Die boer Kevin Elstadt van Lady Grey het die finale twee vroue, Mia en Marguerite, die trekpas gegee nadat hy gesê het dit sou onregverdig wees om een van die twee te kies as hy nie heeltemal seker is van sy keuse nie. 

En nou, vier jaar nadat daardie episode uitgesaai is, trou boer Kevin (40) eindelik – maar nie met 'n deelnemer van die reeks nie.

Die trou-uitnodigings is pas uitgestuur en die nuus is uit: Hy trou met sy jare lange vriendin, Natashja Fourie (32). 

Boer Kevin en sy verloofde, Natashja Fourie.

Volgens Natashja se ma, Melanie, ken die tweetjies mekaar al 11 jaar lank. 

“Hulle het jare gelede in Bloemfontein ontmoet en dadelik goed oor die weg gekom. Maar Natashja sou twee dae later Wallis toe gaan om daar te werk,” het Melanie aan Huisgenoot vertel. 

Kevin en Natashja, 'n funksiekoördineerder, het kontak behou en toe sy drie jaar daarna terugkeer Bloemfontein toe, het hulle besluit om die verhouding 'n kans te gee.

Maar almal weet langafstandverhoudings is nooit maklik nie en met meer as 280 km tussen hulle, het die paartjie later besluit om dit halt te roep, vertel Melanie.

“Ag, hulle was verskriklik aan en af gewees. Hulle was mal oor mekaar, maar die afstand tussen hulle het altyd gesukkel.” 

Dit was Melanie wat op ’n dag vir haar dogter gevra het of sy gesien het Kevin het vir Boer Soek ’n Vrou ingeskryf. 

“Sy het gesê sy weet daarvan en dat dit nou maar so is.”

Later, voor die finale episode van die reeks uitgesaai is, het Natashja vir Kevin na haar verjaardagvieringe in Bloemfontein genooi.

“Daar het hy vir haar gesê dat hy nie een van die meisies gekies het nie.” 

In 2017 het die tweetjies besluit om dit weer ’n kans te gee en hulle het verloof geraak.

Natashja het reeds na die plaas op Lady Grey getrek en gaan die plaas se bemarking behartig terwyl hulle troureëlings tref. Die paartjie beplan om in April af te haak. 

“Hulle is onafskeidbaar. Ons is baie gelukkig saam met hulle en ons weet hulle is perfek vir mekaar!”, vertel Melanie.