Hy is niemand se skoothondjie nie, sê Boer Johan.

In verlede week se episode, waar die boere saam met die vroue by die moontlike skoonouers gekuier het, was dit duidelik boer Johan en die vrou van sy keuse, Marilyn, het die skoot hoog deur. Vir almal het dit gelyk asof die liefde tussen dié twee vir ewig sal blom.

Groot was die verrassing dus toe kykers hierdie week uitvind die twee se liefdesbootjie het sommer kort ná daardie kuiertjie op die rotse beland.

Marilyn was ontsteld omdat Johan die dag ná die familiekuier laat vir 'n ontbytafspraak met haar ouers was. Sy vertel hul reëling was dat hy haar om 09:00 die oggend sou optel, maar hy het 'n boodskap gestuur om te sê hy sal 'n halfuur laat wees. Toe Johan eers om 10:00 opdaag, was die gort gaar.

Dit gaan vir hom meer oor homself as oor ander mense, kla sy.

Johan sê weer hy is niemand se skoothondjie nie.

Hy is egter nie spyt dat hy haar ontmoet en haar gekies het nie. “Marilyn was die lekkerste, wonderlikste ding wat gebeur het,” vertel hy. “Ek het op die plaas gestap soos 'n kat wat 10 bakke room geëet het. Ek was verlief tot oor my ore.”

Dit lyk wel asof boer Adriaan en sy Helene, asook boer Jacques en sy Corné, se liefdespad nog sonder kinkels is. Maar of dit nog volgende week tydens die “reünie” dieselfde gaan wees, kan niemand voorspel nie. Hierdie tiende seisoen van Boer Soek 'n Vrou is immers die een wat die meeste verrassings tot nog toe opgelewer het!

(Die 13de en laaste episode van Boer Soek 'n Vrou word op Donderdag 25 Januarie om 20:00 op kykNET uitgesaai.)