Die kruis is op 16 Maart, ’n aand voor die gewone Sondag-erediens, tydens beurtkrag gesteel, vertel priester Clarke Anthony. “Op 16 Maart het ons tussen tienuur en middernag beurtkrag gehad op Stanford.

kruis
Die kruis wat gesteel is. Foto: Facebook.

"Alles was toe donker en dit het seker in daardie twee uur gebeur,” sê Clarke. Die Sondagoggend by die St. Thomas Anglikaanse kerk (Klipkerk) het die gemeentelede tydens die kerkdiens agtergekom die byna 500 mm hoë geelkoperkruis is nie op die altaar nie.

Dié kruis, wat meer as ’n eeu oud is, is aan die kerkgebou, wat al 139 jaar oud is, geskenk. “As mense na die kerk gekom het, het hulle dit altyd raakgesien. Dit is al baie jare deel van die kerk. Van die gemeentelede wat al ouer as 70 is, het die kruis in die kerkgebou gesien toe hulle destyds dienste hier begin bywoon het," voeg Clarke by.

Tydens die diens daardie Sondag het Clarke gedink die skoonmaker het dalk net vergeet om die kruis op die altaar terug te plaas, maar die skoonmaker het hom later ingelig hy het die kruis die Vrydag teruggesit. ’n Gemeentelid het toe opgemerk ’n klein kerkvenster is stukkend. Hulle glo dit is hoe die boewe toegang tot die geskiedkundige kerkgebou gekry het.

Clarke het die diefstal by die polisie op Stanford aangemeld. Die priester vind dit vreemd dat niks anders uit die kerk gesteel is nie. “Op die altaar was kershouers en ’n kollektebak van koper en dit is net so gelos. Dit is ongewoon," sê hy.

Sy gemeente is “baie hartseer,” sê Clarke. “Jy kan nie eintlik geldelike waarde aan so iets heg nie; dit is onvervangbaar. Dit het vir die gemeente baie spesiale sentimentele waarde.” 

Dit is die eerste keer dat die kerk onder ’n inbraak deurloop. “Dit het ons nou genoop om 'n alarmstelsel te laat installeer," sê Clarke. "Ons het dit op skuld gedoen, want ons het nie geld daarvoor nie. Ons sal nou geld insamel om die koste te dek. 

“Die kruis laat ’n groot leemte in die gemeente, maar ons moet met die werk van God aangaan,” sê hy.

Kapt. FC Van Wyk, ’n Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, sê daar is nog geen nuwe ontwikkelinge in die ondersoek na die gesteelde kruis nie. Die polisie het winkels deursoek wat tweedehandse artikels verkoop, maar dit het niks opgelewer nie.

Enigeen met inligting kan die Stanford-polisiekantoor by 028-341-0601 bel.