Fanie Erasmus het sy hele plaas verloor. Hy het ge
Fanie Erasmus het sy hele plaas verloor. Hy het geen heenkome vir sy beeste nie. Foto: Gallo Images/Onkgopotse Koloti

Die aarde is verskroei in ’n vlammehel wat verlede maand ’n spoor van verwoesting gelaat het, weivelde verwoes het, mens en dier se lewens bedreig en boere verslae laat staan het.

“Hier is niks meer oor nie,” sê Fanie Erasmus (65) op sy plaas sowat 10 km buite Warrenton.

Hy is een van die boere in die Noord-Kaap wat swaar getref is deur verskeie brande wat verlede maand daar en ook in dele van die Vrystaat en Noordwes uitgebreek het.

Dit word as die ergste brandskade in vyf jaar op Vrystaatse plase beskou, sê Jack Armour, die operasionele bestuurder van Vrystaat Landbou.

Minstens 100 000 ha het in dié provinsie afgebrand en tussen 600 en 1 000 beeste en duisende skape en wild het doodgebrand. Ook die dood van klein wildsoorte soos skilpaaie is ’n groot verlies, voeg hy by.

In die Noord-Kaap het sowat 2 000 diere volgens voorlopige ramings doodgebrand en sowat 30 000 ha – hoofsaaklik weiding – in die slag gebly, sê Nicol Jansen, die president van Agri Noord-Kaap. 

‘Die brandslang was klaar op die bakkie, en ek het
‘Die brandslang was klaar op die bakkie, en ek het plaas toe gejaag. Toe ek hier aankom, is die helfte van my plaas al weggebrand’. Foto: Verskaf

Op Fanie se plaas het die vlamme net sy opstal gespaar. Ál 1 200 ha het afgebrand.

“Jy sien net hierdie helse vlamme wat so hoog soos jou huis is, en dit kruip ál nader,” vertel hy terwyl ’n tiptol benoud ronddans in die swart geraamte wat van ’n boom oor is.

Dan, asof hy tot verhaal kom en die niksheid om hom vir die eerste keer tot hom deurdring, begin hy hortend huil. 

Derduisende hektaar se grond is weens die brande v
Derduisende hektaar se grond is weens die brande verwoes. Foto: Verskaf

“Jy dink jy gaan alles verloor; jou huis ook. Ek het maar ’n paar goedjies – klere en benodighede – in my bakkie gelaai en weggery,” sê die groot boer in sy kakiebroek en vellies wat nou met sy ruwe hande die trane moet wegvee. 

Genadiglik het die wind weer gedraai en die vuur in ’n ander rigting gestuur. Fanie se huis is onaangeraak deur die vlammesee. Maar vir sy 120 beeste het hy nou geen weiding nie, en hy weet nie waar die geld vir voer vandaan gaan kom nie. 

“Al reën dit môre en begin die gras weer groei, gaan dit maande vat voor die veld weer geskik is vir weiding,” sê hy. “Dit reën nie gras nie.”

’n Vuur met ’n wil van sy eie 

Die brand op Warrenton het op 14 Oktober ’n paar kilometer noord van Fanie se plaas begin. Oor die oorsaak daarvan word druk bespiegel, maar teen druktyd was die oorsaak nog nie bekend nie. 

Die vuur het vroegmiddag uitgebreek, en met sterk rukwinde wat dit voortdryf, het die muur van vlamme gou onbeheerbaar geraak. 

Fanie het sy buurman, Faan Greyling (64), te hulp gesnel en by hom begin vlamme doodslaan.

Maar die vuur het asof met ’n wil van sy eie alles in sy pad vernietig.

Ook Faan se plaas aan die oewer van die Vaalrivier is nie gespaar nie.

Faan Greyling op sy plaas buite Warrenton
Faan Greyling op sy plaas buite Warrenton. Foto: Onkgopotse Koloti

Hier het hy vir hom ’n stukkie hemel op aarde uitgebeitel, pekanbome geplant en ook met wild en beeste geboer.

“Ek was in Kimberley toe ek van een van die boere ’n oproep kry dat dit brand,” vertel hy. 

“Die brandslang was klaar op die bakkie, en ek het plaas toe gejaag. Toe ek hier aankom, is die helfte van my plaas al weggebrand.” 

Honderde hektaar is verwoes en die pekanbome deur die geweldige hitte geskroei. Hy kon gelukkig sy vee red, al het hy ’n paar blesbokke en springbokke verloor.

“Ek is eintlik geweldig gelukkig,” sê die boer ondanks die verliese wat hy gely het.

“En met God se genade het my huis bly staan.” 

Die vuur het sowat 40 m van sy huis afgedraai na die oewer se kant toe.

Maar toe kry die vlamme nuwe krag van ’n suidewind. 

“Dit was asof die vuur verstand gehad het. Toe waai hy na Fanie se plaas toe, en hy moes toe jaag om sy beeste te red,” vertel Faan.

“Ek kry hom verskriklik jammer.”

’n Gemeenskap vat hande 

So wyd en oop as wat die vlaktes in hierdie wêreld lê, net so wyd en groot was die Here se genade vir dié boere, hoor jy. 

Vir Fanie was daar uitkoms toe ander boere weiding vir sy beeste aangebied het.

“Ek het klaar plek vir 30 van my beeste gekry. Dis waarheen hulle nou op pad is,” sê hy en beduie na ’n sleepwa waarop sy kalwers gelaai word.

Op Boshof in die Vrystaat sien jy die hooibale en lusernbale op ’n lappie grond uittoring.

“Hier het voer van reg oor die land gekom – van Nigel, Cullinan tot Pietermaritzburg,” vertel Johan Steenkamp (51) die plaaslike takvoorsitter van AfriForum by hul voerbank. 

Hier lê 2 000 hooibale en 1 800 lusernbale reg om uitgedeel te word. Hulle het ook sowat 30 t se rantsoene – van blikkieskos tot beet en wortels – vir boere in nood ontvang. 

Ook Susna (43) en Jaco Botha (49) se plaas, Gunstig, in die Boshof-distrik het oornag in ’n voerbank verander. 

“Toe die brand plaasvind, het my foon nie ophou lui van mense wat voerskenkings wou maak nie,” vertel Susna. 

Sy is nie seker hoeveel voerbale daar nou op hul werf staan nie, maar hulle neem gereeld skenkings vir boere in die distrik. 

Susna en Jaco Botha se plaas het oornag in 'n voer
Susna en Jaco Botha se plaas het oornag in 'n voerbank verander. Foto: Onkgopotse Koloti

Hulle het self groot skade gely op hul plaas waar 730 ha van die 1 000 ha afgebrand het.

“Ons het van 12-uur tot halfnege die aand die brand bestry,” vertel Susna.

“Later is jy moedeloos. Jy wil net in jou bakkie sit en die brand sommer alles laat verswelg, maar jy kan nie. Jy moet aanhou veg.” 

Terwyl sy en Jaco bly spook het om die vlamme in bedwang te bring, was hul dogtertjie, Gitè (3) by haar ouma, Trudie Pieters, ’n paar kilometer daarvandaan. 

“Toe my ma sien die vlamme is op pad na hulle toe, het sy vir my dogtertjie gesê hulle gaan piekniek hou,” vertel Susna.

“Sy het vir hulle klere gepak, ’n bottel water gevat en ’n kombers natgemaak. Sy was gereed om te vlug.” Maar wéér het die wind gedraai en net die roosbome in haar voortuin is verskroei. 

Al kon Susna en haar man betyds hul vee uit die brandgebied jaag, gaan hulle nog maande lank onder nagevolge van die brandskade ly. 

“’n Droogte verwoes jou bietjie vir bietjie,” sê Jaco. Week ná week gaan die veld agteruit. Maar met ’n brand word jou grond binne ’n dag verwoes.”

Dan voeg hy by: “Maar geeneen van hierdie boere gaan moed opgee nie. Hierdeur sal ons ook kom.” 

Almal is helde 

Al is dit hóé hartverskeurend vir ’n boer om te sien hoe sy weivelde, sy diere en selfs sy opstal deur vlamme verteer word, is die heel ergste gesig om jou kind in vlamme gehul te sien.

Die een oomblik het Gerhard Nel (56) en sy seun, Tewie (25) nog op Maandag 19 Oktober op hul veeplaas buite Hertzogville in die Vrystaat vlamme doodgeslaan.

Toe steek ’n dwarrelwind skielik op en Tewie word deur die vlamme vasgekeer. 

“Hy het probeer wegkom,” vertel sy pa aangedaan.

“Toe val hy. Hy’s my seuntjie – al is hy 25 jaar oud – maar hy het so amper doodgebrand.” 

Gerhard kon hom uit die vuur red en met hom hospitaal toe jaag.

Tewie Nel van Hertzogville het brandwonde oor die
Tewie Nel van Hertzogville het brandwonde oor die helfte van sy lyf opgedoen. Foto: Verskaf

Tewie het derdegraadse brandwonde oor byna die helfte van sy liggaam – sy gesig, rug, arms en bene – opgedoen.

“My kind is in die neuro-intensiewesorgeenheid opgeneem en aan ’n ventilator gekoppel. Ek was tot drie jaar gelede nog ’n ortopeed – die ergste is om aan die verkeerde kant van die bed te staan.”

Tewie is drie dae later van die ventilator afgehaal. Hy moet veloorplantings ondergaan en was teen druktyd nog swak. 

“Jong, vir ’n pa om sy seun so te sien . . . Dit breek jou,” sê Gerhard.

“Hy is my enigste kind. Die wete dat ’n infeksie nou enige oomblik sy lewe kan neem, breek my in duisend stukke. Ons probeer net deur elke dag kom – om nie konstant te vrees dat hy nie gaan leef nie.” 

Op Gerhard se plaas is meer as 5 000 ha weiveld verwoes.

“Jy is kwaad wanneer weerlig die veld aan die brand slaan. ’n Mens vra vir God: ‘Sien jy dan nie hoe ons net probeer oorleef nie?’Tog sê Gerhard dit bied hoop om te sien hoe gemeenskappe saam opruk om teen die brande te baklei.

“’n Mens kan die Here se hand op soveel plekke sien, soos waar ’n kalf in die veld lê met die veld wat om hom afgebrand het, maar hom ongeskonde gelaat het. Hoe gebeur dit? Daar is geen logiese verduideliking nie.”

Die gemeenskap van Hertzogville span nou saam om vir Tewie te bid, vertel hy.

“Hulle is helde – elkeen van die mense wat op enige manier help of betrokke is. Wat die komende weke vir ons inhou, weet niemand nie. ’n Mens is seer. Jy is kwaad.

“Tewie se meisie sou oor ’n week by hom kom kuier het. En nou lê hy in die hospitaal. Dis wat die seerste maak. Want jy weet dit sál weer reën, die gras sál weer groei, maar die letsels – fisiek en emosioneel – sal bly.”

Twee Vrystaatse boere is erg in die brande beseer en was teen druktyd nog in die hospitaal. En ’n boer van Soutpan is beseer toe hy van sy motorfiets afgeval het terwyl hy brand geslaan het, vertel Jack en voeg by: “Dank die Here niemand is oorlede nie.”

Die brande het op Vrydag 16 Oktober eerste in Boshof uitgebreek nadat ’n werker glo met ’n hoeksnyer in die veld gewerk het. 

Sowat ’n kwartmiljoen hektaar weiding is verwoes d
Sowat ’n kwartmiljoen hektaar weiding is verwoes deur die brande wat in die Wes-Vrystaat en Noord-Kaap gewoed het. Foto: Mlulngisi Louw/Netwerk24

“Sondag die 19de het dit toegeneem toe betogers in Hertzogville wat bande en ’n Jojo-tenk aan die brand gesteek het ook per ongeluk die meentgronde aan die brand gesteek het,” vertel hy. Ander brande het meestal weens natuurlike faktore soos weerlig ontstaan. Die droë toestande, hittegolf en sterk winde maak die provinsie nou baie vatbaar vir brande, sê Jack.

Die brande in die Noord-Kaap is in baie gevalle deur weerlig veroorsaak. Ook hier het die sterk winde tesame met baie droë gras en hoë temperature veroorsaak dat hulle vinnig versprei, sê Nicol van die Noord-Kaap, waar die Warrenton-, Kimberley- en Koopmansfontein-gebiede die ergste geraak is.

Baie boere is nie seker waar hulle voer vir hulle
Baie boere is nie seker waar hulle voer vir hulle vee gaan kry nie. Foto: Verskaf

Boshof is die distrik in die Vrystaat wat die grootste skade gely het, gevolg deur Hertzogville, Dealesville, Hoopstad en Bultfontein.

Ook in Noordwes het groot brande tussen Vryburg en Schweizer-Reineke gewoed.

“Die grootste skade is in die Vrystaat aan veegrond aangerig,” sê Jack.

Hy voorspel dit gaan die veld minstens drie jaar neem om “ordentlik te herstel.” Die brande was ’n groot terugslag vir baie boere.

“Ná die langdurige droogtetoestande van die afgelope sewe jaar was boere reeds in finansiële moeilikheid. Nou is hulle verpletter, maar ons het hoop danksy al die skenkings wat reeds ontvang is."  

Die hoop beskaam nie 

Ook op die plaas Sydney’s Hope in die Warrenton-distrik, beskaam die hoop nie, al het Sydney Hunt en sy vrou, Cynthia, 3 000 van hul 3 400 ha verloor. 

Die 73-jarige boer het vir agt dae aaneen die brande bestry, terwyl Cynthia (72) die ure omgebid het.

“Jy sit hier en jy kan nie slaap nie; jy kan nie eet nie. Jy hoop en bid net jou man is veilig. Jy is elke keer verlig wanneer hy by die deur instap,” vertel sy.

Maar toe begin die vlamme ál nader aan hul plaasopstal kruip.

Cynthia het die tuinslang gegryp en die bome begin natspuit in die hoop dat dit die vlamme sou keer. 

Toe, met genade van Bo, draai die vuur wéér en spaar hul huis.

Sydney Hunt het die grootste deel van sy plaas ver
Sydney Hunt het die grootste deel van sy plaas verloor. Foto: Onkgopotse Koloti

“Ek was vir dae daarna ’n senuweewrak,” erken Cynthia. 

Al staan hul huis nog, het die veld ontsettende skade gely.

“Ek sit nou met 320 beeste wat nuwe weiding moet kry,” sê Sydney. Maar hy bly hoopvol.

“Ons sal nie gaan lê nie. Dit gaan ons nie onder kry nie. Net soos die nuwe groen gras wat uit die as gaan groei, gaan ons ook opstaan en weer boer.” 

Jy ruik die dood in die lug 

Baie van die boere het ook groot aantal vee verloo
Baie van die boere het ook groot aantal vee verloor. Foto: Mlungisi Louw

Vir Hannes de Jager (59), ’n veeboer en veiligheidskoördineerder van Hertzogville, het dit gevoel of hy hom op ’n slagveld bevind toe hy ’n week lank saam met ander boere die verwoestende brande bestry het.

“Bo jou raas helikopters en vliegtuie wat water sproei, voor jou is die vlamme meters hoog. Almal is moeg en afgemat, maar jy kan nie ophou nie – die brand sal álles voor hom vernietig.” 

 Baie boere is nie seker waar hulle voer gaan kry
Baie boere is nie seker waar hulle voer gaan kry om die kuddes beeste en skape wat hulle oorhet te voer nie. Foto: Gallo Images/Onkgopoto Koloti

Op veldgrasterrein was die vuurtonge tot oor die 3 m hoog, en in bebosde gebiede tot 6 m, vertel hy.

“Jy ruik die dood in die lug. Jy kyk na die manne daar op die veld, en jy weet hulle voel nes jy – hulle sukkel ook om aan te gaan.

“Maar nes jy dink aan asemskep, kyk jy hulle in die oë – manne wat 100 beeste verloor het, boere wat duisende hektaar weiveld verloor het.

Dan hou jy maar aan baklei, want jy weet: Ons is almal saam in hierdie ding.”Hannes sê jy kan die gebrokenheid op die gemeenskappe se gesigte lees.

Die vlamme het Hertzogville na ’n slagveld laat ly
Die vlamme het Hertzogville na ’n slagveld laat lyk, sê Hannes de Jager. Hy en sy seun, Ockert, het dae lank die brand bestry. Foto: Verskaf

“Hulle is moeg; almal van ons is. Die brande het ’n week lank so voortgeduur. Jy baklei elke dag tot in die vroeë oggendure. “Nes jy weer moed kry en dink dis nou verby, kom jy bo-op ’n koppie en sien jy die brand trek al weer 5 km ver. Langs jou is skilpaaie en voëltjies doodgebrand. Die reuk van vrektes hang in die lug. Dis hel – dis al hoe ek dit kan verduidelik.”

Van Boshof se inwoners het tot lank ná middernag toebroodjies en koeldrank vir die brandbestryders aangedra.

Kettingbidgroepe is in die gemeenskap en sy omliggende gebiede gestig, vertel ds. Andreas van Rooyen van die NG kerk Boshof. 

Ds. Andreas van Rooyen van die NG kerk Boshof sê v
Ds. Andreas van Rooyen van die NG kerk Boshof sê vrywilligers het dae lank water en kos vir die brandbestryders aan­gedra. Foto: Facebook

“Jy vra vir God: Help ons om logies te dink. Wat kan ons doen? Hoeveel kan ons red? En dan spring almal in.” 

“Sommige mense het tot verder as 15 km agter hierdie brande aangery om dit te probeer keer. Mense het van ver gekom om te help,” vertel hy.

“Ons het baie verloor, ja, maar ons het ook weer besef watter krag daar in die gemeenskap lê.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe