Boer Soek ’n Vrou op kykNET het skaars vanjaar se tien topboere bekend gemaak en die vroue (en mans) swymel al klaar.

As ’n mens so na die sosiale media kyk, is dit klaar duidelik wie die voorlopers is, en dit gaan moontlik die kykers se vyf gunstelinge wees vir die 11de reeks wat in Oktober begin.

Gemeet aan die “likes” en “shares” op BSV se Facebook-blad, meen kykers dit is veral boer André (35) en boer Réan (26) van die Noord-Kaap, boer Cassie (28) van KwaZulu-Natal en boer Schalk (26) van Limpopo, wat die vroue se knieë lam gaan maak. Die vyfde boer, boer Toanette (23) is ook van Limpopo, en is reeds net so gewild.

’n Mens kan sien boer André, wat met sy meer as 600 likes voorloop, is ’n boer in murg en been. André praat met passie oor die merino- en angora-boerdery wat hy tussen Colesberg en Noupoort bedryf.

“Ek glo nog in ’n sprokie! Dit kan nie net op TV so wees nie,” vertel André. Sy hande en oë gesels saam wanneer hy vertel ’n vrou is die hart van die huis en die huis die hart van die plaas. Hy wil hê sy moet dit vir haar lekker maak en kan selfs die huis pers verf as sy wil.

En die vroue is gaande oor hom. “Lyk na ’n oulike, spontane, opregte man. Hulle is dun gesaai,” skryf ene Vicki van Vuuren.

“Hy gaan so baie briewe kry. Definitief een van die topboere, skryf sy by sy video op Facebook.

Boer Réan, wat naby Groblershoop ’n wingerd- en pekanneutboerdery bedryf en wat reeds met meer as 300 likes spog, vertel hy het nou sy “fair share van stout- en single-wees” gehad.

Die ambisieuse jong boer glo nog in ware liefde en hoop hy sal sy ideale maat vind. As hy net “die helfte so lief kan wees” vir sy vrou as sy geliefde Jack Russell Lielie, spot boer Réan oor die vrou wat sy hart gaan steel.

Boer Schalk, ’n plaasbestuurder van ’n wildsplaas tussen Vaalwater en Ellisras, is veral sag op die oog en ’n groot gunsteling. Ene Rochelle Erasmus swymel op boer Schalk se Facebook-blad: “Ohh. Hys my favourite klaaaaar! (sic)”

Die hardwerkende, geesdriftige boer is ’n familiemens, ywerige hengelaar en fotograaf, wat nog drome koester om ’n helikoptervlieënier te word en ’n kroos van sy te hê.

Schalk vertel hy gaan die ou oom op die houtstoel wees met die haelgeweer wanneer die manne eendag by sy “plaasdogtertjie” kom vlerk sleep.

“Hy gaan die meeste briewe kry, hoor my lied,” skryf ene Hester Hoffman oor boer Cassie van Elandslaagte. Hy is veral iets vir die oog wanneer hy sy hemp uittrek, maar Cassie vertel dit is met kalfies uittrek by geboorte waarmee hy die beste is. “Dalk sal ek selfs eendag my vrou kan help,” spot hy.

Die donkerkop boer Toanette van Modimolle, die enigste vroueboer onder die 10 gekose boere, is aktief betrokke by die boerdery en ook in natuurbewaringopleiding.

Die saggeaarde jong vrou soek graag ’n man wat ’n kind van die Here is en haar liefde en passie vir diere deel, maar hy hoef nie self te boer nie en kan elders werk. “Solank hy hier op die plaas is om my te beskerm.”

Ene Dirk Human por op Facebook die manne (en vroue) aan om vir haar te skryf sodat sy in die topvyf kan wees: “Mense, kom almal doen iets om ook ’n vrou onder die topvyf te kry. Skryf almal ’n brief, mans en vroue, soveel moontlik. Klink snaaks, maar hulle tel net die briewe, en weet nie wat binne staan nie. U kan net 'n kort brief vir ondersteuning skryf en verduidelik die rede. So manupileer ons die getalle, en maak die reeks interessant. Kom aan, laat daai briewe loop.”

Natuurlik is daar nog vyf oulike boere om voor te skryf. Kyk ook dié oulike manne se video’s en skryf vandag nog vir jou gunsteling!

 
Skryf so in