Die Engelse Rox-Zee het op die laaste seisoen van die reeks Boer Soek 'n Vrou die geliefde boer Réan se hart gesteel. Réan en Rox-Zee (albei 27) was een van die gunstelingpaartjies onder kykers, en die taalkwessie het hulle min gekwel – hulle het oor die grens gevry.

Rox-Zee deel gereeld op Instagram kiekies van die ander liefde in haar lewe – haar perde.

Sy het onlangs 'n hartroerende inskrywing op haar Instagram-blad gemaak kort nadat sy van haar perd, Oz Ball, wat 13 jaar oud was, moes afskeid neem.

"Aan my brawe, prettige seun Oz Ball. Ek is so jammer. Ek dra jou hart saam met my (ek dra dit in my hart). Ek is nooit sonder dit nie (orals waar ek gaan, gaan jy, my lief). Rus sag, jy het ’n stukkie van my hart en siel. Ek sal jou nooit vergeet nie en ek sal jou elke dag mis en aan jou dink. Dankie dat jy my vriend was, my vlerke, my glimlag en my troos. Ons het 'n spesiale band gehad en ek is so dankbaar ons kon spesiale oomblikke met mekaar deel. Ek kan sien hoe jy vrylik rondhardloop op die groen weivelde daarbo. Asseblief vergewe my." 

Rox-Zee het aan Huisgenoot vertel Ozzie, soos wat sy hom soms genoem het, het sowat vier jaar gelede probleme in een van sy agterbene gekry. Hy het artritis gehad en sy been het begin verkrummel.

Rox-Zee saam met haar geliefde Ozzie. Foto: Instag
Rox-Zee saam met haar geliefde Ozzie. Foto: Instagram

"Toe ons daarvan uitvind, het ek onmiddellik gestop om met hom te skou. Hy het afgetree en hy was elke dag net rustig. Ons wou hom nie dadelik uitsit nie en wou vir hom steeds ’n goeie lewe gee. Ons het elke dag vir hom baie duur medikasie gegee."

Rox-Zee, wat nog drie ander perde het, skou gereeld en het Ozzie gekry toe hy vyf jaar oud was. Hy was 'n pragtige Suid-Afrikaanse Warmblood-perd met die mooiste geaardheid, vertel sy.

Rox-Zee saam met Ozzie. Foto: Instagram
Sy het gereeld met Ozzie geskou. Foto: Instagram

Sy het vir 'n ruk met hom geskou en hy was baie goed, vertel sy.

"Ons sou seker sy besering opgetel het as ons X-strale op hom laat doen het voor ons hom gekoop het. Maar ons het nie. Ons het hom gekoop en eers later uitgevind van sy been. Maar ek is baie, baie bly ons het hom gekoop. Die meeste mense sal dadelik 'n perd uitsit met so ’n besering, maar ons wou mooi na hom kyk tot die einde."

Rox-Zee saam met Ozzie. Foto: Instagram
Rox-Zee saam met Ozzie. Foto: Instagram

En dis presies wat Rox-Zee en haar familie toe gedoen het totdat Ozzie se toestand vererger het en hulle hom ongelukkig moes laat uitsit.

Rox-Zee woon in Hillcrest in KwaZulu-Natal en Réan boer op 'n plaas buite Groblershoop in die Noord-Kaap, sowat 1 200 km daarvandaan. Hulle is sedert Julie verlede jaar in 'n vaste verhouding en probeer mekaar minstens elke drie weke sien.