In die derde laaste episode van die huidige seisoen van kykNET se realiteitsreeks, Boer soek ’n Vrou, het kykers gesien hoe die boere hul plase verlaat om by hul gekose dames se ouers te gaan kuier.

Sy kan nogal dink dat dit vir hulle ’n uitdagende en senutergende ervaring kon wees, vertel die aanbieder Minki van der Westhuizen.

“Veral omdat van hulle van klein plekkies af kom en nie dikwels in situasies beland waar hulle skielik saam met ’n groot groep vreemdelinge moet kuier nie.” 

Tog het al die boere voor die tyd aan haar gesê dat hulle baie daarna uitsien om hul dames se familie en vriende te ontmoet.

Net soos die kykers het sy ook nie voor die tyd geweet wie die boere se finale keuses gaan wees en wat om te verwag nie. Sy het ook nie haar eie persoonlike voorkeur en keuses gehad nie, want sy was “mal oor al die dames en boere”.

“Ek het aanklank by almal gevind,” vertel Minki. “Ek wil net hê dat hulle almal uiteindelik liefde sal vind, maak nie saak of dit nou binne of buite die TV-program is nie.”

In die huidige reeks was al die deelnemers baie openlik en duidelik oor wat hulle in ’n toekomstige lewensmaat wil hê.

“Dit wys jou dat almal ingeskryf het vir die regte redes en dit baie ernstig opvat,” sê Minki.  

En haar mening oor die vier oorblywende meisies? 

“Helene is baie selfversekerd, Bianca het ‘n warm persoonlikheid, Corné weet wat sy wil hê in die lewe en Marilyn is baie selfstandig,” beskryf Minki hulle.

Nadat die potensiële skoonouers ontmoet is, is dit tyd vir die boere om hul dames op ’n vakansie te neem om te sien of daardie aanvanklike vonk steeds daar is.

Kykers kan volgende Donderdag (18 Januarie) sien of dit wel die geval sal wees en daarmee saam loop die tiende seisoen van Boer Soek ’n Vrou op 25 Januarie tot ’n einde.