Maar min het Chané Prinsloo (18) geweet wat op haar wag toe haar drie maande oue babaseun, Christian, in Mei vanjaar sy opwagting maak.

Hoewel Christian baie geel was by geboorte en die dokters vermoed het hy het net geelsug, is ’n ernstige lewersiekte sowat ’n maand gelede by Christian gediagnoseer. 

Baba Christian en sy ma, Chané, van Bloemfontein m
Baba Christian en sy ma, Chané, van Bloemfontein moet nog laat toets of sy 'n geskikte lewerskenker vir hom kan wees. Foto: Verskaf

Nou word klein Christian deur ’n leweroorplanting in die gesig gestaar en ma Chané moet in ’n stryd teen tyd tot 30 kg verloor voor sy eens kan toets of sy ’n geskikte lewerskenker kan wees.

“Ek is maar baie senuweeagtig en stres oor my en my baba se toekoms,” vertel Chané aan Huisgenoot ná ’n moeilike oggend met Christian.

Sy vertel weens die lewersiekte braak hy baie.

“Hy is baie huilerig en geïrriteerd. Die siekte laat sy velletjie baie jeuk, maar hy kan nie vir ons sê nie,” vertel sy terwyl Christian eindelik ’n rukkie slaap.

Chané vertel sy sou vanjaar haar matriekeksamen afgelê het, maar einde verlede jaar het sy uitgevind sy is swanger.

“Dit was ’n uitdagende swangerskap. Ek was kort-kort in die hospitaal met blaasinfeksie en ek het ook swangerskap-diabetes ontwikkel.

Baba Christian van Bloemfontein moet dringend 'n l
Baba Christian van Bloemfontein moet dringend 'n leweroorplanting kry. Foto: Verskaf

“Christian was gelukkig by geboorte gesond, maar hy was baie geel. Die dokters het ons verseker hy kort net ’n bietjie sonlig, dan sal hy regkom. Ons is ’n paar maande gelede met hom see toe vir vakansie, maar ons moes hom toe al by ’n dokter kry.”

Met hul terugkeer Vrystaat toe het hulle hom weer by die pediater gehad. Dié keer het toetse eindelik die skokdiagnose onthul. Biliêre atresie is by Christian gediagnoseer. Weens ’n lewerdefek is hy gebore sonder die dreineringspypies wat na sy dermkanaal moet lei, en dit veroorsaak dat gifstowwe in sy lewer opbou.

“Ons is daarna Kaap toe, waar Christian ’n operasie ondergaan het om sy blindederm aan sy lewer vas te maak. Sy galblaas is ook verwyder. Die operasie was ’n sukses, maar daar is vir ons gesê hy het net 20% lewerfunksie.”

Baba Christian is op drie maande in 'n stryd om oo
Baba Christian is op drie maande in 'n stryd om oorlewing gewikkel. Foto: Verskaf

Terug in Bloemfontein moes hulle hoor die enigste kans op oorlewing vir Christian is ’n leweroorplanting.

“Ná die operasie kan hy dalk nog oorleef tot op ses jaar, maar as hy nou die operasie kry, kan hy leef tot hy oud is. As ons die operasie nou op ses maande kan doen, is die kanse goed dat sy liggaam nie die nuwe lewer sal verwerp nie.”

Chané vertel hoewel tot vriende en vreemdelinge al aangebied het om te help, sal sy – aangesien sy die naaste vroulike familielid aan haar baba is en hulle dieselfde A-positiewe bloedgroep deel – in alle waarskynlikheid die geskikte skenker wees. 

Maar om dít te bepaal moet sy eers 30 kg afskud.

“Dit was moeilik om te hoor. Maar volgens die liggaamsmassa-indeks is ek oorgewig vir my lengte. Dit is baie min tyd, en ek weet nie eens of dit moontlik is nie, maar ek het die afgelope maand reeds begin.”

Chané vertel sy oefen drie keer per week saam met ’n afrigter en probeer om ’n dieet met lae GI-kosse te eet. Intussen het ook Christian se oupagrootjie vir hom ’n geldinsameling op die been gebring.

Sy vertel hoewel sy graag volgende jaar haar skoolloopbaan wil hervat en matriek wil voltooi, werp sy nou eers alles in die stryd vir haar kind.

“Hy is die persoon in die lewe wat my die gelukkigste maak. Vandat hy gebore is, is hy net die vriendelikste baba. Vol glimlaggies en geluidjies. Maar ja, dit is dae soos vandag dat ek worry.”

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.