Olivia Jasriel (50) was ontstoke toe sy verlede Donderdag 12 September ingelig is dat parool vir die oudtennisster toegestaan is.

Dít kom nadat aanvanklik besluit is Hewitt sal op 23 September op parool vrygelaat word. Maar nadat vroueregtegroepe en slagoffers stem dik gemaak het, het Ronald Lamola, minister van justisie, oor die naweek besluit die kwessie sal nou na die korrektiewe toesig- en paroolhersieningsraad verwys word. 

Olivia sê aan Huisgenoot sy en haar regsverteenwoordiger het onmiddellik ’n proses in werking gestel om die besluit teen te staan omdat nie een van Hewitt se slagoffers in die besluit geken is nie. 

“Ek kon dit nie glo toe ek daarvan hoor nie. Die duiwel was los. Eers was ek in skok, maar toe word ek kwaad. Ek kon nie glo dat ’n veroordeelde verkragter parool kry sonder dat sy slagoffers in die proses geken word nie,” sê Olivia.

“Ons het dadelik probeer uitpluis wat gebeur het . . . Dit het nie vir ons sin gemaak dat die departement van korrektiewe dienste die slagoffers eenvoudig in die proses sou misken of ignoreer nie.”

Sy is verheug dat daar nou ’n stokkie voor die proses gesteek is, sê Olivia. ’n Proses om die slagoffers deel van die paroolverhoor te maak, sal nou eers begin voor ’n nuwe beslissing gemaak word.

Bob Hewitt tydens sy verhoor, 10 Februarie 2015. F
Bob Hewitt tydens sy verhoor, 10 Februarie 2015. Foto: Moeletsi Mabe/The Times/Gallo Images/Getty Images

“Ek is dankbaar daarvoor, maar dit hoef nie vir ons nodig te wees om hierdie dinge te doen nie. Dis vanselfsprekend dat die slagoffers betrek word – en ons sal seker nou in die komende weke hoor presies wat gebeur het.”

Olivia sê sy gaan Hewitt se parool weer teenstaan – en dat sy hoë ouderdom nie vir haar ’n faktor in die paroolverhoor is nie.

“Mense sê gereeld vir my: Olivia, die man is oud . . . Maar dit maak nie vir my saak nie. Dit het beslis nie vir hom saak gemaak toe hy my verkrag het toe ek 12 jaar oud was nie. En ons moet natuurlik nie vergeet dat hy reeds ’n korter vonnis weens sy ouderdom ontvang het nie. Nou vra hy vir nóg minder,” sê sy.

Sy sê sy hoop die paneel neem die huidige klimaat van misdaad teen vroue in ag; en dat dít eindelik daartoe lei dat Hewitt nie die buitekant van die tronk sal sien nie.

“Hy sit nou maar drie jaar agter tralies. Ek is my lewe lank gevonnis oor wat hy aan my gedoen het. Vir jare en jare loop ek en kyk oor my skouer; vreesbevange en boonop verwerp omdat ek vir myself opgestaan het.

“Nou wil hulle hom in die wêreld vrylaat – om te wat? Vir wie is dit goed? Want dis beslis nie goed vir die slagoffers nie. Boonop glo ek nie dat oortreders van seksuele misdade gerehabiliteer kan word nie. Dis nou maar hoe ek voel.” 

Bob Hewitt
Bob Hewitt buite die Johannesburgse hooggeregshof. Foto: Getty Images

Boonop het Hewitt nooit vir haar om verskoning gevra nie, sê Olivia.

“Dis regtig ontstellend. Ek dink nie hy het ooit berou getoon oor sy dade nie. Hy het dit erken, ja, maar dis iets heeltemal anders. In al die dekades het hy nog nooit vir enige van ons jammer gesê oor sy gruweldade nie. En nou wil hy ’n vry man wees . . . Dis belaglik.”

Hewitt wou verlede jaar – ná net twee jaar agter tralies – ook aansoek doen om sy oorblywende vier jaar tronkstraf in huisarres deur te bring.

Die oudtennisspeler is in Mei 2015 op twee aanklagte van verkragting en een van onsedelike aanranding in die hooggeregshof in Pretoria tot ses jaar tronkstraf gevonnis. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.