“Dis moeilik om te sien hoe iemand vir wie jy lief is, swaarkry. Ek het besluit om haar te help omdat ek haar hoop wou gee vir ’n beter toekoms en ’n beter lewe,” sê Carine aan Huisgenoot. 

Tien jaar gelede, net ses maande nadat Carine en Sheldeen bevriend geraak het, is primêre biliêre cholangitis (PBC) by Sheldeen gediagnoseer. 

Dit is ’n outoïmmuunsiekte wat veroorsaak dat die liggaam se teenliggaampies gesonde selle en weefsel aanval. 

Sheldeen moes kort daarna ’n leweroorplanting kry, maar sy het besluit om dit eers in Januarie, ’n maand ná haar 40ste verjaardag, te doen. 

Die skenking van Carine se lewer aan haar vriendin is ’n unieke geval en slegs die derde lewendeskenker-leweroorplanting tussen mense wat nie familie is nie wat in Suid-Afrika gedoen is. 

“Hulle wou aanvanklik 60% van Carine se lewer kry, maar hulle sou van haar regterlob moes neem, wat ’n hoër risiko vir haar inhou. Hulle het toe ’n splinternuwe tegniek gebruik wat hulle ’n gespletelewerdonasie doen.

“In plaas daarvan om een deel van haar lewer af te sny het hulle verskillende segmente uit haar linkerlob geneem eerder as om een aanmekaar te stik. Dit het baie goed afgeloop, so dis waarskynlik ’n tegniek wat nou meer gebruik sal word,” sê Sheldeen.

Sy is tans steeds in Wits se Donald Gordon Mediese Sentrum in Johannesburg en sê sy sterk goed aan. 

Nadat sy ontslaan is, moet sy vir agt tot 12 weke in Johannesburg bly vir weeklikse opvolge en besoeke voor sy Bloemfontein toe kan terugkeer.

“Sover was die oorplanting baie suksesvol. Die lewer self funksioneer tans baie goed en my lewertellings is vir die eerste keer in 10 jaar feitlik normaal! Die huidige komplikasies en verlengde hospitalisasie het meer te doen met die immuunonderdrukkers waarop ek vir die res van my lewe moet wees,” sê Sheldeen. 

“Dit het maar baie newe-effekte, en soos my gastroënteroloog sê, dis maar basies soos chemo – of gif! – wat hulle gee om te keer dat ek die nuwe lewer verwerp.”

Volgens Sheldeen kon die operasie nie suksesvol wees sonder almal se ondersteuning, liefde en gebede nie. 

“Ek het ’n enorme hoeveelheid familie, vriende, pasiënte wat vir my bid en my dra. Ek is ook geseënd om ’n skenker soos Carine te hê. Sy is maar net ’n onbaatsugtige, goeie, opregte mens, en ek weet daar is nog baie soos sy daar buite,” sê sy.

Carine is op haar beurt al terug in Bloemfontein en sterk goed aan by die huis. “Dit gaan regtig elke dag beter,” sê sy. 

Sy glo as die rolle omgeruil was, sou Sheldeen dit vir haar ook wou doen – selfs “al wou sy nie aanvanklik gehad het ek moes vir haar skenk nie.”