Hy herstel tans nadat hy ’n mantelvliesbreuk-operasie ondergaan het en ook onder die mes was vir nog ’n operasie aan sy stembande.

“Ons deel altyd net die dinge wat goed lyk. Nie vandag nie. Wel, hierdie is hoe dit die afgelope twee dae vir my in die intensiewesorgeenheid was: Sleg, ja,” het hy op Instagram en Facebook laat hoor. 

Tog sê hy dat hy ten spyte van al die pype, ’n kateter, pleisters, pyn en middernagtelike roetineondersoeke dankbaar is dat alles goed verloop het.

“Ek mag vir vyf dae nie praat of geluide maak nie, so ek lees maar,” het hy geskryf.

Hy het ’n foto ingesluit waar hy die bekroonde skrywer Deon Meyer se boek Prooi lees. 

“My mantelvlies is gefix, so nou is dit net die herstelproses wat voorlê. Dankie vir almal se gebede,” het hy geskryf. 

Die sanger se ma en bestuurder, Ronel Brink, sê dit gaan onder die omstandighede goed met Bobby.

“Hy het baie pyn. Hy was vyf uur lank in die teater om aan sy stembande te laat opereer en om vir ’n derde keer ’n mantelvliesbreuk-operasie te ondergaan.”

Dit is ook nie die eerste keer dat Bobby ’n operasie aan sy stembande ondergaan nie. Hy was in 2016 twee keer onder die mes vir ’n operasie aan sy stembande en is in 2017 vir ’n opvolgprosedure weer in die hospitaal opgeneem.

“Die spesialiste is baie tevrede met hoe alles verloop het,” sê Ronel. “Ons glo en vertrou hy sal volkome herstel.”