SWART Maandag. So word die dag genoem toe duisende Suid-Afrikaners onlangs die kleur van rou gedra het om hul respek aan die slagoffers van plaasmoorde en landelike misdaad te betoon.

Dit het begin met die skietdood op 24 Oktober van die 47-jarige Joubert Conradie op sy plaas, Uitkyk, naby Klapmuts in die Boland – en die roerende videoboodskap van sy vriend Chris Loubser kort daarna – wat ’n vlaag protes ontketen het.

In ’n land waar almal oor alle grense heen onder misdaad deurloop, het Joubert, wat sy vrou, Marlene, en hul kinders, Hannes (15) en Jana (11), agterlaat, oornag die gesig geword van die emosionele kwessie van plaasmoorde en ’n boeregemeenskap wat beleërd voel.

Volgens die staat het ons nasionale moordsyfer toegeneem van 18 673 in 2016 tot reeds 19 016 vanjaar. Dis 343 moorde meer, oftewel ’n toename van 1,8%. Die polisie teken geen afsonderlike statistieke oor plaasmoorde aan nie, maar talle organisasies hou hul eie statistieke wat van mekaar kan verskil.

Volgens die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS) het plaasmoorde tussen 2012 en 2016 met 33% toegeneem. In 2017 het 70 mense reeds hul lewe in plaasmoorde verloor, reken die ISS. Die burgerregteorganisasie AfriForum se statistieke wys daar was vanjaar landwyd reeds 74 plaasmoorde en volgens die landbouorganisasie TLU SA 66.

Die politieke ontleder Piet Croucamp maan dat moord ’n misdaad is wat almal raak en nie verpolitiseer moet word nie.

“Die groot probleem is dat die statistieke en data wanaangepas word vir politieke doeleindes of ’n spesifieke politieke agenda. So dra dit nie werklik by tot ’n oplossing vir misdaad of plaasmoorde nie.”

Ook dr. Louis Meintjies, TLU SA-president, sê plaasaanvalle is nie ’n rassevraagstuk nie. “Dit raak swart en wit boere en plaaswerkers en almal se naasbestaandes.”

Maar dr. Anthea Jeffery, hoof van beleidsnavorsing by die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudings, sê rassespanning en die kwessie van grondbesit kan wel bydra tot die gewelddadigheid van plaasaanvalle.“Boere word daarvan beskuldig dat hulle hul werkers sleg behandel en die grond gesteel het.”

Grondbesit sou kort ná ons druktyd weer in die kollig wees met die bekendmaking van Agri SA en ons sustertydskrif Landbouweekblad se nasionale grondoudit. Rapport het berig dié verslag sou onthul 26,7% van landbougrond is nou in swart en bruin besit.

Op Maandag 30 Oktober, die dag toe duisende stedelinge en dorpenaars swart gedra het of saam met boere in voertuigkonvooie na saamtrekke in Kaapstad, Bloemfontein en Pretoria opgeruk het, het Huisgenoot by ’n boer gaan aanklop om te hoor: Hoe voel dit om vandag ’n boer in Suid-Afrika te wees?

Dit is toe dat ’n 47-jarige boer van Limpopo, wie se pistool altyd op sy heup of onder sy kopkussing is, hart oopmaak oor die vrese wat boere vandag ervaar. Hier deel hy in sy eie woorde hoe dit voel om daagliks op ’n plaas met onsekerheid en angs saam te leef:

Dis in my bloed

"BOER is in my bloed. My pa was ’n boer. My oupa was ’n boer en my oupa se pa ook. Ek boer al my lewe lank.

Ek het op die familieplaas naby Standerton grootgeword, maar het 12 jaar gelede die plaas naby Louis Trichardt gekoop, waar ek en my vrou boer. My dogters word op die plaas groot. My vrou se familie boer ook.

'Ek is lief vir my land. Hoekom moet ek in ’n ander land gaan boer? Ek is hier om te bly.'

My buurman is einde verlede jaar in die oprit van sy huis vermoor nadat hy teruggekom het van ’n ete af. Nog ’n buurman is die jaar voor dit met ’n ­hamer doodgeslaan. Dis nie lekker nie. Jy weet nie wanneer dit jou beurt is nie. Plaasaanvalle kan voedselsekerheid in gedrang bring. Hoekom moet ek boer en heeltyd oor my skouer kyk?

Maar ons kyk boontoe en weet waar ons hulp vandaan sal kom. Ek is lief vir my land. Hoekom moet ek in ’n ander land gaan boer? Ek is hier om te bly.

Laatmiddag wanneer ek by die huis kom, maak ek seker die veiligheidshek is gesluit. Ek kyk dat al die kameras werk. Toets die radio’s. Dis dan nog voor donker. Ek maak seker die alarm is geaktiveer, en daarna gaan ek nie weer uit nie.

Benewens die veiligheidsomheining en -hek om die huis en veiligheidsdeure is daar ook metaalskerms voor die vensters. Wanneer ek saans iets hoor en ek kan niks op die kameras sien nie, gaan ek ook nie uit nie. Ek is nie dom nie. Ek sal liewer my buurman of die plaaswag bel.

Ons eet en doen huisgodsdiens en bid vir ons veiligheid. Soggens is ons almal dankbaar as daar nie ’n voorval was nie. ’n Aanvaller moet jou nie langs jou bed wakker maak nie . . .

Die onrustigheid bly maar in jou agter­kop. Dit bly ’n bekommernis; dis onaangenaam. Dis nie altyd maklik om jou vrou en kinders by die huis te los en te ry nie.

Ons is genadiglik nog nie self aangeval nie. Ek kan my nie indink deur watter trauma die mense gaan nie. Ongelukkig hoor die kinders daarvan en dit maak hulle angstig en bang.

' 'n Vuurwapen is deel van my daaglikse kleredrag.'

Ek en my gesin het wel ’n gebeurlikheidsplan as ons aangeval word. Ons oefen die plan, want die kinders moet weet waar hulle kan skuiling soek as iets gebeur. Ons oefen dit nie te gereeld nie, want ons wil die kinders nie bang maak nie. Maar dis moeilik om vir elke situasie ’n strategie uit te werk.

Ek is nooit sonder ’n vuurwapen nie. Dit is deel van my daaglikse kleredrag. Ons hou altyd ons vuurwapens byderhand. Ons hou ook gereeld skietsessies waar ons die vroue oplei om te skiet.
Die plaaswagstelsel is nou al so vyf jaar in werking. ’n Groot klomp ouens in die distrik neem deel.

Ek het nie ’n veiligheidswag op my plaas nie; ek en die ander boere ry ­gereeld padpatrollies. Ons ry nooit alleen nie. Daar moet altyd iemand saam met jou wees. Ons het ook kameras op die plaaspaaie opgerig; dit word 24 uur per dag gemonitor.

Die wete van die veiligheidsmaatreëls by die opstal maak my darem gerus wanneer ek patrollie ry. Ek weet my vrou kan ’n vuurwapen so goed soos ek hanteer.

'Ons oefen die gebeurlikheidsplan nie te gereeld nie, want ons wil die kinders nie bang maak nie.'

Ons boere van die plaaswagstelsel werk saam met die polisie om misdaad te bekamp. Die stelsel werk goed. Ons is almal op mekaar aangewese. Almal kyk na almal en almal is dag en nag ­beskikbaar.

Dit moet verskriklik wees (wanneer jy ’n plaasaanval ervaar.) Dit sal jou emosioneel knak. Jy kan my selfoon vra, en ek sal jou dit gee, maar los asseblief net my kinders uit."