"Laat boer Johan my bel. Ek sal hom moed inpraat,” sê Jan Nieuwoudt, aartappelboer van Lambertsbaai aan die Weskus, hier waar ons aan die kombuistafel in sy plaashuis sit.

Die “boer Johan” na wie hy verwys, is natuurlik die verguisde deelnemer aan die jongste seisoen van Boer Soek ’n Vrou op kykNET. En dis nie leë woorde nie, want boer Jan weet maar alte goed hoe boer Johan deesdae voel, selfs al ken hulle mekaar van geen kant nie en het hulle mekaar nog nooit ontmoet nie.

Hy was immers ’n paar jaar gelede in dieselfde bootjie: oornag die mees omstrede en gehate boer in die land.

Die onlangse herrie oor ’n episode in die 10de seisoen van Boer Soek ’n Vrou waarin boer Johan (60) kykers ontstel het met sy optrede teenoor ’n vrouegas, het sterk herinner aan Jan se eie ervaring in die sesde seisoen.

Jan is nog net so uitge­sproke. Foto: Corrie Hansen

“Chauvinis”, “casanova” en “boelie” is hy destyds toegesnou. “Ek’s Suid-Afrika se mees gehate man, selfs meer as (die EFF-leier, Julius) Malema,” het boer Jan vier jaar gelede aan Huisgenoot gesê nadat ’n storm om sy kop losgebars het.

“Moenie ’n haardroër aanskakel nie, want ek sal jou vloek,” het Jan (toe 52) onder meer in daardie gewraakte episode gegrom. Die kykers was woedend oor hoe hy met sy vrouegaste praat; daarna het sy status getuimel van die seisoen se gewildste boer tot die een oor wie niemand ’n goeie woord te sê gehad het nie.

Ook boer Johan is verlede maand verdoem nadat hy een van sy vyf vrouegaste, Christa, huis toe gestuur het.

In die episode van 23 November het hy Christa die deur gewys nadat hy aan tafel prontuit vir haar gesê het: “Niks meer wyn vir jou nie.”

In die nasleep het meer as 2 000 mense op Facebook teenoor hom gal gebraak. Dit het so erg geraak dat Johan die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie genader het oor hoe hy in die gewilde werklikheidsreeks uitgebeeld word.

Boer Johan sê hy swyg op regs­advies. Foto: Verskaf

Sy prokureur het hom aangesê om niks meer oor die kwessie kwyt te raak nie.

Johan, wat buite Carolina in Mpumalanga met beeste boer en ook ’n huis op Heidelberg, Gauteng, het, het aan Huisgenoot gesê hy is nou klaar gepraat.

“Ek weet wie ek is, my kinders weet wie ek is en my eksvrou weet wie ek is.”

En hier waar ons by Jan (56) aan die kombuistafel in sy plaashuis sit, eggo hy Johan se woorde: “Ek weet wie ek is en wat ek is en verander nie. Ek steur my nie aan wat mense sê nie.”

Hierop knik Paulette de Lill (43), die nuwe vrou in sy lewe, instemmend. Hulle ken mekaar al van skooltyd op Clanwilliam af. Sy werk nou by die koöperasie op Graafwater – en dis waar hulle mekaar vanjaar weer raakgeloop het.

“Ek is ’n goeie mens, maar ek is nie ’n sirkusleeu nie. Moenie met my stert speel nie. Ek sal spring,” vertel Jan. “En moenie ’n sambreel in my gat oopmaak nie.”

Paulette het ook op 'n plaas in Clanwilliam se wêreld grootgeword. Foto: Corrie Hansen

Paulette druk haar gesig in haar hande en lag. Duidelik geniet sy sy humor. Later, toe hulle in die plaashuis se agterdeur vir foto’s poseer, skerts Jan: “Sy sal nie langs my kan staan nie; sy’s te dik.”

Paulette skater lekker oor dié onsin.

Maar, grappies op ’n stokkie. Toe hy destyds so in die openbaar verag word, het dit gevoel hy wil net wegkom. Hy verstaan wat boer Johan nou deurmaak.

“Jy wil nêrens jou gesig wys nie; jy is te bang jy word beledig,” onthou Jan.

“Dis asof jou lewe voor jou wegsink. Dit was vir my ’n moerse slag. Gelukkig was ek toe jonk genoeg dat dit van my rug afgerol het.”

Jan se raad aan Johan is op die man af: “Moenie wegkruip nie. Wanneer mense jou voorkeer en uitvra, vra hulle presies wat hulle wil weet en beantwoord dit so eerlik moontlik. En laat Gods water oor Gods akker loop.”

Hy vertel hoe ’n man en vrou in ’n motor met ’n GP-registrasienommer pas drie weke gelede op die plaas aangekom het om die “ongeskikte boer Jan” te ontmoet.

“Ek het skuur toe gestap, gelag en vir hom vertel om te f***** van die plaas af,” sê Jan.

Net so vra mense hom en Paulette nou nog uit oor die haardroërs in hul huis.

“Ek vertel hulle gou ek kan my hare droogblaas net wanneer ek wil. Ek het al die Boer Soek ’n Vrou-seisoene gekyk, behalwe die een waarin Jan was,” lag sy. “Dankie tog! Ons is albei sonder ’n wag voor ons mond.”

“My mond bring my baie in die moeilikheid,” vertel Jan, “maar mense neem my te ernstig op. Mense moet my lank ken voor hulle my verstaan, maar ek het nie tyd om my woorde te tel nie. Ek is wel verstandiger as destyds en besef wat die uitwerking is van wat ek kwytraak.”

Jan sê hy wou dit aan die vroue oordra dat die plaaslewe nie maklik is nie. Foto: Donna Lewis

Tog antwoord hy steeds eerlik wanneer mense hom uitvra oor sy verhoudings en werk.

“Wanneer bars ’n pyp? Wanneer daar te veel druk is. Laat die water vloei. Laat gaan.”

Watter druk het daartoe gelei dat sy huwelik met Gloudien (47), wat hy in Boer Soek ’n Vrou ontmoet het, net minder as drie jaar gehou het? Die twee verliefdes het destyds sommer twee keer bruilof gehou, maar op 14 Augustus vanjaar is hul skeisaak in die Kaapse hooggeregshof afgehandel.

“Ons het net te veel baklei; dis ons albei se skuld,” antwoord Jan nadenkend. “Sy is ’n pragtige mens,” sê hy oor Gloudien. Hulle praat steeds af en toe oor die telefoon, hy en “Proppie”, soos hy haar noem.

Hy meen die vergrootglas van Boer Soek ’n Vrou op hulle het ook ’n rol gespeel in hul huwelik se verbrokkeling. Alles tussen hom en Gloudien het dalk net te vinnig so voor die kameras gebeur. Jan sê hy het wel geleer jy moenie oor nonsens baklei nie.

“Wanneer ’n koppie stukkend val, tel die stukke op. Dit help nie om daaroor te baklei nie; dit sal nie die koppie heelmaak nie.”

Hy en Paulette kyk nou saam vorentoe, sê hy. Paulette, wat ook op ’n plaas in Clanwilliam se wêreld grootgeword het, lag lekker vir Jan se sêgoed. Hulle deel baie sienings, soos ’n afkeer van skoene en ’n liefde vir kaalvoet loop op die plaas.

En hulle laat albei die weggooihond Debbie, wat voorheen buite moes slaap, in die huis toe. Sy lê lekker stertswaaiend hier onder die kombuistafel.

“Die plaaslewe is nie maklik nie en ek wou dit aan die vroue oordra,” vertel Jan oor die reëls wat hy destyds in Boer Soek ’n Vrou neergelê en wat hom so ongewild gemaak het.

“Die reeks het my wel volwasse help raak,” vertel hy nou.

"Ek kom met meer verskillende mense oor die weg as voorheen."

Onttrek dadelik óf gaan voort met die reeks en raak deel daarvan, is sy raad nou aan boer Johan. “Jy kan uitklim as jy wil, maar ek is bly ek het nie. Ek het dit geniet."

"“Ek was by ’n sjokoladefabriek in Kaapstad; het in Kampsbaai gebly; ek het paint ball gespeel . . . dinge wat ek nooit andersins sou doen nie. Ek sou ook nooit die ander boere ontmoet het nie.”

Boer Johan moet onthou mense is wreed, maan hy, veral wanneer hulle nie die hele storie ken nie.

“Vergewe die publiek, want hulle weet nie waarvan hulle praat nie,” is sy raad. Sal boer Johan ná alles tog liefde vind, ook nadat dit nou bekend geword het sy eksvrou woon steeds in ’n huis op sy erf op Heidelberg? Net die tyd sal leer.

Boer Jan sê immers: “Moenie te ernstig raak oor wat nou gebeur nie. Dis ’n geleentheid vir persoonlike groei. Bly net getrou aan jouself!”