Sy is óók ’n slagoffer van die droogte wat die af­gelope tyd ’n groot deel van die land in ’n moordende wurggreep het, met beelde van die barre aarde sonder ’n sprietjie weiding, desperate boere wat spartel om te oorleef en uitgeteerde plaasdiere wat op die dood lê en wag.

Want in die versengende beklemming van ’n skynbaar eindelose droogte is daar dikwels ’n vrou wat die plaasboer se las help dra.

Wanneer nog ’n dag sonder ’n teken van wolke op die horison of die reuk van reën in die lug verbygaan, wag sy hom in met woorde van bemoediging.

Sy is die een wat moet troos wanneer die hartseer oor sy diere se lyding hom oorweldig; die een wat huis en haard bymekaar probeer hou terwyl elke dag ’n stryd is om oor­lewing.

Noord-Kaap droogte
Droogte knel boere nou al jare lank. Foto: Corrie Hansen

Terwyl die boer planne beraam om voer vir sy verhongerde diere te kry, voer sy vrou soms haar eie stryd om die ­honger monde om die etenstafel te voed.

Die brood sny sy in dunner snye sodat daar iets vir môre kan oorbly. ’n Peiling wat in die droogte­geteisterde Carnarvon-distrik in die Noord-Kaap gedoen is, wys hoe hoog die nood in talle plaashuise is.

“Die tannie van die vrouediens van die NG Kerk het vir elke boervrou gevra om twee dinge te noem wat hulle tans die graagste wil hê,” vertel Sybrand Venter (33), ’n boer van die plaas Trywell in dié streek. 

Noord-Kaap droogte
Sybil Visagie het die hulp­organisasie Save the Sheep begin wat ander boere in die land help om soos sy en haar man, Jan, hul vee op hul plaas in die Noord-Kaap te voer om aan die lewe te bly in die droogte. Sy is nie bang om ’n swaar sak kos op haar skouers te dra nie. Foto: Facebook
Noord-Kaap droogte
Sybil en haar man, Jan. Foto: Facebook

Die topdriedinge op die vroue se wenslysies? Koffie, kondensmelk en Weet-Bix – dinge wat in menige huis as vanselfsprekend aanvaar word. In dié klimaat skuif boervroue se eie behoeftes dikwels tot heel laaste op die lys.

’n Afspraak by ’n haarsalon word ’n luukse wat sy haarself nie kan gun nie; lekkerruikgoed is iets waarvan sy net kan droom.

Terwyl die ergste droogte in ’n eeu in groot dele van die Noord- en Oos-Kaap bly woed, skuif die kollig daarom nou ook na boervroue en hul behoeftes, blyk uit die pleidooi van Juanita Loubser van die Vroue-­Landbouvereniging op Wellington in die Wes-Kaap.

Dié organisasie het ­onlangs met die Boks-vir-’n-Boervrou-projek begin om geskenk­pakkies in te ­samel om dit aan vroue in droogtegeteisterde gebiede uit te deel.

Die versoekskrif sluit eenvoudige bederfgoed in, maar ook die basiesste gebruiksitems: seep, skeermesse, soppoeier.

“Vroue is die rots en hoeksteen in ­menige huis,” sê Juanita oor die rol wat vroue op plase speel.

“Sy is die een wat op die plaas agterbly as haar man op die dorp gaan werk; sy is die een wat die diere moet versorg en die grensdraad inspekteer, wat moet staande bly te midde van chaos . . .” En sy is die een wat dikwels stilweg swaarkry.

Salona Botha (60) van die plaas Swaelfontein naby ­Carnarvon in die Noord-Kaap leef al van kleins af met periodieke droogtes saam.

“My ouers het geboer, en in 1959 toe ek gebore is, was dit ook so ­aggressief droog. Ek het tot op tweejarige ouderdom saam met hulle in ’n karavaantjie gebly terwyl hulle met die vee rondgetrek het op soek na weiding,” ­vertel sy.

“Maar hierdie droogte, sê my moeder wat nou al 81 jaar oud is en ver­skeie droogtes saam met my pa in haar lewe trotseer het, is die ergste in haar leeftyd.”

Die dorre Karoobossies wat aan die lewe probeer bly, die springbokke wat bly lê van die honger en dan maar van kant gemaak moet word en die leë skilpaddoppe wat in die veld rondlê, dryf haar meer as een keer per dag tot trane.

Sy kry nie meer tyd om te dink aan “vrouwees” nie, vertel Salona, die ma van drie volwasse seuns.

“Ons is in elk geval geslagsneutraal as dit by werk kom. My man sal kos maak en huishou wanneer ek moet gaan voer gee.  

“Ek weet mos ons veg om oorlewing; ek gaan nie nou vir myself bederfies gun nie, behalwe as my man en seun ook so ’n vergunning kry,” sê sy van haar jongste seun wat by die boerdery betrokke is. 

“Ons is spanmaats. Ons werk soos ’n voorry – skrum saam. En as die ma-ter die dag ’n bietjie swak lyk, gee ons ­mekaar af om ’n bietjie asem te skep.” Die boervroue in dié omgewing staan mekaar by, vertel sy. 

“Ons vroue het ’n WhatsApp-groep waar ons mekaar geestelik bemoedig en elke dag vir ’n boer in ons omgewing by naam bid. Ons maak mekaar ook voortdurend daarvan bewus om uit te kyk na simptome van uitbranding en depressie,” vertel sy.

“Droogte is ’n gelykmaker. Niemand is meer ryk of arm nie, en niemand gee om wat die ander ou se velkleur is nie, want ons gemene deler is ons liefde vir die ­diere. Ons almal help mekaar sodat ons weer die diere kan help.”

Op die plaas Middelplaas naby Aberdeen in die Oos-Kaap vertel die boervrou Tanya van der Merwe (39) sy het al haar twee seuntjies, Liam (7) en Ryan (3), hoor sê: “Pappa, ons wil nie boer nie.”

In die Oos-Kaap trotseer Tanya van der Merwe en haar man, Albert, die droogte saam met hul seuntjies, Liam (agter) en Ryan (op haar skoot). Foto: Facebook
Noord-Kaap droogte
Tanya van der Merwe en haar man, Albert en hul kinders. Foto: Facebook

“Dis oor al die hartseer wat hulle om hulle sien,” verduidelik sy. “Ons bly tussen die berge, en selfs die bobbejane kom hier water soek. Dis dooie skilpaaie en wild waar jy kyk,” skets sy die hartver­skeurende tonele op die plaas. 

Tanya, ’n “stadsmeisie” van Pretoria, woon al 10 jaar saam met haar man, ­Albert (41), op die plaas, en beaam vroue se behoeftes word noodgedwonge op die agtergrond geskuif.“My vroulikheid is weg,” sê sy.

“As daar cuts gemaak word, is dit by ons vroue. No more pampering,” vertel die Engelse nooi.Maar “dis regtigwaar ’n klein prysie om te betaal om ons mans by te staan”, ­beklemtoon sy.

Op Aberdeen het hulle ook “ ’n sterk groepie vroue” wat mekaar ondersteun. “Dit help om by mekaar te kla,” erken sy. 

Tog bly sy hoopvol. “Ons sal hierdeur kom om weer by die goeie tye uit te kom.”

In die Karoo ken ons droogte. Ons huil nie as dit twee jaar lank duur nie. Maar dit gaan nou al sewe jaar lank aan,” vertel Sybil Visagie (52) van die plaas Rooipoort naby Sutherland in die Noord-Kaap.

“Die boere het nou al hul voerbanke leeggemaak en ook beleggings laat uitbetaal. Baie moet ’n tweede verband op ’n huis uitneem om aan die gang te bly.” Om ander sukkelende skaapboere te help, het sy met die Save the Sheep-­projek begin.

Dié projek reël dat voer van elders onder die behoeftige boere uit­gedeel word.Vir die boere is voerskenkings soos “All Pay”, oftewel ’n staatstoelae, sê sy. 

“Dis nie altyd lekker om van ander ­afhanklik te wees nie, maar ’n Karoo-boer staan vir God en grond.” Terwyl die boer spartel om sy boerdery aan die gang te hou, is sy vrou dikwels sy steunpilaar, vertel Sybil.

“Wanneer jou man van die hitte, stof en ellende van die voerplek terugkom, moet jy as vrou vir hom ’n veilige hawe by die huis wees,” verduidelik sy.

In talle huishoudings gaan dit beroerd, benadruk sy. “Daar is in baie plaashuise nie meer koffie en suiker nie. Nie eens die dominee kry ’n koppie koffie nie. Die boervroue moet ’n snytjie brood dun sny sodat daar môre nog is. 

“Die vroue op die plaas wat lammers hans grootmaak, moet nou wegdraai van die uitgehongerdes en hulle die veld in stuur sodat die natuur hulle maar moet vat.”

Die hartseer in haar stem is hoorbaar.“Ons is moeders en versorgers. Om dit te doen vat nie net aan jou hart nie, maar ook aan jou siel . . .”

Sybil en ander vroue in die distrik het skapies begin brei om weldoeners en skenkers soos dr. Imtiaz Sooliman van Gift of the Givers te bedank.

Dié nood­lenigingsorganisasie het al R200 miljoen aan droogtehulp bestee. Die boodskap by die skapies lui: “Ek leef danksy jou.”

Vanaf die Noord-Kaapse dorpie ­Vanwyksvlei vertel Lya Sacco (67), vrou van die boer Dirk Sacco, sy moet deesdae drie keer per week as huishulp werk om hulle te help kop bo water hou.

Noord-Kaap droogte
Sy moet drie keer per week as huishulp werk om hul geld tydens die droogte aan te vul, vertel Lya Sacco van Vanwyksvlei. Langs haar is haar boerman, Dirk. Foto: Facebook

“Dit maak my baie seer om te sien hoe swaar my man kry. Ek lê nagte wakker. Dan staan ek op en ons bid, want dan is my man reeds wakker.“Ons vra die Here om in die dag saam met ons te wees.”

Sy en Dirk ken mekaar al 41 jaar, ­waarvan hulle 31 getroud is, en het drie ­volwasse seuns.

Noord-Kaap droogte
Vissie Langner en haar man, Dirk, hou mekaar positief om in die droogte staande te bly. Foto: Facebook

“Omdat ons wederge­bore kinders van God is, glo en vertrou ons dat die uitkoms naby is en dat God sal voorsien. Ons wil ook aan al die ­boere vra om nie hoop te verloor nie – God sien ons pyn; Hy het ’n plan.” 

Op die plaas Kareekop naby Williston in die Noord-Kaap woon Vissie Langner (67) en haar man, Dirk, al die afgelope 48 jaar.

“Ons is nie daaraan gewoond om hulp te vat nie. Maar dit is ’n ongewone droogte dié,” sê Vissie.

“’n Mens weet nie meer wat om van die Here te bid nie . . .

“Ons hoef nie skape minder te maak nie; die droogte doen dit. Hulle bly net lê.

“Dit is en bly hartseer om my man by die deur te sien inkom, moedeloos ­omdat hy weer twee of drie skape moes begrawe. Daar is nie meer erdvarkgate oor om die karkasse in te sit nie. Dan moet ek hom moed inpraat: ­‘Pappa, gee net kans.’ Die hoop beskaam nie.”

Sy gaan saam met haar man veld toe om eerstehands te beleef wat hy alles daar sien. “Sondae gaan gee ons saam voer.”

Hulle besluit ook saam hoe om geld te spaar. “Om moed op te gee is nie ’n opsie nie,” verduidelik sy.

Dit is weer hul eerste droogte saam, sê Emsi van Niekerk (28), wat die afgelope twee jaar saam met haar man, Jaco (28), op die plaas Geelputs in die Williston-­omgewing boer.

Emsie en haar man
Emsi van Niekerk is op die bestuur van Williston se boere-unie. Sy boer saam met haar man, Jaco, op ’n plaas wat lank laas reën gesien het. Foto: Facebook

“Ek ken niks anders op hierdie grond nie. Die hartseerste is as die ooie met lamtyd nie kan melk gee nie.” 

Sy moes al ’n tweeling lammers hans grootmaak by die huis, vertel die boervrou wat ’n B.Sc.-graad in landbou-­ekonomie met veekunde aan die Universiteit Stellenbosch verwerf het. Sy is ook die voer-en-vervoer-koördineerder van die plaaslike landbou-unie se droogtehulpprojek.

Dan moet ek hom moed inpraat: ­“Pappa, gee net kans.” Die hoop beskaam nie’
 

“Die droogte het my en my man nader aan mekaar gebring. Ons moet saam moed skep vir môre, nog ’n dag sonder reën.

“Ons bemoedig mekaar deur planne te maak en te glo en vertrou dat die reën wel eendag weer sal kom. Maar dit moet gouer as later wees, want almal se ­planne is besig om op te raak . . .”

Snags wanneer sy die jakkalse op hul plaas, Belmont, sowat 38 km van die Oos-Kaapse dorpie Bedford, hoor skree, lê Ria Moolman (50) weer wakker van kommer dat daar nou nog ’n ooi of lam ­minder is om vir hulle ’n inkomste te bied.

Haar man, Henry (51), was net vyf jaar oud toe hy saam met sy ouers op die plaas kom woon het. Sy woon al sedert hul troue 26 jaar gelede daar.

Hul seuns, Hennie (23) en Johan (20), studeer albei aan die Nelson Mandela-universiteit in Port Elizabeth.

Noord-Kaap droogte
Hulle woon saam met hul kinders, Mieke (3) en Willem (4), op die plaas Rietvlei. Foto: Facebook

“Die enigste geluid wat heeldag, soms tot laat in die nag, gehoor word, is die ­gedreun van die pompenjin wat water kampe toe moet stuur vir die vee,” vertel Ria. “Dit is hartseer om te sien hoe die veld verdroog, om te besef ’n boorgat het opgedroog . . .

‘Dit maak my baie seer om te sien hoe swaar my man kry. Ek lê nagte wakker. Dan staan ek op en ons bid, want dan is my man reeds wakker’

“Maar dan skep jy weer moed en besef ’n mens het darem nog mekaar . . . Ek het nou die dag vir my man gesê: ‘Jy weet, ek het nooit besef ons het sulke mooi klippe in die veld nie.’ ”

Dit was altyd haar droom om op ’n plaas te bly en haar kinders daar groot te maak, sê die boervrou Klara Steenkamp (32). 

Twee jaar gelede is dié wens vervul toe sy en haar man, Wilhelm (34), ’n voor­malige Blou Bul, op die plaas Rietvlei by ­Williston in die Noord-Kaap gaan nesskop het. 

Dit was nadat hulle ’n paar jaar in Australië was, waar hy vir die rugby­span Western Force uitgedraf het. Dit is vir haar hartseer om te sien hoe die knellende droogte boere laat tou opgooi.

“Maar ’n mens kan dit verstaan. Hulle het nie meer raad of finansies om aan te gaan nie. “En jy wil so graag help waar jy kan, maar jy het jou eie plaas en gesin om na te kyk,” sê Klara, wat hul derde kind in Maart verwag.

Te midde van die droogte probeer sy en Wilhelm om steeds tyd vir mekaar te maak. “Saterdae gaan ons gewoonlik saam veld toe as ’n gesin en help voer gooi. Dan braai ons ’n lekker worsie in die veld,” vertel sy.

“Ek is bevoorreg om ’n ongelooflik ­positiewe man te hê. Ek is seker hy het al baie donker tye beleef, maar hy los dit buite in die veld. 

“Hierdie situasie waarin ons ons ­bevind, is regtig ’n groot kopspeletjie. Ek weier dat dit my onderkry. Ek en my man kies elke dag om positief te bly. Ons groot reën is om die draai.”

  • Besoek die groep Boks vir ’n Boervrou op Facebook vir nog ­inligting oor dié projek wat bederfgoed en nood­saaklike items vir boervroue in droogtegeteisterde gebiede insamel.