor my kids. Ek wou hulle so graag bel; ek wou so graag weghardloop. Maar ek het steeds nie besef ek moet self eers heel word nie. Ek het teen die reëls geskop. Skielik het ek geen beheer gehad nie; dit het my mal gemaak.”

Sy mag nie veel oor haar omstandig­hede binne die tronk verklap nie. Tog sê sy: “As jou familie jou nie van buite ondersteun nie en jy nie ondersteuning van binne het nie, sal jy knak.”

Die keerpunt

Sy vertel die keerpunt was die dag, einde 2015, toe sy byna in die tronk dood is.

“Ek was in daardie stadium in ’n groot sel met ’n klomp vroue en het ’n suig­lekker geëet wat ek vroeër op ’n familie­besoekdag ontvang het. Ek het dit per ongeluk ingesluk en dit het my lugpyp so blokkeer dat ek nie asem kon kry nie.

“Ek onthou hoe ek na een van die vroue gehardloop het, haar hand op my keel gesit en gewys het sy moet iemand roep. Die vroue het mal gegaan en gesê hulle moet die dokters ontbied. Dit het gevoel of ek my bewussyn gaan verloor, en alles om my het in ’n swart nag verander.

“Al wat ek onthou, is dat ek gebid het: ‘God, asseblief, nie vandag nie. Nie nou nie. Ek kan nie hier doodgaan nie. Wat van my kinders? Dít kan nie my nala?tenskap wees nie.’ Toe is ek weg. ’n Klein vrou­tjie het haar hand in my keel gedruk om die lekker uit te haal. Ek was al blou in die gesig; dis ’n wonderwerk dat ek nog leef.”

Toe sy bykom, sê ’n omstander vir haar: “Die engel Gabriël het al jou toenails begin paint, sus. Jy moet bly wees jy’s hier.”

Daarna het sy haar lewe reggeruk, sê sy. Sy het by rehabilitasieprogramme van die departement van korrektiewe dienste betrokke geraak, soos ’n program wat gevangenes laat verstaan wat die wortel van die kwaad is: selfsug en selfgeregtigheid.

24 keer vergifnis gevra

Sy was ook deel van ’n slagoffer-oortreder-versoeningsprogram waar sy in briewe haar 24 bedrogslagoffers vergifnis gevra het. Twee het glo laat weet hulle vergewe haar.

“Ek moes doelbewus kies om my lewe reg te ruk. In die tronk het jy soveel tyd. Jy slaap, lees, bid en herhaal. Jy druk elke dag die rewind-knoppie. Jy wonder hoe jy jouself toegelaat het om daar te beland. Ek moes meer as net my foute konfronteer; ook die verlies van my gesin en my gebrokenheid.”

In Mei 2016 tref nog ’n hou haar: Jean, wat toe lankal sy agt maande vonnis vir die brand uitgedien het, dagvaar haar om ’n egskeiding. Drie maande later was sy ’n pasgeskeide vrou agter tralies.

Hieroor sê sy net: “Dit was ’n moeilike, uitmergelende en emosionele proses om so iets van binne die gevangenis deur te maak. Ek wens hom en sy familie net seën toe en koester geen wrok nie.”

Sy het in die gevangenis in ’n sake­rigting studeer en later daardie jaar ’n oorplasing van Kimberley na die Bizzah Makhate-tronk in Kroonstad gekry. Sy wou nader wees aan haar dogters, wat toe in Pretoria by Gerald gewoon het.

“Ek het myself in die rehabilitasie gewerp. Ek het alles gelees wat ek kon: Irma Joubert, Deon Meyer, Francine Rivers, Chanette Paul. Ek het selfs betrokke ­geraak by die nasionale Reading for ­Redemption-boekekompetisie.”

Gustav Wilson, ’n streekhoof vir die ­departement van korrektiewe dienste, sê: “­Lianné is een van ons grootste suksesverhale. Sy is ’n toonbeeld van presies hoe iemand werklik sy lewe kan regmaak.”

Thembi
  • Met haar aankoms in Kroonstad het sy Thembi ontmoet.
  • Haar nuwe selmaat was besig om vyf jaar tronkstraf uit te dien omdat sy ’n man vermoor het.
  • Thembi se verweer was dat die man haar vriendin wou verkrag.

“Ou gesiggie,” sê Lianné met teerheid in haar stem toe sy oor Thembi praat.

“Binne die tronk kan jy niemand iets bied nie. Ek kan nie iemand se liefde met materiële dinge koop nie. Jou liefde of jou omgee is onvoorwaardelik, en dis wat Thembi my gegee het.”

Weens lang ryafstande het sy net vier tot ses keer per jaar familiebesoeke gekry. Maar Thembi het haar gedra, vertel sy.

“Ek het geweet my mense bid vir my. Maar ek moes ondersteuning van binne ook kry – en sy was altyd daar.”

Nadat Thembi in Mei verlede jaar op parool vrygelaat is, het sy Lianné steeds van buite die tronk bly steun tot sy ook in Februarie vanjaar parool toegestaan is.

Dit was ’n groot skok om weer vry te wees.

'Dit was ’n groot skok om weer vry te wees. “Ek he
'Dit was ’n groot skok om weer vry te wees. “Ek het by ’n pel gaan woon omdat omstandighede binne my familie nie van so ’n aard is dat ek daar kon gaan woon nie,' sê Lianné hartseer. Foto: Willem van den Berg

“Ek het by ’n pel gaan woon omdat omstandighede binne my familie nie van so ’n aard is dat ek daar kon gaan woon nie,” sê Lianné hartseer.

“Die vrylating was oorweldigend. Jy sit die oggend nog agter tralies; die middag loop jy in ’n winkel. Ek was verlam van vrees, want oral om jou is keuses: Wat jy wil eet? Wat jy wil dra?”

Haar jare in die tronk het haar van ’n selfs erger val gered, sê sy. Maar sy wroeg nog elke dag oor die uitwerking wat haar wandade op haar familie gehad het.

“As ek een ding kon verander, sou ek hulle die vernedering wou spaar. Die nuuskierige oë en kyke pla my nie, maar my familie – dis nie regverdig teenoor hulle nie.”

Lianné werk nou op Witrivier, Mpumalanga, as ’n skakelbeampte. Sy sien ook gereeld haar drie kinders.

“Hulle het in klein fighter-tjies ontwikkel. Ek haal my hoed af vir Gerald; hy’s ’n wonderlike pa. Ek is dankbaar ek het die geleentheid om weer ’n rol in hul lewe te speel. Hy is immers die man wat my nooit van my kinders vervreem het nie. Hy het my nooit die baddie gemaak nie.”

Buite die tronk wil sy nou ander rolle vertolk: dié van vriendin, kollega en motiveringspreker. Sy het planne vir die toekoms, maar wil nie nou daaroor uitwei nie, vertel sy geheimsinnig.

Gaan Thembi daarvan deel wees?

Sy lag.

In die lang en eensame ure in die tronk is dit The
In die lang en eensame ure in die tronk is dit Thembi wat Lianné staande gehou het. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Ons ongewone band word deur ons families ondersteun. Wanneer my hart swaar is, is die lekkerste plek Thembi se ma se kombuis. Ek is besig met ’n moeilike aanpassing ná my parool­vrylating, en ek wil vir eers my hartsake privaat hou.

“Maar weet net: Ek is gelukkig, positief en vol hoop. En ja, ek glo steeds die liefde oorwin alles.”

* Skuilnaam. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.