’n Jong Suid-Afrikaanse boer, wat in Amerika werk en op pad terug was om sy droomvrou in Lephalale, Limpopo, te vra om te trou, is oorlede toe hy skielik tussen vlugte in die hospitaal opgeneem moes word.

Danie Dercksen (37), wat in Noord-Dakota boer, het Dinsdag in ’n hospitaal in Chicago weens ’n aneurisme gesterf.

Erma Weber (25), ’n onderwyseres op Lephalale het aan Huisgenoot gesê dit is nog te vroeg om oor haar vriend se dood te praat. “Hy was op pad om my te vra om te trou,” het sy Woensdag gesê.

Wyle Danie Dercksen en sy meisie, Erma Weber. Foto
Wyle Danie Dercksen en sy meisie, Erma Weber. Foto: Facebook

Sy het Maandag op haar Facebookblad geskryf hoe gelukkig sy is. “My mooiste mens is amper op pad huis en jou welkom-tuis-geskenk en kolwyntjies wag vir jou. Ek is uit my vel uit opgewonde.”

Danie het egter nooit die huis gehaal nie.

Manuel Fick, ’n Suid-Afrikaner van die plasingsagentskap in Amerika, het op Facebook geskryf dit was met groot hartseer dat hulle van Danie se dood moes verneem. Danie was op pad huis toe van sy werk in Noord-Dakota toe hy erge pyn in sy rug ontwikkel.

“Toe hy in Chicago land, is hy na die hospitaal geneem, waar hy ’n aneurisme gehad het en oorlede is.”

Wyle Danie Dercksen en sy meisie, Erma Weber. Foto
Wyle Danie Dercksen en sy meisie, Erma Weber. Foto: Facebook

Manuel het bevestig Danie sou verloof raak met sy terugkeer. Hy het sy diepste medelye aan sy familie en aanstaande verloofde uitgespreek en mense gevra om vir hulle in die moeilike tyd te bid.

Nonnette Denny, ’n vriendin van Danie, het op sy blad geskryf: “Daantjie, woorde het ek nie. Hier waar ek tik loop die trane. Jy was my beste maatjie in die donkerste tyd van my lewe . . . Jy was daar toe Liewe Jesus Jonas kom haal het. Dankie vir die mens en vriend wat jy was vir my en vir die kinders ook. Daantjie my hart is stukkend stukkend . . . Rus sag my Daantjie love you long time.”

Hendri van Wyk het geskryf: “Vandag het ek nie net my broer verloor nie, maar ook my beste vriend. Hy was altyd daar om my te help en te ondersteun, maak nie saak wat nie. Dit voel steeds nie werklik nie. Al wat ek kan sê, is ek sal jou mis, my klein groot broer, en ek weet jy is op ’n beter plek. Dankie vir die voorbeeld wat jy aan my gestel het.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.