Sy was die sexy jong meisie wat so mooi met die perde gewerk het. Ja, Lizette van Schalkwyk was sommer baie ingenome met dié kleinniggie van haar man, Willem.

Lizette van Schalkwyk vertel hoekom sy haar eksman se skelmpie vir R1,5 miljoen dagvaar. Foto: Rowyn Lombard

Maande lank het die oulike 20-jarige Christi-Ann Roberts saam met Lizette en haar 44-jarige man by die lodge naby Bloemfontein gewoon. Selfs aan dieselfde tafel geëet. Altyd vriendelik en aan die grappies maak.

Maar wat Lizette (nou 47), eienaar van die Zanchieta Wild Cat Farm, nie geweet het nie, was dat Christi-Ann (nou 25) en Willem (49) ’n witwarm verhouding gehad het. Agter die perdestalle, op skelm vakansies . . . hulle het glo selfs seks in Lizette se bed gehad.

En maande lank het Lizette nie die vaagste benul gehad wat onder haar neus gebeur nie. Inteendeel, sy het gedink haar huwelik is gelukkig. Maar eindelik het Willem Lizette soos ’n warm patat gelos vir Christi-Ann. Dit was die begin van vyf jaar van hel, sê Lizette.

Sy was so kwaad, sy het summier daardie Desember in 2013 ’n eis van R1,5 miljoen teen Christi-Ann ingestel omdat sy haar man afgerokkel het. Die saak dien nou in die hooggeregshof in Bloemfontein.

Christi-Ann ontken sy het Willem afgerokkel. Maar hoewel die getuienis weer die wonde oopgekrap het, wil Lizette en Willem nou weer bymekaar wees.

‘Hoe kon so iets gebeur? Hulle is dan familie’
Christi-Ann Roberts tydens verrigtinge in die hooggeregshof in Bloemfontein.

“Ek gaan na haar terug. Ek is baie lief vir haar,” skryf Willem in ’n WhatsApp-boodskap aan ons. Dis al wat hy oor dié saak te sê het. Die res het hy reeds in die hof gesê toe hy getuig het. En Lizette bevestig: Ten spyte van alles wat gebeur het, wil sy haar man terughê. Sy en Willem het kontak behou en werk reeds aan hul verhouding.

Ons ontmoet Lizette by die einste lodge waar dinge vir haar huwelik skeefgeloop het. Sy woon sedert haar egskeiding alleen hier, maar is gelukkig saam met haar perde en die verwaarloosde wilde diere wat sy inneem om te versorg, vertel sy.

’n Springbokooitjie wat ’n agterbeen verloor het, stap na Lizette en ruik aan haar hand.

“Daar is die twee rooikatte Zani en Ghita wat ek met die hand grootgemaak het nadat hul ma geskiet is,” beduie sy. Twee jagluiperds, Dash en Flash, kom na hul hok se heining toe hulle haar sien. Lizette wys na een van die agt leeus wat sy ook versorg.

“Daardie leeu se naam is William en hy moet elke dag medikasie vir epilepsie kry.”

Dis ook hier by die lodge waar Lizette en Willem vir Christi-Ann in 2013 tydens ’n Valentynsdagbraai ontmoet het. Haar ma, Stephanie, het toe gekla haar arme dogter kry nie werk nie.

En voor die maand om was, het Christi-Ann by die lodge begin werk. Stephanie is Willem se ma se kleinniggie. Hy het in daardie stadium bouwerk gedoen op Stephanie se plaas in die Verkeerdevlei-distrik sowat 50 km van Bloemfontein.

“My eerste indruk van Christi-Ann was baie goed. Die jong dame het my vertel hoe sy met perde werk en hoe gek sy na diere is,” vertel Lizette in ’n konferensiesaal in die lodge. Op die tafel voor haar lê ’n blou lêer vol dokumente wat sy versamel het nadat sy besef het Christi-Ann het as’t ware in haar huweliksbed geklim.

“Ons het altyd gesels. Christi-Ann was vol grappe met Willem. Ons drie het baie saam gesels oor haar belangstelling in perde,” sê Lizette.

“In Maart 2013 het Christi-Ann begin sê Willem is vir haar soos ’n pa. Sy het altyd speletjies met hom gespeel, soos om haar tong vir hom uit te steek en dan te sê tong uitsteek is soentjies vra.

“’n Skoonmaker het ’n opgefrommelde brief in Christi-Ann se vorige kamer gekry en aan my lodgebestuurder gegee. Christi-Ann het in die brief van vyf bladsye lank verduidelik hoe sy oor Willem voel: dat sy hom as ’n pa beskou en hoe sy elke dag net meer en meer aan hom dink. Sy het geskryf: ‘Ek is nou so mak, pa kan en sal enigiets met my regkry’.”

’n Afskrif van WhatsApp-boodskappe tussen Lizette en Christi-Ann.

Dié brief is as bewysstuk by die hof ingedien. Christi-Ann het gereeld daarop aangedring om saam met Willem te ry of hom gebel wanneer hy werk, maar Lizette het nie gedink dis vreemd nie. Nie eens toe Willem ál meer weg van die huis begin werk nie.

“In Junie 2013 het Christi-Ann ’n WhatsApp-boodskap aan my gestuur en gesê hoe bly sy is ek en Willem is in haar lewe. Sy het ook geskryf sy het nooit regtig haar pa geken nie, dat Willem soos ’n pa vir haar is en sy en Willem sal nooit ’n verhouding hê nie,” sê Lizette.

Maar twee maande daarna het die bom gebars: Willem het vir Lizette gesê hy wil van haar skei. Lizette vertel sy was uit die veld geslaan. Sy het gedink hul huwelik is normaal.

“Ons het nog elke aand langs mekaar in die bed geslaap, ’n normale honeymoon-huwelik gehad,” sê Lizette. “Ons het mekaar nag en goeiemôre gesoen. Willem was nog altyd ’n man met ’n goue hart en het my nooit sleg behandel nie. Ek het nie gedink daar is enigiets fout met ons huwelik nie.”

“Ek was geskok en het baie vrae gehad. Wat gaan aan? Hoekom so ewe skielik? Willem het gesê hy wil wegkom. Hy het te veel spanning en hy wil sy kop skoonkry. Dit was nie vir my ’n antwoord nie en ek het dit nie ernstig opgeneem nie.”

En steeds het sy nie vermoed Christi-Ann is die rede waarom haar huwelik verbrokkel nie.

Teen September daardie jaar het Willem nog twee keer gesê hy wil skei. Hy het ook daardie maand na Marloth Park in Mpumalanga getrek. En op 3 Oktober is hul egskeiding voltrek.

Sowat twee weke later het Christi-Ann in ’n WhatsApp-boodskap haar omtrent haar seksuele verhouding met Willem ingelig. Lizette was geskok, verneder en bitter ongelukkig.

Sy het haarself in haar huis toegesluit en wou geen kontak met die buitewêreld hê nie.

Sy vee vinnig ’n traan met haar linkerhand weg.

“Ek het so baie vrae gehad. Hoe kon so iets gebeur? Was dit my skuld? Hulle is dan familie. Kleinniggie en kleinneef,” sê Lizette. Volgens Willem se onlangse getuienis in die hooggeregshof was Christi-Ann die jagter en hy die prooi, het Netwerk24 berig.

Hy het gesê hul verhouding het in April 2013 begin nadat sy kleinniggie hom verlei het. Later het Christi-Ann hom glo voor ’n ultimatum gestel: los jou vrou, of dis die einde van dié stomende verhouding. Willem het toe Lizette om ’n egskeiding gevra.

Willem van Schalkwyk verlaat die hof.

In sy WhatsApp-boodskap aan Huisgenoot vertel Willem hy was geskok toe Lizette hom sê Christi-Ann het haar van hul verhouding vertel.

“Christi-Ann wou nooit hê Lizette moes van enigiets uitvind nie. Sy was baie jaloers op Lizette. Ek glo sy het dit gestuur sodat Lizette my nooit weer sal terugvat nie,” skryf Willem. Daarna het Lizette dit haar doel gemaak om alles omtrent die verhouding uit te vind.

Sy het sy rekenaar en sy bedkassie gefynkam. Stuk vir stuk het sy die legkaart van haar man se buite-egtelike verhouding aanmekaargesit.

Die eerste keer toe hulle seks gehad het. Hoeveel keer hulle na bewering in haar bed seks gehad het terwyl sy werkers by die teerpad gaan oplaai het.

Die vrysessies by die perdestalle. Die skelm vakansies wat hulle in Mosambiek en die Drakensberge gehou het. Christi-Ann wat saam na Marloth Park getrek het. Hoe Willem en Christi-Ann hul egskeiding gaan vier het.

Tog het Lizette en Willem in verbinding gebly. In November, sowat ’n maand ná die egskeiding, het hy haar gebel en gesê hy gaan hom in ’n psigiatriese hospitaal in Bloemfontein laat opneem omdat die spanning vir hom te veel raak.

Dit is by dié hospitaal waar hy aantekeninge vir die sielkundige geskryf het oor sy verhouding met Christi-Ann. Dié notas is deel van Lizette se hofsaak.

Die huis waar Christi-Ann en haar ma, Stephanie Roberts, in Bloemfontein woon. Hoewel daar ’n motor in die oprit gestaan het, het niemand die deur oopgemaak toe Huisgenoot die klokkie lui nie.

Hierin vertel Willem onder meer hoe hy en Christi-Ann mekaar vir die eerste keer in April 2013 in die perdestalle gesoen het. Hulle kon van daardie dag nie van mekaar wegbly nie.

“Die perde het vet geword van al die voer,” skryf hy. Lizette sê sy het Willem gekonfronteer. Hy het niks ontken nie.

“Willem het my gesê Christi-Ann het sy gedagtes afgelei met haar kinderlikheid, pa-probleme en spelerigheid. Hy sê dit was net lekker om aandag van haar te kry,” sê Lizette. Ná die egskeiding wou Willem nie hê mense moet weet hulle is geskei nie, sê Lizette.

“Willem het nog altyd in verbinding gebly met my. Hy wou my nie heeltemal los nie.”

Maar teen Desember 2013 was Lizette moeg van al die geheimsinnigheid. Op 1 Desember het sy ’n WhatsApp-boodskap aan hul naaste vriende en familie gestuur en hulle van die egskeiding vertel.

“Jammer dat ek almal oor dié siek verhouding inlig. Ek voel dis almal se reg om te weet wat om hulle aangaan en wat hul geliefdes en vriende doen en sondig. Christi-Ann Roberts (21) en Willem van Schalkwyk (44) (kleinniggie en kleinneef) het al 10 maande lank ’n seksverhouding in my huis en op my plaas.

’n Fotocollage wat Christi-Ann van haar en Willem saamgestel het. Die in­skrywing daarop lui: “I promise to love you forever!”

“Willem het my ná 26 jaar om ’n egskeiding gevra vir dié kind, sy kleinniggie, sy bloedfamilie, en hulle is tans saam in Zanzibar. My man is gesteel en ek is seergemaak en verneder. Jammer, ek voel almal moet weet. Lizette,” het haar boodskap gelui.

Kort ná Lizette haar familie en vriende oor die egskeiding ingelig het, is sy na haar prokureur, gewapen met daardie blou lêer vol bewysstukke. In Maart 2014 het Lizette se hofsaak in alle erns begin.

En hoewel Willem en Christi-Ann se verhouding teen September 2014 op die rotse beland het, het Lizette besluit om met haar eis voort te gaan.

Die saak word eers sedert onlangs, ná vier jaar, in die hooggeregshof in Bloemfontein aangehoor. In dié vier jaar het Lizette haar hart en siel in haar veiligheidsoord en rehabilitasiesentrum vir beseerde en getraumatiseerde diere gestort, vertel sy.

Willem het intussen na Middelburg, Mpumalanga, verhuis en sy vervoeronderneming daar voortgesit.

Dit is dit vir Lizette moeilik om in die hof na elke klein besonderheid van Willem en Christi-Ann se verhouding te sit en luister. En ja, dit krap weer ou wonde oop.

“Maar ek het hulle albei vergewe – al lyk dit dalk nie so nie omdat ek steeds met die saak voortgaan.

“Ek doen dit om aan ander mans of vroue wat verkul word en hulle in dieselfde situasie bevind, te wys hulle kan hulself bemagtig en iets daaromtrent doen.” 

En Christi-Ann?

Sy het by monde van haar prokureur, Rikus Stander van Stander en Green-prokureurs in Westdene, Bloemfontein, bevestig sy en Willem was in ’n verhouding. Maar sy ontken heftig sy was die jagter; volgens haar was sy die prooi en het Willem haar pa-gevoelens teenoor hom uitgebuit.

Sy erken ook sy het Lizette deur middel van WhatsApp-boodskappe omtrent die verhouding ingelig, maar ontken sy het dit gedoen met die doel dat Lizette nie eendag vir Willem moet terugvat nie.

Volgens haar was dit Lizette wat sekere WhatsApp-stellings uitgelok het. Sy het ook bevestig hul verhouding is in 2014 beëindig en hulle het daarna nie weer kontak gehad nie.

Sy het bevestig hulle was saam in Mosambiek, Marloth Park en Zanzibar. Maar sy ontken heftig dat sy ooit in Lizette se bed saam met Willem was.

Sy het ook bevestig sy het Willem as ’n pa-figuur beskou en later met hom seks gehad.

  • Regter Abe Mathebula het die saak tot later vanjaar uitgestel, wanneer hy uitspraak sal lewer oor Christi-Ann se aansoek dat die eis uitgegooi word. Sy voer aan geen afrokkeling is bewys nie.
FOTO'S: ROWYN LOMBARD, GALLO IMAGES/ NETWERK24 / MLUNGISI LOUW