Só het Boer Johan, een van KykNET se Boer Soek ’n Vrou-deelnemers, Sondag aan Huisgenoot gesê.

Johan het telefonies laat weet hy het sy prokureur instruksie gegee om ook namens sy eksvrou, Yvonne Uys, en hul kinders op te tree. Johan boer met beeste buite Carolina in Mpumalanga en het ook ’n huis in Heidelberg in Gauteng.

Boer Soek ’n Vrou-aanhangers se wenkbroue het behoorlik gewip toe Boer Johan onlangs een van sy vyf vrouegaste huistoe gestuur het.

In die episode wat op 23 November uitgesaai is, het hy haar blatant aangesê: “Niks meer wyn vir jou nie,” en daarna die deur gewys. Christa, wat aan die ontvangkant van sy skerp woorde was, het ook nie die 10 minuut lange alleentyd, soos die ander vier vroue met hom deurgebring nie.

Ná afloop van die episode het sowat 2 000 aanhangers op verskeie nuusblaaie se Facebook-blaaie oor sy optrede teenoor 'n vrou gal gebraak.  

“As die kykers maar net weet hoe ek aangehits is, wat vir my gesê is en wat nie gewys is nie . . .”

“Ek kan nie een persoon kwalik neem vir daardie kommentare nie. Ek wil hê die mense van Suid-Afrika moet weet wat by daardie tafel plaasgevind het, ek was provoked,” het Boer Johan verlede week tydens ’n onderhoud aan Netwerk24 gesê.

Maar dit was nie al opslae wat die uitgesproke boer gemaak het nie. Verlede week het hy kykers weer die harnas in gejaag toe hy 'n geraamde lys van sy ideale vrou aan sy gaste gewys het. Dié opspraakwekkende lys hang teen sy eetkamermuur. 

Van meet af aan was dit duidelik: Boer Johan het 'n mening, en as daar 'n geleentheid hom voordoen geskik of nie gaan dit gehoor word.

Tydens die eerste episode van die huidige reeks het hy reeds van die deelnemers as oordonderend beskryf. Dit het baie aanhangers sommer vroeg reeds warm onder die boordjie gelaat. 

Boer Johan het egter telefonies aan Huisgenoot gesê dis nou tot hiertoe en nie verder nie. Hy gaan geen verdere onderhoude toestaan nie.

“Ek weet wie ek is. My kinders weet wie ek is en my eksvrou weet wie ek is,” het hy telefonies beklemtoon.