Charles het Woensdagmiddag 'n besonderse en inspirerende verklaring oor die aanval in vyf plasings op Twitter gedeel.

Hy vertel van die wrede aanval wat hy oorleef het en dat hy besluit het om reguit van die hospitaal na die plaas terug te keer om in die lig van hul voortdurende gespot sy millenniër-eweknieë te wys wat ware toewyding tot jou werk eintlik beteken.

"Maar in alle erns, die aanval was fisiek en emosioneel pynlik. Ek is met 'n koevoet aangerand, het gebreekte bene, was in 'n mat opgerol en vir dood in my huis gelos."

Hy beskryf sy ontkoming as niks minder as 'n wonderwerk nie.

"Ek voel of ek uit die dood teruggekeer het. Ek is so dankbaar ek leef, en my hart gaan uit na almal wat familielede vanweë die voortdurende plaasaanvalle verloor het."

Dis nie polities gemotiveerd nie

Charles wil ook een aspek baie duidelik maak, en dit is dat die aanval op hom geensins uit 'n politieke agenda voortspruit nie.

"Hierdie was net drie algemene bendelede wat deur hul eie belange gemotiveer is.

"Ek glo aan die waardes waarop die land gebou is en sal aanhou hoop vir harmonie en vrede.

"Ek is nou dubbel gemotiveerd om elke dag werk toe te kom, en ek sal aanhou om seker te maak ek kan 'n bydrae lewer en ook, hoe gering ook al, 'n verskil in my gemeenskap maak."

Charles is in 2017 met die 1659-eremedalje van die wynbedryf vereer. Dit word toegeken aan 'n individu wat 'n nalatenskap geskep en 'n uitnemende rol in die wynbedryf gespeel het.

Dit is die eerste keer dat dieselfde familie twee keer met dié besonderse prys vereer word.

Hy is ook in 2017 deur die Landbouskrywers as die boer van die jaar aangewys.

Fairview het in 1693 tot stand gekom. Charles se pa, Charles Back I, was 'n immigrant afkomstig van Litaue en hy het in 1902 hier voet aan wal gesit.

Bykomende bron: fairview.co.za