In vandeesweek se episode van VIA se maatsoekprogram Wie’s My Liefie? is Marilyn weer op soek na 'n maat. Jacaranda FM se Martin Bester, die aanbieder van die program, hou sy lyf Kupido en help enkellopendes weekliks liefde soek. Nou is dit Marilyn se beurt.

Watter eienskappe het haar volmaakte droomman? Lengte. En natuurlik moet hy ’n romantiese sy hê, laat sy hoor in die episode wat vanaand uitgesaai word.

Maar sal Martin vir haar die regte pasmaat kan vind wat boonop lank en aantreklik is?

Marilyn het geen bekendstelling nodig nie. Haar landgenote het haar onlangs leer ken in die kykNET-trefferreeks Boer Soek ’n Vrou. Boer Johan het haar toe as sy pasmaat gekies. Kykers was egter geskok toe die twee duifies, wat so lekker op die kassie gekoer het, se paadjies skielik skei.

“Ek is nie desperaat vir liefde nie; ek soek net die regte mens,” het Marilyn onlangs aan Huisgenoot gesê. “Dit gaan oor die geleentheid. Dit is lekker om op nuwe maniere mense te ontmoet,” voeg sy by. Vanaand maak sy weer ’n draai op die kassie om haar ridder op die wit perd te soek. Die episode is reeds op 1 November verlede jaar opgeneem. 

Kyk gerus vanaand se episode van Wie’s My Liefie? om uit te vind of Kupido se liefdespyle haar in dié program tref.

  • Skakel vanaand om 20:30 in op VIA (DStv-kanaal 147).