Huisgenoot het vroeër berig baba Christian van Blo
Huisgenoot het vroeër berig baba Christian van Bloemfontein moes dringend 'n leweroorplanting kry. Foto: Verskaf

Kobie Pretorius, Christian se oupagrootjie, vertel sy kleindogter, Chané (18), is verpletter.

“Dit vang haar. Dis baie sleg, maar ons weet hy is nou op ’n beter plek en hy is verlos van al sy pyn en lyding,” sê Kobie.

Huisgenoot het vroeër berig ’n ernstige lewersiekte is ná Christian se geboorte in Mei vanjaar by hom gediagnoseer. Weens ’n lewerdefek is hy gebore sonder die dreineringspypies wat na sy dermkanaal moet lei, en dit het veroorsaak dat gifstowwe in sy lewer opbou.

Baba Christian is Dinsdag 14 September oorlede. Fo
Baba Christian is Dinsdag 14 September oorlede. Foto: Verskaf

Sy ma moes ná sy diagnose in ’n stryd teen tyd tot 30 kg verloor voor sy eens kon toets of sy ’n geskikte skenker vir haar babaseun kan wees.

Intussen het die familie wel ’n geskikte skenker – Christian se biologiese pa – gekry en die operasie om ’n deel van sy lewer oor te plant sou na verwagting in Oktober vanjaar in die Wits Donald Gordon-hospitaal in Johannesburg plaasvind.

Kobie vertel klein Christian het Maandagaand net skielik begin siek word. 

“Toe hy wakker word, het hy swaar begin asemhaal, sy hartkloppie het swakker geraak en toe jaag ons met hom na die hospitaal.”

By die Rosepark-hospitaal aangekom, het hulle onmiddellik vir hom suurstof gegee en ’n drup toegedien. Hy is daarna in die intensiewesorgeenheid opgeneem.

Maar vanoggend kry die familie die tyding: Hulle moet dringend hospitaal toe kom.

“Toe hy wakker word, het hy swaar begin asemhaal, sy hartkloppie het swakker geraak en toe jaag ons met hom na die hospitaal toe.”

“Hulle het gesê ons moet hom kom groet . . . Christian gaan dit nie maak nie,” vertel Kobie verslae.

“Toe ons binne die ICU kom, het die dokter net sy kop geskud en gesê dis klaar verby. Ek dink hy kon dit nie meer hanteer nie . . . en hy hét geveg. Ons het agtergekom die laaste week het hy begin agteruitgaan, maar ons moes nog wag tot Oktober.”

Baba Christian en sy ma, Chané, van Bloemfontein m
Baba Christian en sy ma, Chané, van Bloemfontein moet nog laat toets of sy 'n geskikte lewerskenker vir hom kan wees. Foto: Verskaf

Christian het in Julie ’n operasie in Kaapstad ondergaan om sy blindederm aan sy lewer vas te maak. Sy galblaas is ook verwyder. Die operasie was ’n sukses, maar daar is toe al vir die familie gesê hy het net 20% lewerfunksie. Kobie vertel die dokter het toe al gemaan Christian moet dringend die oorplanting kry.

“Hy het gesê hy weet nie of hy vier maande gaan maak nie. Maar op die ou end het hy vier maande en sewe dae lank geveg.”

Kobie vertel Chané het probeer om die gewig te verloor om dalk self ’n skenker vir haar kind te wees, maar die druk het sy tol geëis.

Chané Prinsloo met haar swangerskap. Foto: Verskaf
Chané Prinsloo met haar swangerskap. Foto: Verskaf

“Ek dink die emosies van alles het haar net gevang. Dit het nie veel gehelp nie.”

Die familie dink nie nou hoe hulle hul mediese skuld van nagenoeg R450 000 gaan delg nie. “Ons sal anderkant uitkom.”

Hy vertel reëlings vir die begrafnis is reeds vir Donderdagoggend getref.

“Dis vir Chané ’n groot skok, en ek dink Christian se dood gaan vir ons almal ’n groot leemte wees.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe