Cleo se eienaars was bitter bekommerd toe sy skielik by hul huis in Olathe in die Amerikaanse deelstaat Kansas wegraak.

In ’n pleidooi op onder meer Facebook het hulle mense gevra om te help soek, maar dae het verbygegaan en steeds was daar g’n teken van hul geliefde vierjarige labrador-kollie-kruising nie.

’n Week later het Colton Michael en sy vrou, Britney, ná ’n uitstappie na hul huis in Lawson in die buurstaat Missouri teruggekeer toe hulle die mooi hond op hul stoep gewaar. 

Sy het heel tuis gelyk, so asof dit haar huis is, maar sy was ook duidelik onseker en ietwat angstig oor die twee vreemdelinge wat skielik daar opgedaag het. Dit was so al asof sy iemand anders verwag het.

Dit was Cleo, steeds in 'n goeie toestand nadat sy ’n tog van meer as 90 km afgelê het ná haar verdwyning in Kansas en haar weg hierheen gevind het haar baas se vorige huis waar hulle twee jaar gelede weggetrek het.

Sy wou hulle eers nie naby haar toelaat nie, het Colton aan die plaaslike TV-netwerk KMBC oor Cleo se ongelooflike reis vertel.

“Maar dit sal enigeen ontstel as jy jou weg huis toe vind en vreemdelinge daar aantref!”

Maar die twee diereliefhebbers wat “die hartseer daarvan ken om ’n hond te verloor” kon spoedig Cleo se vertroue wen en haar vir ’n mikroskyfie met eienaarsinligting skandeer. Gelukkig het sy een gehad.

“Maar dis dan die mense wat eers hier gewoon het,” het Britney verbaas opgemerk. Cleo se eienaar, net bekend as Drew, was nog meer verstom toe hulle hom in Kansas kontak.

“Dis die vreemdste storie. Sy beteken regtig alles vir my en my ma,” het hy aan 'n TV-span gesê.

En ’n video van Cleo se reaksie toe Drew en 'n vriend haar in Missouri kom haal, het harte oral warm gemaak. Haar ore was skielik orent en sy het die lug gesnuif toe hulle stilhou en Britney haar buitentoe neem. En ten spyte van sy gesigmasker het sy dadelik stertswaaiend op haar baas afgestorm.

Drew en haar nuwe ‘voogde’ kan steeds nie uitpluis hoe sy so ’n lang en gevaarlike roete sy moes onder meer ’n rivier en ’n brug met verkeer oorgesteek het ongedeerd afgelê het nie. Maar hulle is diep dankbaar.

En Colton reken: “Noudat ons weet aan wie sy behoort, sal ons dadelik weet wie om te bel as sy weer hier opdaag.”

Bronne: kmbc.com, CNN, CBS, Facebook, Twitter

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe